Sussex: Eenvoudig, vrugbaar en produktief
Om tien jaar lank in ’n kudde van 350 koeie nooit minder as 95% dragtigheid en ’n speensyfer van 93% te hê, is sekerlik enige stoetboer se droom. Mnr. Chris Barras van Barras Farming buite Himeville in KwaZulu-Natal behaal egter hierdie syfers in sy komme
Wat is mnr. Chris Barras se geheim vir sy hoogs produktiewe beeskudde? “Ek is lief vir my rooi beeste,” sê hy. Daar skuil egter deeglike presisie en deurlopende bewustheid van sy kudde agter daardie sentimentele opmerking.
Chris was ’n bourekenaar toe hy in 1988 by sy skoonpa oorgeneem het. Sedertdien het hy harde lesse geleer om sy sout as boer te verdien en die bogenoemde syfers te kon volhou. Die eerste les, skaars ’n jaar nadat hy begin boer het, was die verwoesting wat Asiatiese rooiwater kan saai.
“Op een oggend het ons 45 koeie verloor. Dit was bykans 20% van ons kudde in daardie dae en beslis ’n verlies te groot om in ’n jaar reg te stel. Sedertdien waag ons nie kanse nie. Ons ent al ons vervangingsverse twee keer teen rooiwater en een maal teen galsiekte in.
“Wanneer ons ’n bul van buite af inkoop, word hy minstens twee maande in kwarantyn gehou en al drie inentings gegee. Sedert daardie dag in 1989 het ons nog nooit meer as twee koeie per jaar weens rooiwater verloor nie. Nou en dan verloor ons ook ’n kalf weens rooiwater, maar ons probeer die bosluistellings bestuur deur te dip,” sê Chris.
Fluazoroon (Acatack, reg.nr. G2422, Wet 36 van 1947) word einde September gebruik om die kudde te dip, einde De-
sember word ivermektien (Ivomec, reg.nr. G3080) ingespan en einde Januarie word flumetrien (Drastic Deadline Extreme, reg. nr. G3840, en Deadline Extreme, reg.nr. G0723) aangewend.
TEENWOORDIGHEID DIE GEHEIM
Nog ’n siekte wat al vantevore aan die voet van die Drakensberge gepla het, is drie-dae-stywesiekte.
“Ons het jare gelede ook baie skade gely weens hierdie siekte. Jy moet teenwoordig wees in jou kudde en bewus wees van die diere se kondisie as jy verliese weens hierdie siektes wil voorkom.
“Die bestuurspraktyke verander van seisoen tot seisoen omdat die toestande verander. Daar is dus nie ’n resep nie, maar die basiese beginsels bly dieselfde.”
Dit is nie maklik om in hierdie omgewing met beeste te boer nie omdat die siektedruk hoog is. Dit vereis dat die boer deurentyd by sy of haar diere moet wees en hulle gereeld moet hanteer. Die temperament van die diere is dus vir Chris van uiterste belang, want as hulle nie rustig is en hantering toelaat nie, sou hy sy hande vol gehad het om die syfers te behaal wat hy wel behaal. “Die eenvoud en rustigheid van die ras is vir my ’n groot aanwins. Ek meen ook
dit speel ’n rol in hul vrugbaarheid en die tempo waarteen hulle gewig aansit. As hulle angstiger was, sou hulle nie so vinnig gegroei het en so vrugbaar gewees het nie.”
GEHALTE KWEEK LOJALITEIT
Chris se koeie weeg gemiddeld 550 kg en die osse wat op die veiling verkoop word, weeg gemiddeld 245 kg wanneer hulle nege maande oud is.
“Dit is vir my uitstekende syfers vir mediumraambeeste en ook die rede hoekom heelparty van die voerkrale wat ons osse en uitskotspeenkalwers koop, al 15 jaar en langer met ons besigheid doen. Die diere presteer uitstekend in die voerkraal.”
Chris se kudde het twee kalftye. Dit is omdat die diere vinnig gewig aansit. Die verse het te vet geraak toe hulle in Februarie gekalf het en hy het baie kalwers verloor.
Hy het toe sy vervangingsverse van die koeie geskei. Die vervangingsverse, wat op 24 tot 27 maande kalf, kalf nou in September, terwyl die res van die kudde steeds in Februarie kalf.
Die eerstekalfkoeie sal dan nege maande droog loop en voordat hulle saam met die res van die kudde inval om in Februarie te kalf.
“Ek kry baie kritiek vir hierdie strategie, veral omdat my eerstekalfkoeie nege maande droog loop, maar dit is ’n strategie wat vir my werk in my boerdery. Ek gaan dit dus nie verander nie.
“Die moeilikste koeie om dragtig te kry, is eerstekalfkoeie. Ons koeie kalf reeds baie vroeg. Daarom kan ons bekostig om hulle ’n blaaskans te gee ná hul eerste kalf, wat die sukses van daardie koeie baie hoër maak,” sê Chris.
VERANDER AS DIT MOET
Chris se voorganger het heelwat Herefordteelmateriaal in die kudde gebruik en daarna het Chris vir drie dektye Afrikanerteelmateriaal in sy kudde ingebring, maar deesdae hou hy streng by Sussexteelmateriaal.
Hierdie teelmateriaal kom meestal van die kudde van sy skoonseun, mnr. Liege Lamb, wat ook naby Himeville boer.
Hoewel Chris hom nie sommer steur aan kritiek nie, boer hy nie met oogklappe aan nie. Daar is heelwat tekens van verandering op die horison vir Barras Farming, want Liege is die enigste Sussexstoetteler wat in KwaZulu-Natal oor is.
“As ons moet verander, sal ons verseker verander, maar op die oomblik is dit nie nodig nie.
“Op ’n estetiese vlak is ek absoluut dol oor die Sussexbeeste. Hulle is produktief en vrugbaar en die bestuur van die kudde is net ’n plesier.
“Die ou wysheid is mos dat daar geen slegte beesras is nie. ’n Mens moet daarom boer met die beeste waarvan jy hou. Ek hou van die Sussexbeeste – rooi is mos mooi.” NAVRAE: Mnr. Chris Barras, e-pos: rob@ barrasfarming.com; tel. 033 702 0131.
‘Die eenvoud en rustigheid van die ras is vir my ’n groot aanwins. As die diere angstiger was, sou hulle nie so vinnig gegroei het en so vrugbaar gewees het nie.’