Grootkuil huisves top-Afrikanerkoeie
Op Grootkuil in die distrik Theunissen in die Vrystaat word Afrikanerbeeste al jare lank geteel. Sewe agtereenvolgende wenners van die Elite-koeikompetisie is ook van daar af.
Grootkuil-Afrikaners in die Vrystaat is een van Suid-Afrika se oudste beeskuddes. Dit word sedert 1951 deur die Cronjés besit. “Izak Cronjé, my oupa, het die plaas in 1951 gekoop by ene mnr. Cook, wat toevallig toe met Afrikaners geteel het,” sê mnr. Pierre-André Cronjé, die kuddebestuurder.
As ’n stoetteler spruit goeie besigheid uit ’n vertrouensverhouding. “Oor die jare heen is seker duisende verhoudings opgebou met tevrede klante, wat teeldiere by ons gekoop het,” sê Cronjé.
“Dit is steeds vir my baie interessant as iemand my met geesdrif vertel van die bul wat hulle jare gelede by my pa of my oupa gekoop het. Dit het my net weer laat besef dat van die beste teeldiere oor die jare heen verkoop is aan verskeie klante in alle uithoeke van Suid-Afrika en ons buurlande. Verlede jaar is twee bulle byvoorbeeld na Zambië uitgevoer.”
Die stoetery het oor die jare heen verskeie eerbewyse ontvang wat getuig van die gehaltediere wat geteel word.
“Ek meen die kudde se sukses lê in die deurlopende soeke na beter diere en alle hulpmiddels is daarvoor ingespan. Dié kudde is een van die eerste kuddes in Suid-Afrika wat vroeg in die 1960’s met prestasietoetsing begin het. Sedert BLUP-teelwaardes beskikbaar geword het, is dit in die kudde gebruik met die teling, maar dit is nie so belangrik vir bemarking nie,” sê Cronjé.
Deur jare se toegewyde teling en die noukeurige byhou van produksie-aantekeninge het die stoetery die hoogste sport bereik. Die koeie se reproduksieprestasie is van die grootste belang. Die ideale Grootkuilkoei het ook goeie bespieringseienskappe, spene en loopvermoë.
DEK- EN KALFTYE
Somer- en winterkalftye word gebruik en vroulike diere het net een kans om nie beset te raak nie. Vroeër jare is ’n horing geverf as die koei nie gekalf het nie, maar “vandag het ons darem teelwaardes en meer gevorderde vorms van aantekeninge byhou”.
Benewens voortgesette prestasie-aantekeninge skryf Cronjé die stoetery se besonderse vrugbaarheid toe aan dié stelsel met sy twee kalftye per jaar wat sy pa, wyle mnr. Johan Cronjé, ingestel het. Die kalftyd in die winter duur twee maande en in die somer vier maande. Die kalwers word in twee prestasietoetsgroepe ingedeel.
Hoewel Cronjé die somerkalftyd in normale jare verkies as meer weiding beskikbaar is, het die winterkalftyd die kudde se tussenkalftydperk verkort. Verse word op 18 maande gepaar. Dié wat nie dragtig raak nie, word vyf tot ses maande later weer by die bul gesit. As hulle dan nie suksesvol teel nie, word hulle uitgeskot.
“Dit is belangrik dat die diere in ekstensiewe toestande getoets word. Só word gehardheid en aanpasbaarheid vasgevang, wat die diere in staat stel om vinnig by kopers aan te pas waar die omgewing baie verskil. Die diere moet egter steeds genoeg groei hê en vleis dra om winsgewend gevoer te kan word,” sê hy.
BOBAAS-AFRIKANER
“Die belangrikste is om seker te maak dat die unieke Afrikanereienskappe, wat dit so ’n wonderlike ras vir Suid-Afrikaanse toestande maak, behoue bly. Ons moet dus altyd streng selekteer vir rasegtheid, want dít is ons handelsmerk. Daar word ook streng geselekteer vir alle fiksheidseienskappe.”
Volgehoue en doelgerigte teling en integriteit het die kudde oor die jare heen gebring waar hy vandag is.
“Op Grootkuil sien ons daarna uit om voort te bou op die sukses van die verlede, verder te streef na verbetering in hierdie beesras wat reeds wonderlik is, en met vertroue ons klanteverhoudings uit te bou,” sê Cronjé. NAVRAE: Mnr. Pierre-André Cronjé, e-pos: bobcronje@gmail. com; sel 083 629 3491.