Landbouweekblad

WIE WORD VERHOOR?

-

Buiten dat dit boekdele spreek oor die soort land wat Suid-Afrika is, maak dit eenvoudig nie sin nie dat die verkeersde­partement al om 15:30 gesluit is, terwyl almal anders nog werk. Moet dit nie juis vir mense maklik wees om hul lisensies te kry nie? Ons betaal immers ruim vir hierdie diens. Vir wat ons kry, is Suid-Afrikaners seker een van die mees swaarbelas­te bevolkings ter wêreld. Jy begin eers in Mei jou eie geld verdien, want tot dan gaan alles na die staat! Buiten maatskapli­ke toelaes is staatdiens­salarisse Suid-Afrika se grootste uitgawe. Hoekom staan ek dus om 15:30 voor die geslote deure van ’n staatsdepa­rtement?

Dit laat ’n mens aan die grondverho­re dink. Baie tyd, geld en energie word afgestaan om te hoor hoe gewone mense voel oor die voorstel dat die Grondwet verander moet word sodat die staat wettig eiendom kan vat.

Is ons verbaas dat diegene sonder grond dink dit is ’n goeie idee, terwyl dié met grond en eiendom, en wat nog daaraan afbetaal, nie so gaande daaroor is om alles te verloor nie.

Behoort ons nie dalk eerder te vra waarom so baie mense ná 23 jaar van demokrasie nog sonder grond of ander eiendom is nie? Wat is die rede daarvoor en wie se skuld is dit?

Met dié antwoord kom ons dalk nader aan ’n oplossing. Dit sal dan duidelik wees kommersiël­e boere is eintlik ver van die probleem. Die probleem sit eintlik voor in die saal, naamlik die mense wat die verhore lei. Dit is die parasities­e politici, wat geen wesenlike bydrae tot die land lewer nie, behalwe om onmin te saai, klippe in die pad van gewone mense te rol en hulself dik te vreet aan belastingb­etalers se geld.

Die ouditeur-generaal se jaarlikse bevindinge oor korrupsie en wanbestedi­ng is soos ’n skop in die maag, veral by munisipali­teite, die eerste linie van dienslewer­ing.

Daar is ook die nasionale departemen­te. Oudpres. Kgalema Mothlante se hoëvlakond­ersoek het bevind hulle is sonder twyfel die grootste struikelbl­ok vir grondhervo­rming. Ons bestee dan meer geld daaraan om politici te beveilig as om plase te koop! Die gesprek behoort tog daar te eindig, of hoe?

Wat hartseer is, is dat oplossings wel bestaan. ’n Landboulei­er sê ’n mens moet net R1 miljard vat van die Departemen­t van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming se geld, wat hy in elk geval nie bestee nie, en dan die rente vir kommersiël­e boere se aankope van landbougro­nd vir swart bemagtigin­g subsidieer. Die risiko sal versprei wees tussen die Land Bank, landboubes­ighede wat die geld leen, die boere en begunstigd­es. Eensklaps sal ’n groot deel van die probleem opgelos wees. Ongelukkig sal die staat betrokke moet wees. Dit is dus te betwyfel of dit ooit sal gebeur.

Daar is egter ander werkbare en praktiese oplossings wat reeds toegepas word en in baie gevalle goed werk. Unieke oplossings vir Suid-Afrika se probleme ís beskikbaar. Daarom gaan Landbouwee­kblad saam met Agri SA en ander vennote op 23-24 Augustus ’n grondberaa­d aanbied om te luister en te praat oor oplossings wat reeds vir die platteland bestaan (sien bl. 27 en bl. 29).

As Suid-Afrikaners gaan ons eers oor die land se probleme moet saamstem voordat ons saam aan die oplossings kan begin werk. En dít kry ons beslis nie by die grondverho­re nie.

— CHRIS BURGESS

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa