TALLE GEBREKE IN VERSLAG UITGEWYS
DIE gebrek aan kommunikasie tussen staatsdepartemente, tussen nasionale en provinsiale departemente en tussen die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die landbou plaas ’n demper op samewerking, luidens ’n verslag van die Departement van Landbou.
Die departement het die verslag op ’n inligtingsessie op Centurion bekend gemaak ná ’n reeks vergaderings met kommoditeitsgroepe om probleme en voorrangsake te bespreek. Die doel van die vergaderings was om die planne van verskillende platforms, vergaderings en strukture te integreer sodat alle belanghebbendes op hoogte daarvan is, hoe dit toegepas gaan word en die probleme wat daarmee voorsien word.
Die betrokke departement meen die Regering en die onderskeie landboubedrywe moet beter saamwerk om die tekort aan hulpbronne in die landbou uit die weg te ruim.
Sy strategiese plan vir 2019 tot 2024 is ook bekend gestel.
VOEDSELVEILIGHEID
Luidens die verslag behoort die departement op vleisveiligheid – spesifiek die monitering van residu – klem te lê omdat sekere gebreke ten opsigte van voedselveiligheid deur die onlangse uitbreking van listeriose uitgewys is.
Nog ’n probleem is dat die Europese Unie (EU) nie vertroue het in Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer nie. Volgens die departement moet hy en die bedryf dus saamwerk om bottelnekke uit die weg te ruim wat sy vermoë kortwiek om die nodige versekering aan die land se handelsvennote te gee dat voldoende dieresiektebeheermaatreëls toegepas word.
Suid-Afrika het sy status oor bek-en-klouseer tot aanstaande jaar behou ondanks die EU se bekommernisse. Egipte het egter die invoer van Suid-Afrikaanse produkte weens die uitbreking van slenkdalkoors in die Vrystaat gestaak.
Mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê dit is daarom belangrik dat die departement en die veebedryf saamwerk om stelsels en prosedures te verbeter sodat die internasionale gemeenskap daarmee tevrede sal wees.
IDENTIFIKASIE VAN DIERE
Die departement meen wysigings aan die Wet op die Identifikasie van Diere, die Wet op Veediefstal en die voorgestelde wet op die beweging van diere moet in pas met mekaar gebring en afgehandel word.
Volgens die departement maak wetgewende beperkinge dit moeilik vir opkomende boere om tot die mark toe te tree. Die departement sê boonop plaas dit ’n struikelblok in sy pad om die waardeketting suksesvol te transformeer en om gepaste infrastruktuur te ontwikkel.
’n Vee-identifikasie-en-naspeuringskomitee is deur die departement en die bedryf in die lewe geroep. ’n Beleidsraamwerk is in dié opsig ontwikkel en in die Staatskoerant afgekondig. Dit sal egter net in werking gestel kan word as menslike en finansiële hulpbronne bekom word.
Intussen het die departement se afdeling vir inligtingstegnologie daarin geslaag om die diere-identifikasie-databasis (Aida) in ’n nuwe platform te omskep. Volgens Schutte is dit steeds ’n knelpunt om dié databasis van handelsmerke (soos brandmerke) in orde te kry. Die bedryf het voorgestel dat eienaars van brandmerke weer ’n registrasieproses volg en dormante brandmerke verwyder word.
Die aanstelling van ’n derdeparty-agentskap om by slagplase, voerkrale en veilings op te tree, kan oorweeg word.
INISIATIEWE BY DIE DEPARTEMENT
Die onafhanklike vleisinspeksieskema is nou in werking en instansies is bemagtig om die diens te lewer. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ook die vleisinspeksieadviesforum daargestel om onafgehandelde aangeleenthede te bespreek en dié forum vergader gereeld.
Volgens Schutte behoort nou hoofsaaklik aandag geskenk te word aan die daarstelling van ’n nasionale standaard vir die dienste wat gelewer word.
Landelike slagplase behoort deur die Regering gediens te word, maar geen hulpbronne is vir dié doel toegestaan nie.
Een van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se ander projekte, die verpligte gemeenskapsdiensjaar vir afgestudeerde veeartse (wat werksgeleenthede vir dié beroep skep), beleef tans ’n probleem.
Die mens wat die proses bestuur het, het bedank. Daar is ’n moratorium op poste geplaas. Dit beteken dat die program ter waarde van R100 miljoen wat die Regering toegestaan het, nou ’n gebrek aan hulpbronne ondervind.
Schutte meen dit is baie belangrik dat dié uiters belangrike pos gevul word.
Die departement se dieregesondheidkomponent gaan ook mank aan hulpbronne. Die dieresorgbeleid wat in die Parlement ter tafel gelê is, het nie sy oorsprong in die departement nie en daar moet toegesien word dat alle relevante aangeleenthede by die wetgewing ingesluit word.
Die ontwikkeling van beleid rondom infrastruktuur om laboratoriums te bestuur vorder te stadig weens ’n gebrek aan hulpbronne.
HINDERNISSE
Ander probleme volgens die departement, sluit in: Operasie Phakisa het gewys dat kleinboere nie toegang tot uitvoermarkte sal verkry as groot voerkrale nie aan die proses deelneem nie. Groot rolspelers se verbintenis word benodig om handelshindernisse te oorkom. Boere se klem behoort daarop te wees om produkte vir plaaslike kliënte te lewer, aangesien die informele mark groot geleenthede bied. Die bokvleismark is meestal informeel en dit kan benut word om marktoegang te verbeter. Die Regering het die bedryf se ondersteuning nodig om vir handelsooreenkomste te beding. Die markte in Viëtnam en China is oop vir Suid-Afrikaanse produkte en dit behoort ontgin te word. Die RPO het die inligtingsessie bygewoon. Volgens Schutte is sy organisasie tevrede met die rigting wat die departement inslaan en die vlak van samewerking tussen die RPO en die departement.
‘Stelsels en prosedures móét verbeter sodat die internasionale gemeenskap daarmee tevrede is.’