Staan saam in brucellose-geveg
WETSVERANDERINGE om private veeartse te bemagtig en verpligte toetsing was onder die oplossings vir Suid- Afrika se toenemende probleem met brucellose wat op verlede week se indaba van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad bespreek is.
Uiteindelik gaan samewerking tussen álle belanghebbendes in die dieregesondheidsbedryf – staatsveeartse en -laboratoriums, kommersiële en kommunale boere, private veeartse en dieregesondheidsmaatskappye – egter die enigste manier wees om die kwessie ordentlik vas te vat.
“Dit is al manier waarop hierdie probleem opgelos gaan word. Ons as lede van die veeartsenykundige bedryf sal almal moet inspring om te help,” het dr. Cornelia Gerstenberg, staatsveearts van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, op die kongres gesê.
Volgens Gerstenberg sal dit onder meer ’n wysiging van die Wet op Dieregesondheid (Wet 7 van 2002) ook verg.
“’n Verandering aan die wet sal private veeartse onder meer meer verantwoordelikheid en mag gee in gevalle waar daar positiewe resultate vir brucellose-toetse in beeskuddes gevind word. Dit sal die brandmerk van diere insluit wat positief vir die siekte toets,” het sy gesê.
’n Moontlike verandering is ook om die toets van beeste vir beesbrucellose verpligtend te maak. Tans vind die toetse op ’n vrywillige grondslag plaas. “Die Regering sal private veeartse se hand moet sterk met wetgewing om hierdie toetse uit te voer.”
ONUS OP VERKOPERS
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum, het gesê ’n verkopersverklaring van ’n beesverkoper sal reeds baie help om die voorkoms van beesbrucellose te bekamp.
“Dit gaan nie help om strafregtelik te probeer optree teen verkopers wat diere verkoop wat brucellose onder lede het nie. Die owerhede het reeds hul hande vol om misdaad te probeer bekamp. Dit sal veel beter werk om die kopers sover te kry om verkopers te polisieer,” het Vervoort gesê. Hy het spesifiek verwys na die melkbedryf, waar melkkopers aandring op ’n sertifikaat dat die diere vry is van brucellose voordat hulle melk by ’n boer sal koop.
“As dieselfde model in die rooivleisbedryf gevolg kan word, sal dit reeds heelwat van hierdie kwesssies kan oplos.”
ENTSTOF BESKIKBAAR
Op dieselfde geleentheid het dr. Jacob Modumo, sake-ontwikkelingsbestuurder by die entstofvervaardiger Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), gesê die maatskappy is heeltemal in staat daartoe om genoeg brucellose-entstof aan Suid-Afrika te verskaf, maar dan moet die bedryf die nodige entstof bestel.
Hy het geantwoord op ’n vraag van dr. Dietmar Holm, dekaan van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria.
“OBP vervaardig tans sowat 700 000 dosisse brucellose-entstof per jaar, met die helfte daarvan wat na Botswana uitgevoer word,” het Modumo gesê.
Holm het gesê volgens huidige skattings word die nasionale beeskudde op sowat 14 miljoen diere beraam.
Die speenpersentasie word beraam op 40, wat die nasionale opbrengs van verse op nagenoeg 2,8 miljoen diere te staan bring. Modumo se reaksie was dat OBP maklik genoeg van die entstof kan vervaardig om al hierdie verse in te ent, maar dat die vraag na die entstowwe nie naastenby soveel beloop nie.
WETSVEREISTE
Die Wet op Dieregesondheid vereis dat alle verse tussen die ouderdom van vier tot agt maande teen brucellose ingeënt word, maar verskeie veeartse op die kongres meen dat die wet nie genoegsaam toegepas word nie.
“OBP het homself daartoe verbind om die produksie van brucellose-entstof te verhoog en ons het daarvolgens ’n produksiebaan net vir die produksie van brucellose-entstof op die been gebring.
“Ons het ook vriesdroogtoerusting aangekoop om genoeg van die entstof op te berg.
“Ons kan egter net soveel entstof vervaardig as wat die bedryf voor vra. Dit duur sowat ’n maand om brucellose- entstof te vervaardig en ons kan maklik in die bedryf se vraag na die entstof voorsien,” het Modumo gesê.
– Besoek http://nahf.co.za/?s=OBP vir OBP se maandelikse verslag oor die beskikbaarheid van entstowwe.