Landbouweekblad

Luister na Goddelike raad Moenie goeie raad minag nie.

- ANGUS GESELS

Dikwels wanneer boere mielies of koring plant, is die seisoen wisselvall­ig. Ons kan egter nie halfpad tou opgooi nie, want ons weet nie wat môre vir ons inhou nie. Môre kan netsowel daardie reënbui bring wat ons nodig het om die oes groot te maak.

Pred. 4:13 sê: “’n Jong man wat arm is, maar verstandig, is beter as ’n koning wat oud is, maar dwaas en hom nie meer wil laat waarsku nie.”

Ons moet nooit goeie raad van die hand wys nie, want dit kan die oes – en inderdaad die hele plaas – red.

Ek onthou altyd die storie wat my ou vader vir my vertel het toe ek nog ’n seuntjie in Skotland was. Daar was ’n paar ou boere wat ’n jong veearts ontbied het. Hul melkkoei het gesukkel om te kalf. Die jong gegradueer­de het die kalf uitgetrek en gesê: “Daar’s hy!” Die ou boere het gelag en gesê: “Ja, ons weet daar was ’n kalf in die koei.” Die jong man het baie nederig geantwoord: “Ja, menere, maar julle het nie geweet daar is twee kalwers nie.” Hy het toe ook die tweede kalf uitgetrek en natuurlik was die ou manne rooi van skaamte.

Die boer se grootste vyand is arrogansie en trots. Die meeste suksesvoll­e boere wat ek al ontmoet het, vra altyd vrae. Hulle wil leer en uitvind wat die nuutste metodes is. Dit is diegene wat altyd baie te sê het, maar min tyd het om te luister, wat nie suksesvol is nie.

Onthou, God het vir ons twee ore en een mond gegee. Hy wil hê ons moet twee keer soveel luister as wat ons praat. Moenie goeie raad minag nie.

Toe ek nog aktief geboer het, het ek en my trekkerbes­tuurder dikwels gesels oor wat ons vir die volgende oes gaan doen.

Hy het my gereeld iets vertel wat hy by ’n boer geleer het by wie hy eers gewerk het. Daardie raad het ons dikwels in ’n droogte, oorstromin­g of noodgeval gered.

Martin Luther het gesê die drie grootste deugde van ’n groot man van God is nederighei­d, nederighei­d en nederighei­d. Wanneer ons nederig bly, sal mense vir ons Goddelike raad gee.

Lekker boer.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa