SÓ HET SENSUS GEWERK
Om ’n provinsiewye landbousensus te doen, is geen geringe taak nie.
Volgens mnr. Eddie Viljoen, direkteur van SiQ, wat die sensus behartig het, moes hulle alle landerye bywerk en karteer, asook data byhou van die liggings van winter- en somergewasse. Daarbenewens is veeproduksie en akwakultuuraktiwiteite (sowel as die infrastruktuur vir albei) gekarteer. Hulle het ook die landelike gemeenskappe, die regerings- en ontspanningsgeriewe wat plaasbewoners ondersteun, en landboutoerismegeriewe op kaarte aangedui.
“Dis die datastel wat die meeste deur die Departement van Landbou versoek word. Dit help met landelike beplanning, voedselsekerheid en ruimtelike statistieke.”
SiQ se mense het met vliegtuie en helikopters oor die gebiede gevlieg en inligting bygehou van wat op die grond was. Dit moes twee keer – in die winter en in die somer – gedoen word. Daarna is opnames met voertuie gedoen en dit is uiteindelik met telefoniese onderhoude opgevolg.
En wat het hulle gekry? Altesame 106 gewasse en 13 verskillende vee- en wildsoorte.
Die gewasse bestaan uit altesame 11 soorte graan-, lupiene en oliesaadgewasse, 26 vrugtegewasse, 36 soorte groente, 12 soorte neute en bessies, 6 soorte blomme en kruie, 2 soorte tees, 3 verskillende soorte wingerd, 3 weidingsgewasse (3 gewasse is as “ander” geklassifiseer).
Daar is ook 3 023 landboutoerismepersele gevind, 1 465 landbouverwerkingsaanlegte en 7 300 individuele tonnels.