Só kan PMA in Afrika uitbrei
Die PMA is ’n netwerk van belanghebbendes in die vrugte- en groentewaardeketting. In die PMA-netwerk in Suider-Afrika behoort almal saam te werk aan die toekoms van die varsproduktebedryf en spesifiek in Afrika.
Die sukses van die varsproduktebemarkingsvereniging PMA is daarvan afhanklik om almal aan boord te hê, sê me. Lindie Stroebel, algemene bestuurder van PMA Suider-Afrika.
Die PMA het as internasionale liggaam in 2009 slegs ’n hand vol Suid-Afrikaanse maatskappylede gehad. Hierdie bedryfsleiers het die visie gehad om die waarde van ’n varsproduktenetwerk, in verbintenis met die wêreldwye netwerk, plaaslik te ontsluit.
Ná byna ’n dekade het die plaaslike netwerk tot amper 100 maatskappylede gegroei. Sedert ’n spesifieke, plaaslike strategie twee jaar gelede in werking gestel is, het die plaaslike klem en waarde meer tot sy reg gekom.
Met die kleinhandelaars wat ’n sterk spoor reg oor Afrika het, en vars produkte wat tussen die Afrikalande verhandel word, is die netwerk eintlik reeds kontinentaal, wat met die wêreldwye PMA-netwerk verbind is. Die betrokke maatskappye, en die ledegroei, betrek ook al hoe meer boere vanuit SuiderAfrika.
Die visie om ’n volwaardige PMA Afrika-netwerk te vestig hang af van die lede om die waarde te ontsluit en Afrika se varsproduktebedryf gesamentlik te ontwikkel.
Afrika het hope potensiaal, sê Stroebel, naamlik die onderbenutte hulpbronne wat vir optimale landbouproduksie gebruik kan word en vir die groei in verbruikersbesteding, wat tot ’n vraag na vars produkte lei.
Dit is dus ingestel op die vraag na ’n netwerk van belanghebbendes wat hierdie ruimte benut om die beste, veiligste en bekostigbaarste vars produkte in Afrika te verbou, te verhandel en te verbruik. Die potensiaal vir die lande van die vasteland om onder mekaar, asook met die res van die wêreld handel te dryf is legio, maar is wel afhanklik van die infrastruktuur, stelsels en ’n netwerk kundigheid, diensverskaffers en handelsvennote – presies wat die PMA bied.
“Die verskuiwing van wêreldwye ekonomiese magte en verbruikersmarkte is strategies belangrik omdat dit veranderinge in globalisering en -handel regstreeks weerspieël,” sê Stroebel.
“Die Europese markte sal vir eers ons belangrikste uitvoerbestemming bly, maar groei in dié mark word nie verwag nie. Ontluikende markte is só opgestel om ses uit die sewe plekke van die grootste ekonomieë ter wêreld teen 2050 in te neem. Daaronder sal China, Indië en Indonesië tel.
“Ons moet daarop klem lê om voordeel te trek uit die groei in verbruikersbesteding in China en Indië en om bestaande markte in Europa en Amerika te onderhou. Die geografiese toeganklikheid van die Arabiese markte en die optimalisering van die potensiaal van interkontinentale handel moet ook ondersoek word,” sê sy.
INFORMELE MARK
Terwyl internasionale handel, oorgrenshandel in Suider-Afrika, plaaslike en streekshandel met supermarkte baie belangrik is, bly die informele mark steeds ’n groot faktor in Suid-Afrika en ander lande in Afrika.
“Straatverkopers, spaza-winkels en ander klein verkopers van vars produkte koop tipies hul produkte van sogenoemde bakkiehandelaars of self regstreeks by die varsproduktemarkte. Hierdie informele segment speel ’n groot rol om vars produkte by die verbruiker te kry – veral by minder gegoede verbruikers,” sê Stroebel.
“Sommige van die grootste verskaffers van tamaties en uie in die land reken dat meer as die helfte van hul produkte uiteindelik deur informele markte verkoop word. Daar is ’n groot potensiaal daarin om dié markkanale te ondersteun om sodoende toegang tot hierdie verbruikersegment te verkry.”