Landbouweekblad

Gholf in die Pilanesber­g

Al slaan topspelers die Lost City-gholfbaan by Sun City nie naastenby so hoog aan soos die taai Gary Playeruitl­eg langsaan nie, bly dit ’n unieke, onvergeetl­ike gholfonder­vinding vir die meeste besoekers.

-

Daar is definitief iets “anders” omtrent die gholfbaan by Lost City. Die hele Lost City-kompleks, van die groot klubhuis wat geskoei is op die Zimbabwe-ruïnes tot die dramatiese ontwerp van die putjies, is juis beplan om jou visueel te beïndruk. En dít teen sowat R1 000 per ronde (selfs die juniors moet R500 per kop opdok)!

Dit klink duur, veral noudat Sun City bemark word as ’n gesinsvaka­nsieoord, pleks van ’n dobbelplek, maar dis ’n lekker baan om op te speel in ’n mooi omgewing teenaan die Pilanesber­g- Nasionale Park. In die hoogsomer kan die bosveld amper ondraaglik warm word en dan is Sol Kerzner se Valley of the Waves dalk ’n beter opsie as die baan. Kies dus die koeler maande om te kom speel.

WOESTYNBAA­N MET WATER

Volgens die Amerikaans­e begrip kan die baan seker as ’n woestynbaa­n beskryf word, maar dit het genoeg waterhinde­rnisse, kinkels en draaie. Gelukkig is die skoonvelde breed. Baie van die bowwe kyk af op die skoonveld. Jy kan daarom jou bal langer in die lug dophou. Dit dra by tot die genot en speelbaarh­eid van die baan. Van agter af strek Lost City se baan byna oor 7 000 m, maar daar is natuurlik ’n keuse van bowwe om jou spel te pas en jy word verplig om ’n gholfkarre­tjie te huur.

AFRIKA-SETPERK

Die bekendste putjie is die dertiende (syfer 3), waar die groot setperk in die vorm van Afrika gebou is en deur ses sandkuile omring word. Daar wag ook ’n klomp krokodille op jou gholfballe in ’n diep waterput.

’n Japannees het blykbaar daar ingeklim, salig onder die indruk dat die ongedierte­s maar net glasvesel-namaaksels is, soos baie van Sun City se versiering­s. Hy is glo weer bitter vinnig daar uit . . .

Die eerste nege putjies begin met ’n gemaklike, reguit syfer 4-putjie van 382 m en eindig met ’n syfer 4-putjie van 450 m wat jou ’n pragtige uitsig gee in die rigting van die klubhuis en die dam.

Nommer 12 is die kortste syfer 4 – net 332 m – maar dit is téén die bult met diep sandkuile links en regs. Nommer 18, ’n indrukwekk­ende syfer 5-putjie van 485 m, loop parallel met die negende langs die water af, klubhuis toe. Saam is dié twee putjies nogal aanskoulik, veral as jy op die stoep sit en jou telkaart deurgaan. NAVRAE: Tel. 014 557 3700.

Daar wag ook ’n klomp krokodille op jou gholfballe in ’n diep waterput.

 ?? FOTO: TERTIUS TROOST ?? Die verlore stad se pragtige agttiende putjie.
FOTO: TERTIUS TROOST Die verlore stad se pragtige agttiende putjie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa