Landbouweekblad

‘Landbousen­sus sal boere help’

- — CARIEN KRUGER

VERTEENWOO­RDIGERS van Statistiek­e Suid-Afrika (SSA) gaan kommersiël­e boere van September vanjaar tot Maart aanstaande jaar nader om aan opnames vir ’n landbousen­sus deel te neem.

Mnr. Risenga Maluleke, statistiku­s-generaal, het verlede week op ’n bespreking oor die sensus gesê dit word reeds lank beplan en hou dus nie verband met die debat oor die moontlike onteiening van grond sonder vergoeding nie.

Suid-Afrika se statistiek­diens het van 1918 tot 1980 byna elke jaar sensusse oor die kommersiël­e landbou gedoen, waarna dit geleidelik verminder is. Ná 1994 is besluit om dit net elke vyf jaar te doen.

Ná die sensusse van 2002 en 2007 moes een in 2012 gevolg het, maar die Departemen­t van Landbou, Bosbou en Visserye het nie geld daarvoor gehad nie. Dit sou toe verlede jaar (2017) gedoen word, maar is uiteindeli­k tot vanjaar uitgestel.

Maluleke het gesê die verwysings­tydperk vir die opnames wat nou gedoen gaan word, is van 1 Julie 2016 tot 30 Junie 2017 en die resultate sal as die 2017-sensus bekend staan.

BESKERM INLIGTING

Oor vrese dat vanjaar se sensusinli­gting op ’n manier gebruik kan word om boere te benadeel rakende die kwessie van onteiening sonder vergoeding, het Maluleke gesê dit is vir SSA belangrik om onafhankli­k te wees. “Ons kan nie toelaat dat die inligting onder verdenking geplaas word nie. Die landbousen­sus kan nie deur enige gesprekvoe­ring in Suid-Afrika aangetas word nie.”

Maluleke het gesê die inligting wat ná die opnames gepublisee­r word, is saamgestel­de inligting oor neigings in die landbou, wat belangrik is vir beplanning op lang termyn.

Inligting wat mense identifise­er, mag nie bekend gemaak word nie. “Ons moet respondent­e te alle tye beskerm,” het Maluleke gesê.

Van die sensusinli­gting sal ook aan die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasi­e (VLO) verskaf word as deel van die wêreldprog­ram vir die 2020-landbousen­sus, die tiende sensus van dié aard.

Dr. Lewis Hove, verteenwoo­rdiger van die VLO in Suid-Afrika, het gesê inligting oor Suid-Afrika se kommersiël­e landbou is belangrik vir die VLO-sensus, aangesien die land ’n groot rol in voedselsek­erheid in die streek speel.

Alle lande wat aan die wêreldwye sensus deelneem, het hulself daartoe verbind om ’n minimum van sekere inligting, soos vereis deur die VLO, in hul opnames in tesluit.

BOEREREGIS­TER

Mnr. Joe Kgobokoe, adjunkdire­kteur-generaal van die Departemen­t van Landbou, Bosbou en Visserye, het op dieselfde geleenthei­d gesê die departemen­t gaan nou uiteindeli­k begin met die opstel van ’n register van Suid-Afrika se boere nadat hy geld by die Tesourie beding het.

Die departemen­t wil die register van kommersiël­e en kleinboere teen 2020 gereed hê.

Kgobokoe sê ook dié proses is nie aan die huidige onteiening­sdebat gekoppel nie. Hy het die georganise­erde landbou se hulp gevra om boere bewus te maak daarvan dat inligting vir die register gevra gaan word.

Een van die doelwitte met die register is om met die klik van ’n knoppie te kan bepaal of ’n boer reeds steun van ’n staatsinst­elling kry om sodoende te voorkom dat een boer meer steun as ’n ander kry, het Kgobokoe gesê.

Ons moet respondent­e te alle tye beskerm.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa