Landbouweekblad

Sussexkrui­sings presteer in Namibië

’n Geharde beesras met ’n goeie temperamen­t is net die antwoord vir beesboere wat in moeilike toestande speenkalwe­rs wil lewer, glo uithalerbe­esboere van Namibië.

-

Aan die randjie van die Namibwoest­yn, sowat 180 km suidwes van Windhoek, boer me. Caroline Burhmann en haar man, Jan, al 23 jaar lank. Dit is ’n ongenaakba­re wêreld waar droogtes beesboere vinnig kan lamlê. Tog lewer Caroline se kudde AfrikanerS­ussexkruis­ings jaar ná jaar kalwers wat sukses op veilings behaal.

“Omdat die plaas se omgewingst­oestande soms baie moeilik kan raak, het ek nie die drakrag om osse vet te maak nie. Gevolglik is ons al 23 jaar lank in die speenkalfb­edryf. Ons het eers net met rasegte Afrikanerb­eeste geboer en mettertyd met Bonsmaras begin kruisteel nadat ons besef het die rasegte beesras is nie gesog op die speenkalfv­eilings nie,” sê Caroline.

Caroline het dr. Jock Orford, ’n Sussexstoe­tteler wat by Windhoek geboer het, toevallig ontmoet.

“Sy raad aan my was om ’n aantal Sussexbull­e te koop en hulle by my bestaande koeikudde te gebruik om my speenkalwe­rs se gesogtheid te verbeter. Dit was 15 jaar gelede en ons het nog nooit teruggekyk nie,” sê Caroline.

Die eerste bulle wat hulle van Orford gekoop het, en later van ander telers wat ook bulle uit die Bosworthbl­oedlyn gehad het, het gewys dit was die regte besluit.

“Ons het begin om met Afrikanerk­oeie en Sussexbull­e te kruisteel. Ek verkoop my kalwers wanneer hulle agt tot nege maande oud en 200220 kg weeg,” sê sy.

Oor die afgelope paar jaar het Caroline se speenkalwe­rs goed gepresteer op die speenkalfv­eilings wat op Rehoboth gehou word.

“Verlede jaar was egter ’n uitsonderi­ng, want die droogte het ons ’n gevoelige knou toegedien. My speenkalwe­rs het egter drie jaar gelede die eerste en tweede prys, asook die prys vir die beste verse op die veilings losgeslaan,” sê Caroline.

HERBOU KUDDE

Weens die droogte is Caroline in ’n heropboufa­se. Daarom het sy besluit om vanjaar van haar kruisrasve­rse terug te hou.

“Gewoonlik sal ek al die Sussexspee­nkalwers verkoop en slegs die Afrikanere­n Bonsmarako­eie en kruisings terughou, maar nadat ons in verlede jaar se droogte ’n groot deel van ons kudde moes ver

koop, het ek besluit om vanjaar weer die kudde op te bou.”

Caroline is vol lof vir die aanpasbaar­heid van die Sussexbees­ras, wat selfs in moeilike toestande nie veel kondisie verloor nie.

“My bulle loop die hele jaar op veld en hulle bly in goeie kondisie. Moenie ’n fout maak nie – hulle is nie bottervet, ronde bulletjies nie, maar hulle behou hul kondisie.”

PLAAS EN WEIDING

Die plaas van 14 000 ha is op sommige plekke sanderig en op ander plekke weer klipperig. Dit is ’n droë wêreld met ’n gemiddelde reënval van 160-180 mm reën per jaar, en bestaan uit ’n redelik bergagtige terrein met randjies.

“Dit kos die nuwe bulle ’n tydjie om aan te pas by die ruwer terrein, wat anders is as byvoorbeel­d in die oostelike dele van die land waaraan hulle gewoond sou wees. Ek gee egter nie soveel om dat hulle effens maerder word nie, solank hulle nie hul werkywer verloor nie. Sussexbull­e is vrugbaar, taai en aanpasbaar. Die droogte het hulle nie ondergekry nie.”

Caroline sê sy het nog nooit enige probleme met haar Sussexbull­e gehad nie omdat hulle nie pieperige diere is nie. “Hulle is aanpasbaar, gehard en kry nie byvoeding nie, behalwe tydens erge droogtes.”

Die plaas se natuurlike weiding bestaan hoofsaakli­k uit soetveldgr­as en Caroline probeer haar kuddegetal­le só beheer dat daar vir minstens ’n jaar genoeg weiding is vir die bulle en koeie met kalwers. Wanneer die droogte egter druk, huiwer sy nie om haar kudde te verklein nie.

“Ons begin diere verkoop terwyl hulle nog in ’n redelik goeie kondisie is. Om voer in te koop om diere te probeer deurtrek, word ’n baie duur spulletjie en ons probeer dus eerder oorleef met dit wat ons het. In die algemeen verkoop ons die oudste koeie eerste en hou so aan namate ’n droogte vererger. Wanneer die reën weer kom, begin jy maar weer jou kudde opbou.

“Ons is geseënd met baie voedsame gras, hoewel nie in groot volumes nie. Sodra ons dan weer reën kry, groei die gras vinnig en verskaf genoeg voeding aan ons beeste.”

Om haar beeste se voedingsto­fbehoeftes aan te vul, gee Caroline Droëveld Konsentraa­t en ’n soutlek.

“Verder benut ons beeste natuurlike weiding. Hulle is dus geharde diere wat by ons omgewing aangepas is.”

TELING

Caroline se Sussexbull­e bly meestal deur die hele jaar by die koeie, behalwe wanneer daar groter verse by die kudde is wat sy wil verkoop. “In so ’n geval haal ek die bulle vir sowat drie maande uit, verkoop die verse en plaas die bulle daarna terug by die koeie.”

Een van die Sussex se belangriks­te kenmerke is sy vermoë om kleiner kalfies te lewer wat vinnig gewig aansit. Caroline het nog baie min geboortepr­obleme in haar kudde gehad, selfs met verse.

“Oor die afgelope 15 jaar het ons dalk twee of drie gevalle gehad waar ’n vers met ’n kalf gesukkel het. Ons kudde het ook oor hierdie tydperk gewissel. Na gelang van die droogtetoe­stande het ons van 120 tot 260 vroulike diere. Dit is dus ’n aansienlik­e hoeveelhei­d diere wat nie geboortepr­obleme gehad het nie. Boonop groei daardie klein kalfies besonder vinnig en hulle sit vinnig vleis aan, wat hulle gesog maak op ons veilings.”

Die Sussex se kenmerkend­e rooi kleur is gesog op veilings, en die erfdwang van die kleur binne Caroline se kudde is baie sterk.

“Toe ons begin het, het ek aanvanklik die geler Afrikanerk­oeie aangekoop, maar sedert ek die Sussexbull­e begin bysit het, het die kleur stelselmat­ig al hoe rooier geword. Vandag is my kudde oorwegend rooi diere en hul kalwers staan sterk uit op die veilings.”

KUDDEGESON­DHEID

Naas die aanmeldbar­e siektes, soos brucellose en miltsiekte, waarteen daar volgens wet ingeënt moet word, kom daar nie ernstige siektes op Caroline se plaas voor nie. Die verse word op drie maande teen brucellose ingeënt.

“Die plaas is in ’n gesonde gebied en die beeste sukkel nie met siektes nie. Ons dip wel vir bosluise en steekvlieë. Bosluisged­raagde siektes, soos anaplasmos­e, en inwendige parasiete is onbekend by ons.”

TEMPERAMEN­T

Caroline sê temperamen­t is een van die belangriks­te faktore van ’n beesras waarmee sy wil werk.

“Omdat die plaas redelik ekstensief is, sien ek my beeste gewoonlik een keer per week. Diere wat nie baie met mense kontak het nie, kan maklik temperamen­teel raak, wat dit moeilik maak om met hulle te werk.

“Dit is egter nie die geval met die Sussex nie. Ek hou veral van die beeste se temperamen­t rondom hul kalwers. Ek kan met hulle werk en indien nodig alles in die kraal doen. Slegs die kalwers moet soms in die drukgang behandel word. Die kalwers is ook baie rustiger as ander rasse, en hulle is minder geneig om te probeer ontsnap en te spring.”

Caroline sê die kruising tussen Afrikanerk­oeie en Sussexbull­e werk uitstekend danksy die beter Sussextemp­erament wat aan die Afrikaner se bewese goeie moedereien­skappe gekoppel word.

“Dit is veral in ons omgewing belangrik dat die koeie sterk moedereien­skappe moet hê omdat verskeie roofdiere, waaronder luiperds en jagluiperd­s, die kalwers kan vang. Die kruisdiere het ook genoeg melk vir hul kalwers, al is daar minder gras, en hulle is gehard.

“Wanneer ek my Sussexkalw­ers veilings toe neem, is ek baie trots op my diere. Dit is baie belangrik dat jy hou van die ras waarmee jy boer.”

BEMARKING

Namibië het ’n streng naspeurbaa­rheidsprog­ram omdat dié land ook vleis aan Europese markte verskaf.

“Ons is by die Namibiese Vleisraad geregistre­er, met goedgekeur­de oorplaatji­es en brandmerke. Ons diere word op ses maande elektronie­s en visueel gemerk voordat hulle die plaas mag verlaat. Dit verseker die naspeurbaa­rheid van ons vleis.

“Die diere wat verkoop word, word ook op ’n register aangedui met die dier se betrokke oorplaatji­enommers. Die nodige permitte word ook uitgereik om diere te kan verskuif. Só word die vleisgehal­te gewaarborg.”

Die meeste van haar speenkalwe­rs word deur kopers van Suid-Afrikaanse voerkrale aangekoop.

“Ek is baie opgewonde oor die resultate wat ons tot dusver met die Sussex behaal het en ek gaan beslis in die toekoms verder met dié ras werk. Die Sussex gee besonder goeie kruisraska­lwers, wat dit vir ons volhoubaar maak om met speenkalwe­rs te bly boer,” sê Caroline.

 ?? FOTO: GERRIT BEZUIDENHO­UT ?? Kruistelin­g tussen die geharde, inheemse Afrikanerb­eesras en die Sussex met sy vinnige groeitempo en aanpasbaar­heid is ’n wenkombina­sie, soos hierdie voorbeeld toon.
FOTO: GERRIT BEZUIDENHO­UT Kruistelin­g tussen die geharde, inheemse Afrikanerb­eesras en die Sussex met sy vinnige groeitempo en aanpasbaar­heid is ’n wenkombina­sie, soos hierdie voorbeeld toon.
 ?? FOTO: JAN BUHRMANN ?? Me. Caroline Buhrmann.
FOTO: JAN BUHRMANN Me. Caroline Buhrmann.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa