LAASTE DAE VAN ASHTON SE DRIVE-IN
As jy in die 1960’s en vroeë 1970’s op ’n Saterdagaand niks gehad het om te doen nie, is jy na Ashton se drive-in toe om John Wayne, Debbie Reynolds en Doris Day te sien, sê mnr. Marais Brink.
“Daar was plek vir sowat 200 karre. Jy kon nie bespreek nie, so as daar iets besonders speel, het jy ’n piekniekmandjie gepak en al halfvyf gery om daar te wag.”
Toe Suid-Afrika egter televisie kry, het die inryteaters een-een toegemaak — ook Ashton s’n.
Marais het ’n geleentheid gesien en die inryteater se drie aandeelhouers ’n kis brandewyn elk aangebied in ruil vir die skerm, ’n reusestaalstruktuur wat maklik 12 m hoog was. “Hulle sê toe nee, dankie – hulle wil eerder elkeen R100 hê.
“Ons hou toe by die drive-in stil — 18 bymekaar en elkeen met ’n spanner. Almal
klouter daar op; dis net te lekker. Maar teen die derde dwarsbalk steek die helfte vas, kyk terug en begin stadig afklim. Op die ou end het net drie mans tot bo gekom en die hele ding losgedraai: 120 sinkplate van 12 voet elk, en dwarsysters van ses by twee duim, die lieflikste goed.”
Vier reusestutpale het oorgebly, en dié kon danksy ’n gelukskoot weggelaai word. ’n Kelder waar een van Marais se vriende ’n rekenmeester was, het ’n hyskraan uit die Kaap laat kom om tenke te help installeer, maar dié hyskraan het ’n dag te vroeg opgedaag en R200 ’n uur gekos soos hy daar staan.
Marais het die koste vir twee uur gedra en die hyskraan kon die stutpale veilig op ’n lang Mercedes-lorrie laai.
Van die Ashton-inry se staalpale is vandag nog op Marais se erf te sien. Hy het onder meer ’n stewige staalskuur daarmee gebou.