’NSLEGTEEN ONTYDIGE IDEE
Die huidige debat oor onteiening ignoreer ’n paar waarhede oor die landbou, en misken dalk ook die vordering wat reeds gemaak is, berig NICO VAN BURICK.
TWEE van Suid-Afrika se voorste landbou-ekonome redeneer aan die hand van data in die openbare domein dat tot 21% van die landbougrond buite kommunale gebiede in Suid-Afrika al aan begunstigdes oorgedra is.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van besigheid s navorsing by die sakekamer Agbiz, en dr. Tinashe Kapuya, landbouhandel spesialis verbonde aan USAid, skryf in ’n inligtingstuk van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), die totale hoeveelheid grond wat ingevolge restitusie oorgedra en herverdeel is, asook deur die staat buite kommunale gebiede aangekoop is, beloop 15,039 miljoen ha.
Hulle sê volgens amptelike syfers in die Parlement verlede jaar is 4850100 ha herverdeel deur regerings programme ,3389727 ha is ingevolge grondeise oorhandig, en vir 2 772 457 ha is geldelike vergoeding uitbetaal. Daarby het die staat meer as 4 000 plase opgekoop wat waarskynlik die 4,027 miljoen ha in staatsbesit opmaak, soos vermeld in die Regering se 2015-grondoudit.
Dis egter nie al nie, sê hulle. Volgens navorsing van die Universiteit van Pretoria kon swart kopers reeds tot 4,8 miljoen ha in private transaksies by hoofsaaklik wit grondeienaars gekoop het. Selfs al word die syfer gehalveer om konserwatief te wees, is dit steeds 2,4 miljoen ha, wat die landbougrond in swart hande op 17,439 miljoen ha te staan bring.
Die twee sê dit is gelykstaande aan 21% van die 82,759 miljoen ha landbougrond buite kommunale gebiede.
“Dit bring ons baie nader aan die 30%-teiken as wat algemeen geglo word. Baie kan egter gedoen word om hierdie grondhervorming s plase kommersieel volhoubaarder te maak.”
WAT VAN PLAASSKULD?
Hulle sê ook dat beleidsvoorstelle dikwels die “ongemaklike waarheid” ignoreer dat Suid-Afrikaanse plase glad nie so winsgewend is dat dit baie mense kan onderhou nie. Slegs 4% van alle plase in die land het ’n omset van meer as R5 miljoen per jaar, en verdienste op beleggings is gewoonlik laag (gemiddeld 6% in ’n goeie jaar).
Daarby het die meeste boerderye skuld, wat wissel van 30% tot 50% van die batewaarde. Plaasskuld styg sedert 1980 met sowat 2% per jaar. Teen 2016 was dit R145 miljard ( GRAFIEK 1 ). Vanjaar word dit op sowat R160 miljard geskat, veral weens die vorige jaar se droogte.
In 2016 was handelsbanke se aandeel van die plaasskuld 62%, gevolg deur die Land Bank met 27% en landboumaatskappye met 7%. Die res is aan private mense en ander finansiële in- stellings verskuldig ( GRAFIEK 2 ). Sihlobo en Kapuya meen die verhouding sou sedertdien min of meer dieselfde gebly het.
WERKLIKHEDE
Hulle sê dit is teleurstellend dat die mense wat die eiendomsklousule in die Grondwet hersien, nie ag slaan op die werklike vordering met hervorming nie en die finansiële werklikhede ignoreer.
“Eerstens, as onteiening sonder vergoeding geskied, wat word van die ander bates en verbeterings op die grond? Die grond is gewoonlik sowat 10% van die waarde van ’n tipiese boerdery. Gaan die infrastuktuur en plaaswerktuie ook onteien word of gaan die Regering die boer met 90% vergoed om die 10% wat die werklike waarde van die grond verteenwoordig, te bekom?”
Tweedens is daar die kwessie van die skuld aan die banke en ander instellings. Indien hulle nie vergoed word nie, word R160 miljard van banke se balansstate uitgewis.
“Met die voordeel dat ons die nadelige gevolge in Zimbabwe kon sien, moet Suid-Afrika besef onteiening sonder vergoeding kan onherstelbare skade aan die grondmark aanrig deur die waarde van grond en bates te vernietig en beleggings te kelder.
“As die Regering op private grond beslag lê, sal iemand êrens in die ekonomie die prys moet betaal, ongeag of dit regstreeks is of deur verliese aan werksgeleenthede op plase, uitvoerinkomste en ’n inkrimping in die ekonomie, wat die koopkrag van mense se geld sal verlaag.
“Zimbabwe het bewys dat onteiening sonder vergoeding ’n rampspoedige idee is,” sê hulle.
BESTAANDE MODELLE
Hulle meen dit is ironies dat Suid-Afrika se voorstelle juis in ’n tyd kom waarin Zimbabwe sy foute van die verlede probeer regstel en’ n vergoedings komitee gestig het om wit kommersiële boere wie se grond onteien is, te vergoed.
Zimbabwe het betaal vir sy onteiening deur agt jaar se ekonomiese agteruitgang wat gelei het tot werkverliese van tot 90% en ’n verlies aan uitvoerinkomste. Die ekonoom mnr. Eddie Cross het die verliese weens die radikale grond hervormingsprogram op VSA $20 miljard( sowat R264 miljard) geraam.
Sihlobo en Kapuya stel voor die Regering kyk eerder na bestaande modelle wat nog nie ten volle beproef is nie, soos voorstelle in die Nasionale Ontwikkelingsplan, onder meer die identifisering van oordraagbare plase op distriksvlak en die gesamentlike finansiering daarvan deur die staat, die Land Bank en boere in die distrik.