MYNE VERSAAK HUL OMGEWINGSPLIG
DIE geld wat mynmaatskappye vir die rehabilitasie van uitgewerkte myne beskikbaar het, is in die meeste gevalle ontoereikend. Dit is een van die bevindings van die sentrum vir omgewingsreg (CER) in sy nuwe verslag, Full Disclosure: The Truth about Mining Rehabilitation in South Africa. Die verslag dui aan dat die manier waarop die rehabilitasiekoste bereken en bekend gemaak word, veel te wense oorlaat.
Volgens me. Christine Reddell, ’n prokureur verbonde aan die CER, het die organisasie inligting van 11 mynmaatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs bestudeer.
Hulle het gevind die meeste myne se verslagdoening van rehabilitasiekoste is vaag en onbetroubaar, die maatskappye se vermoë om die koste te dek, is twyfelagtig en hul verslae weerspreek mekaar.
“Dis dus onmoontlik om te bevestig of die geskatte rehabilitasiekoste wat mynmaatskappye aandui, akkuraat is, of genoeg geld eenkant gesit is om daarvoor te betaal en of voldoende rehabilitasie ooit plaasvind.”
Aandeelhouers en belastingbetalers kan dus nie myneienaars en reguleerders verantwoordbaar hou nie.
Volgens wetgewing moet mynmaatskappye begroot vir die rehabilitasie van myne nadat hulle uitgewerk is en voldoende geld daarvoor opsysit sodat die staat die myn met daardie geld kan rehabiliteer as die maatskappy sy plig versuim. As hierdie stelsel misluk, moet die belastingbetaler die rekening betaal.
GEVOLGE
Mnr. Angus Burns van die Wêreldnatuurlewefonds het op die onlangse kongres van Mpumalanga Landbou op Witrivier gesê besluitnemers neem nie die langtermyngevolge van ongerehabiliteerde myne in ag nie. Dit raak dikwels duisende mense omdat sulke myne water en grondwater oor groot gebiede besoedel.
“Te veel myne word net laat vaar met astronomiese koste vir die omgewing en dikwels die belastingbetaler,” sê hy.
Een voorbeeld is die Maketeeskopmyn naby Luneburg wat sowat 45 jaar gelede net so gelos is nadat die mynmaatskappy sy bedrywighede gestaak het.
Burns sê die strome wat van die berg af vloei, word tot vandag toe nog besoedel, en rehabilitasie van die omgewing is te duur. “In die een stroom is daar vir 10 km geen lewe nie,” sê hy.
’n Meer onlangse voorbeeld is die oënskynlike wanbestuur van twee mynrehabilitasietrusts vir die Optimum- en Koornfonteinmyn, sê Reddell.
RIGLYNE VS. BELEID
Burns sê daar is te veel riglyne en te min beleid by die toekenning van mynregte. Uit die staanspoor meen hy dit moet beleid wees om nie te myn nie waar waterbronne ontspring en hoëpotensiaallandbougrond deur mynbedrywighede benadeel kan word.
Volgens hom ontspring meer as 50% van Suid-Afrika se riviere in die oostelike, hooggeleë vleilande en grasvelde, wat maar 8%-10% van die land se grondoppervlak beslaan.
“’n Mens sou dink dis logies dat ons nie op hierdie 8%-10% sal myn nie, maar dit lyk nie of besluitnemers besef hoe ver die impak van hul besluite strek nie.”
Daar is byvoorbeeld planne om in die bolope van die Pongola-opvangsgebied te myn. Dié kwesbare gebied word tans deur eensgesinde boere as weiveld bestuur.
Hul benadering is dat hulle rentmeesters is oor die biodiversiteit van die gebied. Hul verantwoordelike benadering maak dat nagenoeg 2 miljoen mense stroomaf drink- en besproeiingswater uit groot opgaardamme, soos die Josinidam, het. “Dit maak mos nie sin om mynbedrywighede te oorweeg in ’n gebied waar dit 2 miljoen mense se drinkwater en ekonomiese bedrywighede kan bedreig nie.”
Burns sê daar is etlike voorbeelde van mynaansoeke in vleilande en bolope van opvangsgebiede.
Hy waarsku dat kortsigtige besluite oor dié aansoeke die land duur te staan kan kom in die lig van aardverwarming. Hy meen beskerming moet in die land se waterstelsel ingebou word en die ekologiese infrastruktuur van die vleilandgebiede so goed moontlik herstel word.
‘Te veel myne word net laat vaar met astronomiese koste vir die omgewing en dikwels die belastingbetaler.’