50 JAAR GELEDE
Uit: Die Landbouweekblad, 2 Julie 1968 BEWARINGSBOERDERY VERGOED MILDELIK
Plaasbeplanning en die daarstelling van ’n gesonde bewaringsboerdery het mnr. Basie de Jongh, skaap-en-saaiboer van die plaas Rustig by Graafwater aan die Kaapse Weskus, oor baie jare ’n groot klomp geld en heelwat moedhou gekos.
Vandag word hy egter ruimskoots daarvoor vergoed. Die mate waartoe hy winderosie en veldagteruitgang hokgeslaan, sy Merinoskape se gehalte en kondisie verbeter, sy wolskeersel verhoog en sy veld se drakrag opgeskuif het, is van die voordele wat hy geniet.
De Jongh het aanvanklik saam met sy pa en broer ge- boer. Hul plaas van 6 000 morg (5 140 ha) het net 750 tot 800 skape gedra.
In 1952 het De Jongh op sy deel van die plaas begin boer. Dié deel van 2 900 morg (2 480 ha) het uit sewe kampe en twee suipings vir vee bestaan.
Hy het sy eiendom opnuut beplan met die oog op bewaringsboerdery. Die plaas is in 26 kampe met eie suipings verdeel.
Vandag hou hy deur die jaar sowat 1 500 Merino’s aan. Hy skeer gemiddeld tot 13 pond (byna 6 kg) wol van ’n skaap af teenoor sowat 7 pond (skaars 3 kg) voorheen.
Winderosie is ’n groot probleem in die Sandveld, die gebied waar De Jongh boer, en hy probeer dit voortdurend bekamp. Hy laat nooit sy veld oorbewei nie.
Wat sy saaiboerdery betref, volg hy ’n wisselboustelsel (koring, lupiene en hawer, oulandsgras, koring) en lê sy saailande teen die heersende windrigting aan en ook in stroke met voldoende windbrekers tussenin.