BUTCH VAN BLERK
WOONHUISE EN EGSKEIDING
Ek en my voormalige eggenoot is vier jaar gelede geskei, maar die eiendom (huis) is in albei van ons se name geregistreer. Ons het destyds ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan dat hy in die huis sal aanbly tot ons twee dogters uit die huis is. Albei het intussen uitgetrek. Ek betaal huur vir ’n eenslaapkamerwoonstel, maar kry finansieel swaar. Hy betaal geen huur vir die gebruik van die huis nie en sy vriendin het ook intussen ingetrek. ’n Tuinwoonstel op die erf word verhuur. Kan ek hom dwing om huur te betaal, die huis te verkoop of om by die tuinwoonstel in te trek? Hy sal nie my deel kan uitkoop nie.
Indien die huis op albei jul name geregistreer is, behoort die helfte aan jou en is jy die eienaar van ’n halwe aandeel in die eiendom. Indien julle binne gemeenskap van goedere getroud was, behoort een halwe onverdeelde aandeel van die huis ook aan jou.
Die skriftelike ooreenkoms (“egskeidingsakte”) wat tydens die egskeiding tussen julle gesluit is, bepaal wat met die eiendom sal gebeur — óf dit word verkoop, óf dit word aan een van die voormalige eggenote oorgedra wat dan die ander eggenoot uitbetaal, of wat die reëling ook al mag behels.
Jy is egter steeds ’n mede-eienaar en na gelang van wat die egskeidingsakte bepaal, beteken dit dat jy steeds mede-seggenskap oor die eiendom het. Jy kan dus terugtrek in die eiendom omdat die helfte van die eiendom aan jou behoort.
Egskeidingsaktes bepaal meestal dat enige reëling ten gunste van ’n party (jou voormalige man) verval indien hy ’n saamwoonooreenkoms met ’n derde party sluit en so ’n person by die eiendom intrek. ’n Derde party kan nie by die eiendom intrek sonder jou toestemming nie. Jy kan dus gerus ook by die eiendom intrek.
Neem die egskeidingsakte na ’n prokureur om volledige raad te kry.