GEÏNTEGREERDE PLAAGBESTRYDING VIR VEEBOERE
Alternatiewe parasietbestryding by vee kom toenemend in die kollig namate parasiete weerstand teen chemiese middels ontwikkel.
Moontlike alternatiewe is biologiese en fitochemiese middels, genomiese seleksie van diere wat weerstandiger teen parasiete is, voedingaanvullings, doeltreffende weidingbestuur, en dat minder middels meer strategies toegedien word, sê dr. Heinz Meissner, veekundige konsultant.
Jare lank is parasiete by herkouers hoofsaaklik chemies bestry, sê hy. Dit was grootliks suksesvol. Met die ontwikkeling van anthelmintiese middels in die private sektor, soos ivermektien, was daar min aansporing vir wetenskaplikes in die openbare sektor, soos by Onderstepoort, om toegewyde navorsing oor alternatiewe parasietbestryding te doen.
“Die gevolg was ’n afname in (akademiese) vermoë. Wetenskaplikes kundig op dié gebied het net al hoe ouer geword.”
Intussen het inwendige en uitwendige parasiete, nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld heen, toenemend weerstandig teen die bestaande middels begin word. Daarom moet alternatiewe en holistiese benaderings nou beter ondersoek word, sê Meissner.
Die skep van ’n leerstoel oor weerstand teen parasietdoders aan die fakulteit veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria word nou in die vooruitsig gestel.
Intussen is ’n postdoktorale pos ook vir dié doel geskep.
Dr. Charles Byaruhanga is daarin aangestel. Hy sal navorsing begin, meesters- en doktorsgraadstudente oplei, en landwye navorsing en ontwikkeling van alternatiewe bestrydingsmiddels koördineer.
In ’n onlangse werksessie op Onderstepoort was wetenskaplikes dit eens dat ’n benadering van voorkoming pleks van behandeling voortaan nodig is.
“Waar behandeling nodig is, behoort dit selektief te wees, en net vir die diere wat dit werklik nodig het. Hulle kan onder meer met die Famacha-stelsel en die monitering van aktiwiteit geïdentifiseer word,” sê Meissner.
In die werksessie is onvoldoende opleiding van veeartse in parasitologie, immunologie en die fisiologie en genetika van weerstandigheid ook bespreek. Dié onderwerpe behoort beter in veekundige studente se kurrikulums gedek te word, sê Meissner.
’n Nasionale werkkomitee gaan nou aangestel word om ’n oplossing vir dié kwessie te soek.