Voëlgriep kos SA R2 miljard: Beskerm jou plaas só
Verlede jaar se voëlgriepuitbreking het die betrokke pluimveeboere, veral eierboere, na raming byna R2 miljard gekos weens verlore inkomste. CARIEN KRUGER berig.
HOOGS aansteeklike voëlgriep het Suid-Afrika se kommersiële hoender- en eierbedryf verlede winter die eerste keer getref. Veral eierboere in die Wes-Kaap is baie swaar getref. Die H5N8-virus het meestal ouer hoenders aangetas, daarom het hoofsaaklik lêhenne en teelhoenders siek geword.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het vir die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) ’n studie gedoen oor die ekonomiese skade van die uitbreking. Inligting is tot 8 Desember 2017 verkry deur middel van opnames onder en onderhoude met boere wat geraak is én boere wat nié geraak is nie.
Die studie toon dat die totale ekonomiese skade tot R1,87 miljard kon wees.
VERLORE INKOMSTE
Die BFAP het die koste van verlore verwagte inkomste bereken deur verskeie aannames te maak oor die produksieproses en die lengte van die oorblywende siklus van die hoenders wat van kant gemaak is.
Die totale koste was na raming R1,5 miljard, wat insluit verlore inkomste uit die verkope van eiers, jong henne, dagoudkuikens en braaihoendervleis. Sowat 85% van die verliese was in die lêhenbedryf.
Dié bedrag verteenwoordig 14,83% van die bruto waarde van eierproduksie en 3,91% van die totale bruto waarde van braaihoenderproduksie in 2016.
Die BFAP sê sulke verlore inkomste is nie iets wat dadelik ervaar word nie, maar oor tot twee jaar ná ’n uitbreking.
Luidens die verslag is die berekeninge wel gegrond op die ergste scenario en maak dit nie voorsiening vir boere se bestuurstrategieë om die invloed van die uitbreking te versag nie. Sulke strategieë sluit in die gebruik van oortollige vermoëns om die uitwerking op die volume dagoudkuikens te verminder, spesifiek in die braaihoendersektor.
Produksie in die eierbedryf is ernstig benadeel omdat groot plase in die Wes-Kaap se produksie heeltemal gestaak is.
Dié boere het aangedui hulle is nie gretig om verlore hoenders te vervang voordat ’n werkbare entstof beskikbaar is om hul hoenders teen die siekte te beskerm nie.
Terwyl die siekte in sekere gebiede baie erge verliese veroorsaak het, het dit in die vorm van hoër pryse voordele gebring vir boere wat nié getref is nie.
5,4 MILJOEN HOENDERS VERLORE
Die BFAP se opnames toon dat sowat 5,4 miljoen hoenders in kommersiële produksie-eenhede van kant gemaak moes word – 4,7 miljoen in die lêhenbedryf en 700 000 in die braaihoenderbedryf. Laasgenoemde was hoofsaaklik teelhoenders.
Die biologiese verliese word op net meer as R317 miljoen beraam, waarvan 76% in die lêhenbedryf en 24% in die braaihoenderbedryf was.
Oor die regstreekse koste om hoenders van kant te maak en die opruiming daarna, het boere voldie gens die BFAP min inligting gegee, moontlik omdat nie almal reeds syfers beskikbaar gehad het nie.
Volgens die BFAP se berekeninge kon die regstreekse koste na raming R40,5 miljoen beloop het, waarvan sowat 10% was om hoenders van kant te maak en 20% vir die opruiming daarna.
Ander beduidende koste wat boere genoem het, was vir die aflegging van personeel en om konsultante te betaal.
VERBRUIKERSPRYSE
Eiers word, soos hoendervleis, as ’n bekostigbare bron van proteïene beskou. Eierproduksie het weens die voëlgriepuitbreking in die vierde kwartaal van verlede jaar met 19% gedaal en eierpryse het met 22% gestyg.
Die BFAP beskryf twee moontlike toekomsscenario’s in die verslag. In scenario een vervang die betrokke Wes-Kaapse boere nie vanjaar die hoenders wat hulle verloor het nie, maar word meer eiers wel in ander gebiede met ’n laer risiko gelewer omdat hoë pryse as aanmoediging dien. Pryse kan teen volgende jaar na die vlakke voor die uitbreking herstel. Dit is egter onseker hoe versigtig boere vir risiko is omdat dit die eerste uitbreking van voëlgriep in Suid-Afrika se kommersiële bedryf was.
In scenario twee word ’n suksesvolle inentingstrategie in werking gestel. Wes-Kaapse boere vul hul hoenderbevolkings so ver moontlik weer aan, maar danksy hoër pryse lewer ander boere in laerrisikogebiede óók meer.
Pryse kan dan na verwagting in eerste kwartaal van 2019 tot 11% laer wees as voor die voëlgriepuitbreking en daarna effens herstel om in die laaste kwartaal sowat 6% laer te wees.
Dié scenario sluit egter nie die koste van inenting in nie, wat onder meer behels dat lêhenne wat die einde van hul produktiewe lewe bereik, nie meer verkoop sal mag word nie, maar van kant gemaak moet word. Verder sal diegene wat hul bestaan uit die verkoop van lewende hoenders maak, hierdie bron van inkomste verloor.
ANDER GEVOLGE
Die braaihoender- en lêhenbedryf is verantwoordelik vir meer as 60% van voerverbruik.
Die BFAP sê in scenario een kan ’n afname van 3,8% in die gebruik van mielies in dierevoer verwag word en in scenario twee ’n afname van 2,8%.
Die invloed van albei scenario’s op die landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) is klein.
INENTING EN HANDEL
Volgens die BFAP was die uitwerking van voëlgriep op braaihoenderpryse baie beperk, onder meer omdat invoer reeds in 20% van die plaaslike vraag voorsien, laer plaaslike produksie tot groter invoer lei en plaaslike pryse reeds naby aan invoerpariteit is.
Die braaihoenderbedryf kan wel geraak word as voëlgriep endemies in Suid-Afrika raak, wat uitvoer sal benadeel. Lande met endemiese voëlgriep kan dan oorweeg om na Suid-Afrika uit te voer. Die BFAP se ontleding toon egter sulke lande, soos China, se produksiekoste is te hoog om Suid-Afrika as ’n aantreklike mark te beskou.
Ter wille van die ontwikkeling van ’n uitvoerstrategie en om die lewendehoendermark se voortbestaan te verseker, sê die BFAP dit is belangrik dat ’n endemiese status vermy word. Inenting hoef nie noodwendig tot endemiese voëlgriep te lei nie omdat ’n strategie van kompartemente gevolg kan word waar sekere dele van die hoenderbevolking beskerm word.