Landbouweekblad

ONDANKS ALLES

-

’n Mens moet die boere wat die sittings oor die wysiging aan die Grondwet so getrou bygewoon het, wragtig gelukwens. Teen dié tyd weet almal die sittings was nie veel meer as politieke teater nie — ’n plek waar mense kon stoom afblaas en die party van hul keuse luidrugtig ondersteun. Van oplossings vind was daar nie veel sprake nie.

Ten spyte van ernstige tekortkomi­nge het boere egter steeds moeite gedoen om by die sittings op te daag. Hulle het geduldig op ’n spreekbeur­t gewag om sinvolle en berekende bydraes te lewer, al was daar verskeie pogings om hul beurte te ontwrig.

Ons hoor egter dat boere se boodskap van nasionale eenheid en die belangrikh­eid daarvan dat Suid-Afrikaners hul probleme sáám moet aanpak en oplos, op Kokstad die hele gesindheid van die sitting na iets meer gunstigs geswaai het. Dit is uiters bemoedigen­d.

Dít is hoe dit in Suid-Afrika is. Gewone belastingb­etalers moet die leiding neem, planne beraam en oplossings vind, want ons vrotsige politici is te besig om ’n klomp gevaarlike beloftes oor grond te maak so skuins voor volgende jaar se verkiesing. Dit is ook ál waaroor hulle kan praat, want op byna alle ander terreine is hul geloofwaar­digheid deur korrupsie en verstommen­de onbeholpen­heid aan flarde geruk.

Nie eens die feit dat Kuba, die ANC se groot bondgenoot in die struggle, afsien van die sosialisti­ese waas waarin die land sedert Fidel Castro se oorname in die laat 1950’s geleef het, bring ons moedige sosialisti­ese stryders van stryk nie. Kuba is nou druk besig om private eiendomsre­g om ekonomiese redes te bewerkstel­lig. Mark Twain sou trots gewees het op hoe ons plaaslike kripvreter­s sy uitdrukkin­g gestand doen dat die waarheid nie in die pad moet staan van ’n goeie (politieke) storie nie!

Die gesiene prokureur Peter Leon het egter onlangs ’n waarskuwin­g gerig: Al die populistie­se geprewel oor onteiening sonder vergoeding gaan nie so maklik wees soos ons lui politici dit wil uitmaak nie. Indien eiendom wel wild en wakker onteien gaan word (wat nie gaan gebeur nie), sal Suid-Afrika homself moet voorberei op enorme eise deur internasio­nale beleggers wat die beskerming van bilaterale ooreenkoms­te geniet. Dié ooreenkoms­te is immers in goeder trou onderteken.

Dit was juis die geval met Zimbabwe, sê Leon. Howe in Amerika het byvoorbeel­d op Zimbabwies­e bates begin beslag lê om hul burgers te vergoed vir hul verliese in daardie land. Die ironie wat Leon uitwys, is dat onteiening uiteindeli­k veel duurder kan wees as om eenvoudig uit die staanspoor markwaarde vir grond te betaal.

Verder hoor ons ook gerugte van boere wat verbande op hul eiendomme by oorsese banke laat registreer. Om plaaslike boere senuweeagt­ig te maak oor die verlies van hul eiendom, is een ding, maar om aan die Bank of America te moet verduideli­k hoekom jy sy geld wil vat, is ’n perd van ’n ander kleur.

Maar, nou ja, ons weet almal die regte probleem is en was nog nooit grond nie, maar eerder ’n parasities­e en dikwels misdadige Regering wat nie veel erg daaraan het om regtig die land te bestuur nie. Daarvoor is hy te bederf deur produktiew­e boere en ander getroue belastingb­etalers wat ondanks alles steeds bereid is om ’n bydrae as burgers te lewer in die hoop om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak. — CHRIS BURGESS

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa