INHEEMSE NAMAKWA-AFRIKANERSKAPE VIR RASEGTHEID GETOETS
bedreigde, inheemse Namakwa-Afrikanerskaap ras het voordele, maar is alle kuddes wat as sulks aangebied word, raseg?
Dít was die onderwerp van navorsing deur dr. Lise Sandenbergh, voorheen van die Wes-Kaapse departement van landbou.
Namakwa-Afrikanerskape het weerstand teen uitwendige parasiete, soos bosluise, het minder uierprobleme en lewer goeie reproduksie, maar het ’n swakker vleisopbrengs as rasse wat al dekades lank vir groei en vleisproduksie geselekteer is.
Die inherente weerstand van NamakwaAfrikaners teen bosluise is belangrik omdat chemiese bekamping van sulke plae nie volhoubaar is nie. Geharde rasse kan ook van belang wees by veranderde boerdery toestande weens klimaatsverandering.
Gegewe die bedreigde status van Namakwa-Afrikaners as ras, is dit belangrik om te weet of die kleiner bewaringskuddes van die ras wat onderhou word, raseg is.
Sandenbergh het genomiese metodes gebruik om vas te stel of drie kuddes wat as bewaringskuddes aangebied is, inderdaad rasegte Namakwa-Afrikaners is.
Prof. Schalk Cloete van die Wes-Kaapse departement van landbou het Sandenbergh se navorsingsresultate op die 11de Wêreldkongres vir Genetika Toegepas op Veeproduksie van 11 tot 16 Februarie in Auckland, Nieu-Seeland, aangebied. Hy sê vir die eksperiment is diere uit die kuddes vergelyk met rasegte Namakwa-Afrikaners wat op die Wes-Kaapse departement van landbou se Nortier-navorsingsplaas loop.
Dit was inderdaad moontlik om te bevestig dat twee van die bewaringskuddes wél rasegte Namakwa-Afrikaners is, terwyl die ander kudde nie as raseg bevestig kon word nie.
’n Ontleding van ander inheemse vetsterttipes en saamgestelde kommersiële rasse met vetstert- of vetkruistipes as ouers, soos die Dorper en Meatmaster, het getoon laasgenoemde kudde het waarskynlik uit kruisings van daardie rasse met ander vetsterttipes ontwikkel.
Cloete sê persone of instellings wat betrokDie ke wil raak by die bewaring van bedreigde, inheemse rasse, soos die Namakwa-Afrikaner, moet seker maak hul basiskuddes bestaan wel uit rasegte individue van die ras.