Landbouweekblad

Droogte se nek nog nie omgedraai

- ALANI JANEKE

“DAAR is niks mooier as reënwater vir ’n boer nie!” was die boodskap van ’n dankbare me. Lizel Rossouw, van die plaas Elandsvlei in die distrik Piketberg, nadat haar man, Bertus, verlede naweek 33 mm reën gemeet het.

’n Kouefront wat sedert Vrydag 29 Junie oor die Wes-Kaap beweeg het, het reën, sneeu, hael en koue na dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap en die res van Suid-Afrika gebring.

Boere in die Swartland is baie dankbaar vir goeie reën wat in dié omgewing geval het. Mnr. Andries Theron, voorsitter van Graan SA se wintergraa­nwerkgroep, sê van 36 mm tot 58 mm is verlede naweek plek-plek gemeet. Sommige dele het Maandag nog sowat 5 mm reën gehad.

“Dis fantasties, absoluut fantasties. Ons is tans regtig baie opgewonde en hoop dat nog opvolgreën sal val,” het Theron gesê.

Volgens mnr. Riaan Smit van die Môrester-landgoed in die Koue-Bokkeveld het boere van 53 mm tot 100 mm reën gemeet. Me. Wilmien Davin van die plaas Ideaal net buite Ceres sê hulle het binne ’n week sowat 170 mm reën gehad.

Mnr. Kwagga Boucher, wingerdbou­kundige van Ataraxia Wyne, sê damme loop “mooi vol” nadat hulle 82 mm reën aan die rant van die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus gehad het. “Ons het in ’n kort tydjie Maandagogg­end sowat 17 mm gehad, met swaar neerslae en hael.”

NOORD-KAAP

Mnr. Henk van Wyk, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê by Cal- vinia het hy 32 mm reën gemeet, terwyl hulle ook sneeu gekry het. “Ons kry gereeld sneeu in die Roggeveld, maar hierdie is die eerste keer in die afgelope drie of vier jaar.”

Me. Elke van Wyk, van die plaas Modderfont­ein in die distrik Sutherland, sê hulle het 18 mm reën gehad, asook sneeu en baie koue toestande. Dele van die Visrivier op hul plaas het gevries, met temperatur­e van selfs -13 °C wat in dié distrik gemeet is.

Intussen het die Wes-Kaapse departemen­t van omgewingsa­ke aangekondi­g dat dié provinsie se damvlakke begin styg het.

Die provinsie se damme was op 2 Julie 41,5% vol, met damme wat water aan die Stad Kaapstad verskaf wat teen 3 Julie ongeveer 50,3% vol was.

Mnr. Anton Bredell, WesKaapse minister van plaaslike regering en omgewingsa­ke, sê alle opvangsgeb­iede het verbeterde toestande aangeteken, behalwe die Gouritzriv­ier-opvangsgeb­ied. “Gebiede in die Karoo, die Klein- Karoo, Boesmanlan­d en die Langkloof wag steeds op die uitkoms van reën. Op ’n provinsial­e vlak moet ons steeds aan waterbeper­kings voldoen en waterverbr­uik beperk.”

LANGKLOOF

“Ons kry gewoonlik goeie reën in die winter. Ons wag nou vir Augustus,” sê mnr. Bokkie Kritzinger, voorsitter van die landbougen­ootskap Langkloof, waar van 5 mm tot 8 mm reën gemeet is. Die Kougadam is sowat 8% vol, terwyl die besproeiin­gsdam by Joubertina slegs sowat 1,2% vol is. “Geen besproeiin­gswater is tans vir boere in die Langkloof beskikbaar nie.”

Kritzinger sê boere in die Langkloof het die afgelope seisoen wél met beter grondwater­vlakke afgesluit as die vorige seisoen. “Ons sal bly glo dat die reën sal kom.”

Agri Wes-Kaap het op sy Facebook-blad aangedui dat die organisasi­e sal voortgaan om veeboere in die provinsie by te staan met droogtehul­p, aangesien veral veeboere in die provinsie “nog lank nie uit die moeilikhei­d is nie”. –

‘Op ’n provinsial­e vlak moet ons steeds aan waterbeper­kings voldoen en waterverbr­uik beperk.’

 ?? FOTO: ELKE VAN WYK ?? Op die plaas Modderfont­ein in die distrik Sutherland het dele van die Visrivier gevries en temperatur­e van selfs -13 °C is verlede week gemeet.
FOTO: ELKE VAN WYK Op die plaas Modderfont­ein in die distrik Sutherland het dele van die Visrivier gevries en temperatur­e van selfs -13 °C is verlede week gemeet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa