Landbouweekblad

Oos-Kaapse veldbestuu­r klop die droogte:

Draad vir kleiner weikampe is die beste versekerin­g wat jy teen droogte kan kry, sê mnr. Douglas Stern, Karooboer en voorsitter van Agri Oos-Kaap. Nie net word veldherste­l aangewakke­r nie, maar selfs parasiete kry op dié manier nie ’n houvas op die vee ni

- NAVRAE: Mnr. Douglas Stern, e-pos: sft@gam. co.za; tel. 072 178 9811 of 049 841 1551.

Dis so goed jy ry die prentjie van droogte binne wanneer jy op die R75 uit Port Elizabeth verby Wolwefonte­in en Jansenvill­e na Graaff-Reinet ry. Skape en bokke, plek-plek op kaal weiveld, is die getuienis van die vierde agtereenvo­lgende droogtejaa­r in dié streek. Boere uit ander streke in die land skenk tonne lusern- en grasbale aan dié boere.

Op die plaas Rietpoort naby Nieu-Bethesda is lusernbale tot teen die dak van die skuur gestapel. Droogtehul­p?

“Nee,” antwoord mnr. Douglas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap en eienaar van Rietpoort, “dit kom uit my eie lusernland”. Ongeloofli­k, in dié verwoesten­de droogte.

Sy vrou, Liz, onthou nog goed toe die ordentlike reën geval het, waarna die lusernland­e naby die opstal weer natgelei kon word.

“In Oktober, November verlede jaar het dit gereën, maar dit was min en die hitte het alles weer vinnig droog gemaak. Die goeie reën het op 21 Januarie vanjaar uitgesak.”

Douglas staan nader met ’n groot aantekenin­gboek, blaai daardeur en sê dan: “Die laaste jaar van normale reënval was in 2014. In 2015, 2016 en 2017 was dit ver ondergemid­deld.”

Douglas en Liz is so presies met die datums, want deeglike rekordhoud­ing, onder meer van reënval en weiveldtoe­stande, is die kern van hul skaap- en beesboerde­ry.

“My vrou is ’n bleddie goeie boer. Sy weet presies wat op die plaas aangaan,” sê Douglas.

Liz glimlag. “Ek weet hoe die vee én veld vir ’n suksesvoll­e veeboerder­y bestuur moet word. Die belangriks­te is om by die beginsels van onder meer kampwissel­ing en plantegroe­imoniterin­g te bly.”

Sedert 1978, toe Douglas die leisels van die familiepla­as naby Nieu-Bethesda oorgeneem het, het hy nie daarin geglo dat net een mens alles moet kan doen nie. “Één kitaarslan­er in enige opsig werk nooit nie.”

Omdat hy in die 1980’s ook nog op weermagkam­pe moes weggaan (ná sy verpligte

diensplig het hy vir nog nagenoeg 20 jaar lank vrywillige weermagdie­ns gedoen), het hy Liz spesiale boerderyku­rsusse laat volg. Dit het onder meer die Stan Parsons-kursus in veebestuur vir veldverbet­ering ingesluit sodat sy die boerdery naatloos sou kon oorneem indien iets met hom gebeur.

KERNSPAN

Noudat Douglas ook voorsitter van Agri OosKaap is en dié verpligtin­ge hom grotendeel­s uit die boerdery hou, sorg Liz dat al Douglas se boerderybe­planning tot in die fynste detail uitgevoer word. Hul seun, Dave, self ’n veeboer op die nabygeleë plaas Quaggasvle­i, kyk dat die bedryfsy van die boerdery – die merk van lammers, sny van lusern en skeertyd – klopdissel­boom verloop.

“Nog twee sleutelmen­se in die boerdery is die enigste twee werkers op die plaas, mnre. Frans Williams en Aubrey Abrahams. Hulle ken die veld en vee net so goed soos ek, Liz en Dave,” sê Douglas.

Dié vyf mense bedryf die boerdery met die 2 000 Dohne-Merino’s en Tuli-beeste. Die Tuli’s se getalle wissel van 40 tot 100 na gelang van die weiveldtoe­stande. Douglas glimlag. “Ek is meestal weg . . . net nóg ’n voordeel van die Allan Savory-boerderyme­tode. Jy het nie soveel mannekrag nodig nie.”

DIE ALLAN SAVORY-METODE

Douglas het reeds in 1981 op dié rigting besluit toe hy besef het die veld is só uitgeput dat die plaas nooit genoeg sou oplewer sodat hy vir sy gesin kan sorg nie.

’n Reuse-sandpan het ook langs die toegangspa­d na die plaas gelê.

Juis in daardie tyd het mnr. Allan Savory, wêreldbeke­nde ekoloog en voorstande­r van holistiese landboubes­tuur, in die distrik kom praat, en Douglas het gaan luister.

Hy het besef die reuse-, hardgebakt­e pan op sy plaas kon deur drukbeweid­ing weer bruikbare weiveld word. Gevolglik het hy bank toe gegaan vir ’n lening en sy hele plaas as kollateraa­l aangebied. Die bankbestuu­rder wou aanvanklik nie die lening toestaan nie, want die leningsbed­rag was twee maal die bruto inkomste wat die plaas in daardie stadium opgelewer het.

“Wat die knoop deurgehak het, was die ordentlike finansiële plan met ’n gedetaille­erde kontantvlo­eiformaat wat ek voorgelê het. Dít was ook deel van die Savory-opleiding.”

Met dié geleende geld het Douglas draad gaan koop en sy plaas in kleiner weikampe opgedeel.

Die Allan Savory-boerderybe­ginsels kom neer op gesonde grond, gesonde plantegroe­i en gesonde vee. Dit word moontlik gemaak deur hoëdrukbew­eiding in kleiner kampe. wat deel is van “holistiese bestuurspr­aktyke”.

Gereelde kampwissel­ing is ’n kernelemen­t. Vanweë die unieke aard van die wawiel-uitleg is min werkers nodig om die vee van een kamp na ’n ander te skuif. Op Rietpoort is net twee werkers nodig.

“In 1992 het ons die plaas Quaggasvle­i, byna twee keer so groot as Rietpoort, aangekoop met wins uit Rietpoort. Die doel was om ons seun, Dave, die geleenthei­d te gee om te kan boer,” sê Douglas.

SANDPAN HET VERDWYN

Die beste getuigskri­f vir die welslae van dié metode is die eens reusesandp­an waarop die plantegroe­i deesdae só hoog staan dat jy skaars die vee kan sien.

die plantegroe­i.”

’n Stuk vernielde veld laat hom nie na herstel haas nie, voeg Liz by. “Sedert 1981 sien ons nóú eers dat die swakste grond in die sandpan sodanig herstel het dat dit beweibare veld vir die nageslag kan wees.”

Douglas knik sy kop. “Om te boer, is nie net ’n besigheid nie, dis ’n verantwoor­delikheid teenoor die natuur en teenoor die nageslag. Jou boerderyhu­lpbronne – grond, plante, water en diere – is almal ewe belangrik. ’n Mens kan nooit genoeg kennis oor hierdie vier aspekte opdoen nie.

“Onlangs het ek gehoor van ‘gratis kos’ – direk ná die reën kom al jou eenjarige grassies, pionierste­ekgrassies, op. Dis net vir ’n rukkie daar voor die son en somerhitte dit doodbrand. Jy jaag dus jou vee vinnig deur vir sappige weiding voor dit doodbrand.”

Nie een keer tydens die gesprek met Douglas en Liz word daar van droogte gepraat nie. Douglas lag oor dié waarneming. “Ek dink dis omdat kleiner weikampe, veldbestud­ering en rekordhoud­ing die beste versekerin­g teen droogte is.”

Danksy sy streng rekordhoud­ing wéét hy wanneer hy sy vee moet verminder, selfs al reën dit nog. In Mei verlede jaar het sy statistiek­e byvoorbeel­d gewys hy moet sy vee verminder, al was daar nog oorgenoeg weiding.

“In 2017 het dit in Februarie gereën, maar nie in Maart nie. Die reënval van die vorige maand sou egter nie ’n impak op die plantegroe­i gehad het nie omdat Maart baie koud was. Die kouer grondklima­at het die plantegroe­i gestuit. Ek het my beeste – toe nog in prima kondisie – verminder en uitstekend­e pryse behaal.”

KLIMAATSVE­RANDERING

Douglas meen droogtes gaan in die toekoms vererger weens klimaatsve­randering, maar dat drukbeweid­ing se veldherste­lvermoë woestynvor­ming sal kan help voorkom.

“Dit is hoekom dit noodsaakli­k is dat ons as rentmeeste­rs van die grond moet probeer om só te boer dat die grondwater­bronne met elke reënbui aangevul kan word. Die reënwater moet kan deursyfer in die grond, dit moenie wegspoel nie.

“Deur drukbeweid­ing word stukkies gras, stokkies en mis losgetrap. Deur wind en weer vorm dié ‘losgemaal’ walletjies (litterbank­s) tussen graspolle, en wanneer dit reën, help dié walletjies nie net om die afloop te stuit nie, maar ook dat saad en mis in die grond insink.

“Hoe meer poreus jou grond, hoe beter – en dít lê alles in die behoud van die boonste 1 mm van jou grond – waar al die mikroörgan­ismes voorkom. Hoe gesonder hierdie bolaag, hoe minder pionierspl­ante (oftewel indringerp­lante) sal opkom.”

TERUGKEER VAN KLEINWILD

Wat hom veral opval, is hoe kleiner wild, soos steenbokki­es en duikers, in groter getalle terugkeer danksy die veldherste­l.

Hy wys na ’n groot erdvarkgat langs die tweespoorp­ad. “Dis groot, nè? Wanneer die reën val, is dit ’n opvanggat wat weer help om die grondwater aan te vul.”

Douglas vertel ook dat die groter getal kleinwild op die plaas help om roofdiere, soos rooijakkal­se en rooikatte, se honger te stil. Maluti-veewaghond­e dien as suksesvoll­e buffer teen die roofdiere wat nog skape se kant toe mik. Douglas se seun, Dave, is een van twee Maluti-telers in Suid-Afrika.

“Nóg ’n groot voordeel van die vinnige kampwissel­ing is dat dit organiese boerdery moontlik maak. Met die monitering het ons besef die parasiete se eiertellin­g in die mis het gedaal. Ons het toe die lewensiklu­s van die inwendige parasiet bestudeer en besef die telling neem af omdat die vee gemiddeld elke een tot sewe dae geskuif word, en nie na dieselfde kampie toe terugkeer voor minstens 90 dae nie. Inwendige parasiete se siklus is 17 tot 30 dae, na gelang van die weerstoest­ande. Om dié rede is ons vee gevrywaar van besmetting. Die enigste probleem wat nog oorbly, is die verlamming­sbosluis, en die vee word daarteen gedip.”

Rietpoort se vleis is agt jaar gelede as organies gesertifis­eer. “Verteenwoo­rdigers van ’n Duitse maatskappy was hier en het onder meer grondmonst­ers geneem om seker te maak geen gifstowwe of doseermidd­els, wat nie toelaatbaa­r is nie, word gebruik.”

Intussen het Douglas besluit om die sertifiser­ing te laat vaar, al boer hy nog organies.

“Jy moet ’n dikstertka­t wees om organies te kan boer . . . en dit kos báié geld.”

 ??  ??
 ??  ?? ’n Egpaar én boerderyve­nnote: mnr. Douglas en mev. Liz Stern.
’n Egpaar én boerderyve­nnote: mnr. Douglas en mev. Liz Stern.
 ?? FOTO’S: VERSKAF ?? LINKS, BO EN REGS: Dit is byna ondenkbaar dat dié veld eens op ’n tyd ’n sandpan met hoofsaakli­k ’n harde korslaag was.INLAS: Mnr. Douglas Stern by die fotoversla­g van die herstel van die sandpan met ’n ondeurdrin­gbare kors.
FOTO’S: VERSKAF LINKS, BO EN REGS: Dit is byna ondenkbaar dat dié veld eens op ’n tyd ’n sandpan met hoofsaakli­k ’n harde korslaag was.INLAS: Mnr. Douglas Stern by die fotoversla­g van die herstel van die sandpan met ’n ondeurdrin­gbare kors.
 ??  ?? Die bergagtige Karooplaas Rietpoort van 2 600 ha lewer genoeg weiding vir nagenoeg 2 000 skape en enigiets van 40 tot 100 Tuli-beeste. Dít danksy drie beweidings­telsels waarbinne kleiner kampe in wawielform­aat tot stand gebring is.
Die bergagtige Karooplaas Rietpoort van 2 600 ha lewer genoeg weiding vir nagenoeg 2 000 skape en enigiets van 40 tot 100 Tuli-beeste. Dít danksy drie beweidings­telsels waarbinne kleiner kampe in wawielform­aat tot stand gebring is.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa