Kyknou Sussex teel sukses in die Kalahari 16
Kyknou Sussex se veldbulle bevat die erfdwang van bullyne met vasgeteelde eienskappe. Langlewendheid in die koeikudde en basterkrag wat swaarder speenkalwers oplewer, is van die uitsonderlike kenmerke van dié woestynstoetery.
Veldaangepaste bulle van skougehalte wat in die uiterste ekstensiewe omstandighede van die Kalahari gedy, is een van die suksessleutels van Kyknou Sussex. Mnr. Gert Fourie glo dat sy teelmateriaal ’n aanwins vir enige beeskudde in die land sal wees en dat die basterkrag van hul Sussex-kruiskalwers ’n speenwins van 30 kg tot 50 kg per kalf beteken.
Gert boer met Sussexstoetbeeste, kommersiële Afrex-kruisings, Dorpers en Persieskape.
Die suksesverhaal van die Sussexstoetery Kyknou is met jare se praktiese veeboerdery geslyp in dié dorre streek waar die gemiddelde reënval maar 150 mm per jaar is.
Gert se leerskool as boer het in 1995 in alle erns begin toe hy hom by sy pa en leermeester, ook Gert, op die plaas Bloukrans naby Askham in die Noord-Kaap aangesluit het.
Die tweemanskap het toe die Sussex in ’n driehoekkruising saam met die Afrikaner en Hereford wat toe op die plaas was, begin gebruik. Pa Gert was teleurgesteld. Vir die Afrikanerkruisings was die mark wat nie na wens was nie en die Herefords kon nie in die uiterste toestande van die Kalahari aanpas nie.
Die eerste beproefde Sussexbul was ’n sesjarige bul van die Huntersvlei-stoetery van mnr. Anthony Evans, wat teen R5 000 aangeskaf is. Daarna is twee bulle van mnr. Jan van Biljon van Viljoenskroon teen R8 000 elk gekoop.
Gert het deurentyd selfgeteelde Afrex-bulle (Afrikaner-Sussex-kruisings) in die kudde gebruik, maar van tyd tot tyd vars Sussex-teelmateriaal van Huntersvlei aangekoop.
Die les wat hy by pa Gert geleer het om voortdurend na verbetering te streef, het hom in 2010 laat besef dat hy sy beesboerdery moet opgradeer.
Op aanbeveling van mnr. Dallas Phillips, voormalige kuddebestuurder van Huntersvlei, het Gert sy eerste 12 Sussexstoetkoeie aangeskaf.
Kyknou se eerste stoetbul was ’n Victory-bul, JRE 07-79, waarna koeie van verskillende telers gevolg het om vas te stel watter teellyne in sy ekstensiewe toestande aanpas. “Ons beskikbare weiding is bloot uit genade, nie die oesreste en aangeplante weiding van gunstiger gebiede nie,” sê Gert.
VRUGBAARHEID
Die belangrikste eienskappe waarvoor hy in sy kudde selekteer, is vrugbaarheid, beweeglikheid, sterk bene en klougroei.
Die meeste van sy huidige koeikudde van sowat 65 is diere van sy eie aanteel wat teruggehou is. In sy kudde is daar produserende koeie wat van 13 tot 15 jaar oud is, wat die stelling dat die Sussex as Britse ras nie oor langlewendheid beskik nie, die nek inslaan.
HOEKOM SUSSEX?
Hy verkies die sterker kloue van die ras wat nie so aggressief soos by ander beesrasse uitgroei nie. “Pas nadat ek plaas toe gekom het, moes die kloue van sowat 60% van die beeste geknip word. Met die omskakeling na die Sussex het dié syfer tot 30% verminder,” sê Gert.
Hy selekteer derhalwe baie streng vir klougroei. Speenkalwers word aanvanklik in sanderige toestande in die duinekampe aangehou. Gert glo dat klouprobleme reeds op dié jong ouderdom van 205 dae kop uitsteek. “Enige bees wat op 24 maande wanaangepaste kloue toon, word uitgeskot. Bloedlyne wat uitermatige klougroei toon, wys reeds op 12 maande hul ware kleure.”
Die beweeglikheid van sy beeste is belangrik in kampe van 300 ha tot 450 ha met gewoonlik net een waterpunt. Die grondtipe is kalkveld en duineveld. Verskillende veldtipes en bossieveld groei hier wat ’n drakrag van 30 ha/GVE het.
VELDAANGEPAS
Gert glo onwrikbaar in die produksie van veldaangepaste bulle wat in enige kudde kan presteer.
Gekeurde speenbulletjies weeg na ge-
lang van die veldtoestande op 205 dae van 200 kg tot 270 kg. Vir optimale ontwikkeling word hulle in die droër tyd 90 dae lank met ’n kragvoeraanvulling met deurvloeiproteïene afgerond. Daarna word hulle weer op die veld aangepas met periodieke kragvoeraanvulling om hul kondisie te behou. Bemarkbare driejarige bulle kry deurlopend ’n proteïenaanvulling op die veld.
Gert se verhouding met sy veearts, dr. Ian Vorster van Upington, is vir hom van deurslaggewende belang vir suksesvolle bulproduksie.
Alle bulle, ongeag in die stoetery of kommersiële kudde, word jaarliks vir geslagsiektes en vrugbaarheid getoets. “Dit is vir my ondenkbaar dat daar nog vleisbeesboere is wat nie die geslagsgesondheid van hul manlike diere laat toets nie,” sê hy.
STOETVAARS
Die gebruik van beproefde bullyne as stoetvaars kenmerk die Kyknou-sukses. Die bulnageslag beskik oor besonderse manlikheid en toplyn, bespiering, diepte, sterk bene en kloue, asook volheid van die dye.
Die beproefde stoetvaars was onder meer Victory JRE 07-79 (2010), Merve JRE 10138 (2013), Goliat JRE 11-72 in 2015 (’n seun van Massive JRE 07-87) en Waterloo JRE 13-148 (2016), ’n poenskopbul.
“Jy as teler moet altyd jou stoetery verbeter deur beter diere aan te koop as wat jy kan bekostig,” glo Gert. Maar hy probeer die balans behou in sy aankope, aangesien die duurste bul nie noodwendig die beste vir ’n bepaalde teling is nie.
Met verwysing na die vraag na poenskopbulle voel hy dat hy graag in bulkopers se behoeftes wil voorsien: “Jy moet vir die koper gee wat hy of sy wil hê.”
Die erfdwang van die Massive-lyn in die nageslag van Goliat is duidelik waarneembaar in die sterk manlike eienskappe, toplyn en vol dye wat hulle reeds op ’n jong ouderdom vertoon. “Goliat teel diere wat in balans is,” sê Gert.
VERSBULLE
Hy glo nie in die gebruik van sogenoemde versbulle nie. Indien dit wel gebeur, moet die nageslag van dié parings voor die voet uitgeskot word, glo hy. Gert is eerder ’n voorstander van verse wat fisiologies ryp is voordat hulle gepaar word.
“Ek verkies om my kuddeverse eers te laat paar as hulle meer as 380 kg weeg, maar dit moet ’n ‘skraal’ gewig wees,” sê hy. “Sy moet nie oorvet wees nie, anders word sy nie ’n behoorlike koei nie.”
Gert se passie vir sy beeste is ook in sy nasorgdiens aan onder andere die bulkopers te sien. “Ek verkoop nie bulle sonder ’n vrugbaarheidsertifikaat wat aan die rasstandaard voldoen nie.”
Oor die keuse van die regte bul is Gert onverbiddelik: “Enige foute in die keuse van ’n geskikte bul benadeel die teling in jou kudde oor die volgende tien jaar.”
KUDDEGESONDHEID
Die beginsel dat voorkoming beter as genesing is, is ’n les wat Gert ten duurste geleer het toe hy ’n groep kalwers van dragtige koeie van verskeie telers ná ’n veiling weens uitwendige pararasiete op die plaas verloor het. “Kuddegesondheid is by Kyknou uiters belangrik. Jy kan nie hier in die uithoeke van ons wêreld daarmee dobbel nie,” sê hy. “As ons nou diere hierheen vervoer, drup die Deadline van die vragmotor af soos hulle voorkomend behandel word.”
MENTORSKAP EN DIE VOLGENDE GESLAG
Benewens Dallas wat as die mentor hom al die fyner punte van beesboerdery leer, was die grootste blywende invloed op sy lewe sy pa, Gert, wat onlangs op die ouderdom van 84 oorlede is. Gert het onder meer geleer om hard te werk, sy eiendom op te pas, respek vir ander mense te betoon en sy liefde vir die natuur uit te leef. Gert se seuns, Gert jr. (12) en Vian (9), het nou die voorreg om dié lesse by hom te leer, asook die praktiese oordrag van kennis.
Gert se vrou, Charmaine, ’n onderwyseres, is betrokke by die tuisskoolsentrum in die omgewing waar hulle saam met ander kinders onderrig word.