Eggenote en die aanwas-eis
Plase is dikwels meer werd as die beskikbare kontant in boere se boedels of as wat ’n mens daaruit geboer kan kry. Dít kan struikelblokke veroorsaak by die opstel van testamente en veral wanneer die aanwas-eis ter sprake kom.
Vandeesweek kyk ek na die gebruik van ’n testamentêre trust om vir ’n langslewende gade voorsiening te maak. En, na aanleiding van ’n leser se vraag, ook die volgende: Kan hy sy bates na ’n testamentêre trust oordra en sodoende vir sy vrou sorg? As hy dit doen, hoe word die aanwas-eis by sy dood bereken?
Die grootste probleem waarmee die leser sit, en dit geld omtrent alle boere met wie ek in aanraking kom, is dat die geldwaarde van die plaas meer is as die beskikbare kontant in die boedel. Inteendeel, en dit is die grootste bekommernis, of liewer risiko, wat ek vir boere sien: Die plaas is meer werd as wat jy uit hom geboer kan kry. Baie mense hou egter van boer, so kom ons laat dit daar.
AANWASBEDELING
Ons kyk eers na die aanwas en dan na die testamentêre trust. En wat van die inter vivos-trust?
Wat baie mense klaarblyklik nie verstaan nie, is dat die huweliksaanwas nie primêr daarop gerig is om vir ’n langslewende gade te moet sorg ná dood nie. Die kern van die aanwasbedeling lê daarin dat die gade met die minste groei in sy of haar boedel tydens die huwelik by die beëindiging van die huwelik ’n eis het om die helfte van die verskil in groei tussen die twee boedels.
Die doel daarvan is myns insiens ’n goeie een, want dit bring regverdigheid in die sin dat (veral) mans ’n stewige boedel bou en die vroue (gewoonlik) jare lank ondersteuning bied, maar nie self rykdom skep nie. Kortom, vroue trek maar aan die kortste ent.
Nietemin, die aanwas-eis ontstaan deur die werking van die reg. Dit is nie ’n eis wat sy (as dit die vrou is) kan instel en dan hoop op ’n voordelige uitkoms nie. Die eis is daar; dit kom outomaties. Die bedrag van die eis is ook daar en is volgens die wet bepaal, naamlik die helfte van die verskil. Daar is bitter min wat jy daaraan kan doen. Boonop het julle julself tog met oop oë kontraktueel daartoe verbind.
TRUSTS
Kom ons kyk na die testamentêre trust. Dit is ’n goeie instrument om vir ’n langslewende gade voorsiening te maak, veral as jy nie bates regstreeks aan haar (ek hou maar by die man/ vrou soos dit meestal plaasvind) wil oordra nie. Dit is dikwels die geval omdat die persoon uiteindelik ’n kind wil bevoordeel. In baie gevalle kan so ’n testamentêre trust ’n beter opsie wees as byvoorbeeld die alombekende vruggebruik.
Maar hier is die slang in die gras as daar ’n aanwas-eis is: Die bemaking aan die testamentêre trust staan agter die aanwas-eis. Anders gestel, die aanwas-eis kom eerste. Jy kan net bates bemaak wat nie onderhewig is aan die aanwas-eis nie.
Terloops, die eis is in geldwaarde, nie spesifieke bates nie. As jy dus genoeg geld het, is daar geen probleem nie. Die probleem ontstaan as jy nie geld in jou boedel het vir die aanwas-eis nie.
’n Beter opsie kan wees om in lewe reeds ’n inter vivos-trust te skep en jou grootste bates, soos die plaas, daarheen oor te dra. As dit deel vorm van ’n bona fide boedelbeplanning, behoort daar nie ’n probleem te wees nie. Waak net daarteen dat dit nie gesien kan word as ’n doelbewuste poging om jou aanwasverpligtinge te ontduik nie.
Trustbates word nie in berekening gebring vir die aanwas-eis nie. Ook nie vir boedel- en kapitaalwinsbelasting by dood nie, bloot omdat dit nie jou bates is nie (tensy jy natuurlik die trust-instrument misbruik vir eie gewin).
Om in lewe bates na ’n trust toe oor te dra, sal belastinggevolge hê. Die beste is om omvattende beplanning te doen en dan ’n ingeligte besluit te neem.
Die aanwas-eis kom eerste. Jy kan net bates bemaak wat nie onderhewig is aan die aanwas-eis nie.