Hart tot hart
’J’y moet meer gereeld my spreekkamer ‘besoek’,” het die geneesheer vir sy pasiënt – wat ook my vriend was – gesê en hom huis toe gestuur. Op my vraag hoe dié “meer gereelde” besoeke veronderstel is om plaas te vind, kon hy nie ’n reguit antwoord gee nie. “Tot nou toe was dit maar so af en aan. Eers was dit jaarliks en toe halfjaarliks,” het hy geantwoord. Blykbaar was dit nie genoeg om sy voor of agteruitgang te bepaal nie.
My goedbedoelde raad was dat dit verstandig is om uit te vind wat dit vir sy kalender beteken.
Baie hang natuurlik af van die verhouding waarin geneesheer en pasiënt tot mekaar staan. In die dae toe die ou huisdokter ook ’n familievriend was, was dit nie so moeilik om te besluit wanneer is dit tyd om ’n besoekie aan jou doktersvriend te bring nie. Die lewe binne gesonde en spontane verhoudings kan nooit genoeg waardeer word nie. Die gehalte van mense word dikwels deur sulke verhoudinge bepaal.
Dis opvallend hoe sterk die Woord van God staan op die lewe binne gesonde verhoudinge. Dis moeilik om lewe daarsonder te bedink. Mens en medemens hoort bymekaar soos die son en die lig.
In die samevatting van die Wet van God, wat ons leer om God lief te hê bo alles en ons naaste soos onsself, het ons ’n duidelike bevestiging hiervan.
As ons nou terugkeer na die term “meer gereeld” is dit duidelik dat ’n kalender nie die antwoord bied nie.
“Meer gereeld” word deur ’n leeftyd van gedurigheid bepaal en nie deur ’n “afenaan”verhouding nie.
Dink maar aan die huwelik. Dis onvolkome as dit nie konsante, volgehoue waardes onderhou nie. ’n Mens se godsdiens kan ook op die stippellyne van afenaan geskied, maar dis beslis nie goed genoeg nie.
Kom ons pas die woorde van die bekende kerklied op ons godsdienslewe toe: “Laat my met U verenig Here, U wat die ware wynstok is, U krag voortdurend my gegewe, behoed my van verderfenis.”
Mens en medemens hoort bymekaar soos die son en dielig.