SA moet waak teen ‘fiskale afgrond’
SUID-AFRIKA moet ’n “fiskale afgrond” tot elke prys vermy vir ekonomiese oorlewing, het prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg, op die Rooivleis-abattoirvereniging (RVAV) se onlangse konferensie op die Spier-landgoed buite Stellenbosch gewaarsku.
Dit is die punt waar salarisse van staatsamptenare, plus rente van lopende staatskoste, plus maatskaplike toelaes die totale grootte van belasting wat ingesamel word, oorskry. Die huidige punt staan reeds op 70%.
Die land is weens verkeerde beleidskeuses en die staatskaping-eskapades van oudpres. Jacob Zuma ver van herstel ná die finansiële krisis in 2008. “Die toekoms van ons kinders is gesteel en ons gaan ’n opdraande stryd hê om dit te herwin.”
Hy sê die onstabiliteit van die politieke omgewing, asook die wisselkoers maak dit moeilik om in Suid-Afrika sake te doen. Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal vanjaar was darem 2,2% teenoor 1,3% verlede jaar.
Rossouw sê daar moet besef word dat inflasie nie ’n beleidsinstrument is nie.
Sedert 2002 is die gemiddelde inflasie van die land sowat 5,5% per jaar. Teen daardie koers verdubbel pryse gemiddeld elke 13 jaar. “Daarom is dit belangrik dat elke huishouding sy eie ‘inflasiekoers’ moet bereken om oorlewing te verseker.”
Sowat 44% van die belastinggeld in die land gaan nou aan salarisse vir staatsamptenare en dit kan nie bekostig word nie. Gratis hoër onderwys vererger sake verder.
SALF TE SMEER
Rossouw meen politieke sekerheid is die belangrikste wat nou verkry moet word. Dit is aspekte soos die grondkwessie, mynbeleggings wat gestabiliseer moet word, die verkleining van die Kabinet en die aankoop van slegs plaaslik vervaardigde voertuie vir die staatsvloot (ook vir ministers), die verkoop van onderpresterende staatseiendom, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, en die staking van bonusuitbetalings. Verder moet buitelandse beleggings gelok word. Skenkings aan buurlande beloop meer as 1% van die bruto binnelandse produk en dit moet verminder word.
“Die kwessie oor grondonteiening sonder vergoeding moet so vinnig moontlik opgelos word, want ekonomiese groei sal nie herstel voor dit gebeur nie.”
Vanjaar sal die swak ekonomiese groei na sy mening voortduur, asook swak dienslewering weens geldtekorte. Ekonomiese en politieke onstabiliteit sal ook nie ophou voor die 2019-verkiesing nie.
‘Die toekoms van ons kinders is gesteel en ons gaan ’n opdraande stryd hê om dit te herwin.’