Wes-Kaap belê groot in skaapboerdery
DIE Wes-Kaap het ’n mededingende voordeel bo die res van Suid-Afrika om skaapvleis in voerkrale te lewer. Dít is een van die verrassende gevolgtrekkings wat prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), gemaak het nadat hy die Wes-Kaap se pas vrygestelde provinsiale landbousensus bestudeer het.
Sedert 2013, toe die vorige landbousensus gedoen is, was daar ’n groot verskuiwing van bees- na skaapvoerkrale in die Wes-Kaap. Die getal beesvoerkrale het met 43% gedaal. Die grootste dalings het aan die Weskus en in die Kaapse Wynland voorgekom. Terselfdertyd het die aantal skaapvoerkrale met 86% toegeneem, veral in die omgewing van Eden en in die sentrale Karoo.
Meyer sê speenkalwers het weens die droogte onbekostigbaar geraak. Boonop is die grootste beeskuddes in die Vrystaat en in die noorde van Suid-Afrika geleë, wat beteken Wes-Kaapse beesvoerkrale se aankoopbasis is ver.
Daarby het die mielieprys die hoogte ingeskiet. Dit het alles daartoe bygedra dat dit onekonomies is om beesvoerkrale in die Wes-Kaap te bedryf.
Vir skaapvoerkrale lyk die prentjie egter aansienlik beter.
“Die aankoopbasis is baie nader – in die Karoo en die droër dele van Suid-Afrika. Die Vrystaat en die noorde is ook nie meer so geskik vir skaap- en lamproduksie as die Wes-Kaap nie.”
Meyer reken ’n strukturele verandering het plaasgevind wat nie sommer sal verander nie, tensy speenkalfpryse drasties daal.
“Ons sien waarskynlik ’n verskuiwing wat ’n mededingende voordeel vir die Wes-Kaap bied.”
HOENDERS KAN GROEI
Van 2013 tot verlede jaar se landbousensus was daar boonop ’n 12%-toename in die aantal hoenderhokke in die Wes-Kaap. Volgens Meyer was dit in 2015 redelik winsgewend om met hoenders te boer omdat die mielieprys laag was. Dit het toe vir produsente sin gemaak om in hoenderhokke te belê.
Die grootste uitbreidings was waarskynlik in 2014 en 2015, kort voor die droogte aan die landbou se deur kom klop het.
“Ons kan ’n betekenisvolle toename in hoenderproduksie in die provinsie sien, veral as ons voerpryse goed bly, aangesien ons meer hoenderhokke het waarin hoenders geteel kan word.”
Die sensus het sowat R8 miljoen gekos en is behartig deur die maatskappy SiQ. Landbouweekblad berig binnekort volledig oor dié sensus.