SPAR VOER MELK IN ‘OM RAKKE VOL TE HOU’
MELKBOERE is woedend oor langlewemelk uit Pole wat onder Spar se handelsmerk op die winkelgroep se rakke is. Spar sê hy het dit ingevoer om te verseker hy het in die winter genoeg voorraad.
Die ingevoerde melk het groot kritiek op die Facebook-groep Boere Gesels uitgelok, nes ingevoerde Poolse melk op Checkers se rakke ook in 2015 gekritiseer is. Die melkbedryf beoog nou ’n aansoek om invoertariewe op sulke melk.
Mnr. Mike Prentice, Spar se bemarkingsdirekteur, het aan Landbouweekblad gesê die groep het vroeg vanjaar 8 miljoen liter melk ingevoer, wat slegs 6% van Spar se jaarlikse aankope verteenwoordig. “Die oorblywende 94% word steeds by plaaslike boere aangekoop.”
Spar koop alle langlewemelk vir sy handelsmerk by Woodlands Dairy in die Oos-Kaap. Prentice en mnr. Lex Gutsche, uitvoerende hoof van Woodlands, sê die winter word gewoonlik deur tekorte gekenmerk en daarom het hulle saam besluit om melk in te voer.
BLY BOERE STEUN
Prentice sê die besluit is in Januarie geneem omdat dit maande duur om verpakking gereed te hê en die melk na Suid-Afrika te vervoer. Teen die tyd dat syfers getoon het dat daar nie ’n tekort sou wees nie, was die produkte reeds op pad hierheen.
Gutsche sê die betreklike klein hoeveelheid melk wat ingevoer is, verteenwoordig slegs sowat drie weke se verkope vir Spar.
“Spar is ’n onderneming en moet verseker dat hy te alle tye genoeg melk op sy rakke het,” sê Gutsche. “Dit is nie onwettig om melk in te voer nie. ’n Mens moet versigtig wees om Spar nie te antagoniseer om ongunstig teenoor plaaslike boere te reageer nie.
“Hoewel ek nie glo dit is Spar se doelwit nie, is dit die groep se reg om meer melk in te voer as hy wil. Dit is tog sý handelsmerk.”
Gutsche sê kritici behoort eerder meer aandag te gee aan baie groter hoeveelhede melk wat deurentyd deur ’n ander winkelgroep ingevoer word.
“Spar het ons maatskappy – en dus ook plaaslike boere – sedert November 1995 getrou onder- steun. Die groep het, op grond van ’n handdruk, ingestem dat ons ’n fabriek bou en melk vir sy handelsmerk verpak.
“Ek beskou Spar se verbintenis toe, en nou, as diepgaande en uiters waardevol vir die plaaslike boeregemeenskap,” sê Gutsche.
BYKOMENDE DRUK
Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê vanjaar se invoer van langlewemelk het bykomende druk op melkboere geplaas in ’n tyd toe ’n gunstige melk-tot-voerprysverhouding tot
‘Die groep het, op grond van ’n handdruk, ingestem dat ons ’n fabriek bou en melk vir sy handelsmerk verpak.’
surplusproduksie in kusprovinsies gelei het.
Syfers toon egter dat die invoer van langlewemelk sedert begin vanjaar heelwat gedaal het en dat die prys van dié melk ook heelwat gestyg het sodat dit nie met plaaslike pryse kan meeding nie.
Van Dijk sê die MPO besef watter uitwerking sulke invoer op die bedryf het en dat dit as die rede vir verlagings in melkboere se pryse, asook die staking van melkwinning van sekere plase af, aangevoer word.
“Die MPO beywer hom al etlike jare vir tariefbeskerming op langlewemelk, maar was weens regeringsbeleid tot dusver onsuksesvol. Om ’n invoertarief op ’n produk ingestel te kry of bestaande tariewe te verhoog, is nie meer so eenvoudig soos in die verlede nie.
“Invoertariewe of invoerregte word lankal nie meer gebruik as ’n maatreël om binnelandse bedrywe te beskerm teen ingevoerde produkte nie. Dit word as handelsen nywerheidsbeleidsinstrumente gebruik om plaaslike produksie, die behoud en skep van werkgeleenthede, asook internasionale mededingendheid te bevorder.”
SÓ WERK DIT
Van Dijk sê die MPO as verteenwoordiger van die primêre bedryf wie se produk onverwerkte melk is, kan nie by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) om ’n invoertarief aansoek doen nie. Plaaslike vervaardigers van die spesifieke produk – langlewemelk – kan dit wél met die steun van die hele bedryf doen.
Die sekondêre bedryf beoog nou wel so ’n aansoek en die MPO sal die nodige bystand en ondersteuning bied.