Bonsmaras blink uit in fase C-toetse
Suid-Afrikaanse Bonsmara-telers lê opnuut klem op voerdoeltreffendheid. Dít is duidelik aan die getal fase C-toetsstasies waarby Bonsmara-telers goed inskakel en self ook opgerig het.
Mnr. Nick Serfontein, voorsitter van die bekende Sernick-groep buite Edenville in die Vrystaat, is ’n voorloper wanneer dit kom by fase C-toetse.
Dié boerdery was in 1990 die eerste in Suid-Afrika wat ’n private fase C-bultoetsstasie opgerig het. Dit is onlangs met ’n splinternuwe ingevoerde DeLaval-toetsstasie vervang, met 18 voerstasies wat elk 12 diere kan huisves. Altesame 216 diere kan dus per siklus getoets word in drie toetssiklusse per jaar.
Die nuwe stelsel het die jongste sagteware en gee meer én akkurater inligting as die vorige een.
Nóg telers besef die voordele van fase C-toetse. Sommige, soos Serfontein, is al geruime tyd besig met die toetse om voerdoeltreffendheid te meet. Onder hulle is bekende telers, soos mnr. Boeram Venter van Disco Bonsmara naby Addo in die Oos-Kaap.
Ander Bonsmara-telers is weer aan die begin van hul ervaring met die stelsel en wag op die eerste uitslae. “Ek sal oor ’n paar maande goeie terugvoering kan gee oor wat dié toetse vir my kudde en seleksieproses beteken,” sê mnr. Izak Cronjé van Leeuwbult Bonsmaras naby Theunissen in die Vrystaat.
Almal se boodskap is: Die belangrikheid van voerdoeltreffendheid is onderskat, en dit gaan telers met ’n goeie begrip van betroubare datawerwing en die interpretasie daarvan verg om beter teelbesluite te neem en die Bonsmara-ras te verbeter.
“Benewens my Bonsmaras het ek ook ’n hoenderboerdery. Daar meet ons tot op drie desimale syfers wat die voeromsettingsdoeltreffendheid is. Die voerrekening maak dít ’n noodsaaklikheid om so presies te meet.
“In die verlede is fase C-toetse in die beesbedryf afgeskeep, maar hierdie syfers raak al hoe belangriker veral omdat genomiese ontleding die toekoms is. Die betroubaarheid en voorspelbaarheid van produksiesyfers is baie belangrik vir die bedryf.
“Fase C het nie wegkruipplek nie. Ons weet watter bulle die beste presteer en watter nie. Oor vier of vyf jaar gaan jy moeilik ’n bul verkoop kry teen ’n goeie prys as hy nie ontleed is nie. Vroeër is te veel op slegs fenotipe besluite geneem.”
Venter verwys na die Bonsmara-bul wat in Julie ’n rekordbedrag van R1,8 miljoen op ’n veiling van Up George Bonsmaras behaal het. “Daardie bul se grootste bate is sy syfers. Hoe anders belê jy so ’n groot bedrag in jou kudde se toekoms?”
Hy toets self 30 tot 50 bulletjies op ’n slag by sy fase C-toetsstasie en sien uit daarna om sy goeie bulle op 12 September op die mark te sit.
SYFERS PRAAT
Landbouweekblad het in die uitgawe van 16 Februarie vanjaar ’n onderhoud met Serfontein gevoer oor sy fase C-toetstasie en wat die uitslae vir hom beteken.
“Uit ’n ekonomiese oogpunt is seleksie vir voerdoeltreffendheid drie tot ses keer belangriker as die seleksie vir die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT). Hoe swakker die voedingstoestand, hoe groter word die verskil. Inligting uit Australië wys dat dit in uiters ekstensiewe toestande 14 keer belangriker is.
“Naas reproduksie is voerdoeltreffendheid die hoogste met wins gekorreleer. Dit het geen nadelige newe-effekte nie, soos in die geval van seleksie vir GDT wat geboortegewig kan verhoog,” sê Serfontein.