DIE ANDER SÊ
ONTEIENING sonder vergoeding kan Suid-Afrika aan die verkeerde kant van die internasionale regstelsel laat beland, waarsku mnr. Peter Leon, een van die wêreld se voorste mynregkenners.
Dit is ’n aanvaarde internasionale regsbeginsel dat ’n land nie eenvoudig binnelandse wetgewing kan toepas om sy verpligtinge kragtens internasionale reg te ontduik nie. Buitelandse beleggers kan hulle dus ondanks ’n land se wette steeds op bilaterale handelsverdrae beroep. Verder geld baie van dié beskermings lank ná die verdrae verval. Só beskerm die verdrag tussen Brittanje en Suid-Afrika byvoorbeeld beleggers se regte vir ’n verdere 20 jaar nadat die verdrag tot ’n einde loop.
Daar is ook ’n sterk argument uit te maak dat die “regverdige en billike” vergoeding wat die Grondwet voorskryf in die geval van ’n buitelander minstens sal voldoen aan die standaarde van internasionale gemenereg, of aan enige ander internasionele bilaterale ooreenkoms. Dit is omdat die Grondwet self die Regering (én die howe) dwing om by internasionale ooreenkomste te hou.
Laastens kan ’n hof nie die openbare belang daarvan ignoreer om te verseker Suid-Afrika verbreek nie sy internasionale verpligtinge en verkwis dan skaars hulpbronne op die verdediging van ’n internasionale eis nie. As die Grondwet geïnterpreteer – of gewysig – word om buitelanders se grond sonder enige vergoeding te onteien, kan Suid-Afrika kwesbaar raak vir arbitrasie-eise wat die staat potensieel veel meer sal kos as die markwaarde van die onteiende beleggings.