Verbeter só jou beeskudde se syfers
’n Wanopvatting bestaan in die vleisbeesbedryf dat net stoettelers voordeel trek uit prestasietoetsing. Kommersiële produsente kan egter ook hul kuddes verbeter ten opsigte van bestuur, vrugbaarheid, verhoogde produksie en winsgewendheid.
Vleisbeesprodusente word vergoed per hoeveelheid kilogram vleis geproduseer, hetsy of die diere vanaf die veld bemark of aan ’n agent verkoop word wat die kalwers in ’n voerkraal wil afrond. Dit is dus belangrik om met seleksie klem te lê op eienskappe van ekonomiese belang.
’n Teler moet egter eers weet wat sy kudde se huidige gemiddelde speengewig en sy koeikudde se gemiddelde gewig is voor hy seleksiebesluite kan neem. Vandaar die gesegde: Om te meet, is om te weet.
Om kommersieel winsgewend te wees, moet die optimale aantal speenkalwers met die optimale gewig vergeleke met die aantal koeie wat gedek is, teen die laagste moontlike koste per teeldier geproduseer word. Terselfdertyd moet speenkalwers teen die optimum gewig en so ekonomies moontlik direk ná speentyd bemark word indien ’n speenkalfproduksiestelsel gevolg word. Om dit so goed moontlik reg te kry, is die vrugbaarheid van die koeikudde belangrik, asook die kalwers se groeivermoë van geboorte tot speen. Die kalwers se groeivermoë ná speentyd is ewe belangrik in die voerkraalbedryf en in ’n osproduksiestelsel.
Dr. Pieter de Kock, voorsitter van die Afrikanerbeestelersgenootskap, sê hierdie ras se doeltreffendheid het met 18% verbeter danksy die streng toepassing van prestasietoetsing asook die wanopvatting oor die aankoop van Afrikanerspeenverse deur die voerkale. Die telers het waarde toegevoeg tot die bemarking van hul boerderye en het ook hul eie vleisbemarkers geword. Gevolglik is die ekonomiese vordering van die Afrikaner met dié uitstekende eienskappe nog meer aktueel.
SPEENINDEKS
Omdat die dektyd oor drie
maande strek, beteken dit daar is ouderdomsverskille binne dieselfde speengroep. Gevolglik is die speengewig nie regstreeks vergelykbaar met mekaar nie en het die ouer kalwers ’n voordeel bo jonger kalwers, asook bulkalwers teenoor verskalwers. Die hele speengroep se ouderdom word ná 205 dae gestandaardiseer. Daarvolgens word 205 daegewig en speen indekse bereken. Die boer kry dan ’n speentoets met ’n speenindeks vir elke kalf om die kalwers se groeivermoë regstreeks met mekaar te vergelyk.
’n Voorbeeld van die berekening van die speenindeks per dier, met die veronderstelling dat die kalf 40 kg by geboorte en 280 kg met speen (op 200 dae) weeg, is as volg:
Stap 1: Totale gewigstoe name vanaf geboorte tot speen: 280 kg – 40 kg = 240 kg.
Stap 2: Gemiddelde toename per dag tot speen: 240 kg/200 dae = 1,2 kg/dag.
Stap 3: 205 daespeengewig: 205 dae x 1,2 kg = 246 kg + 40 kg (geboortegewig) = 286 kg.
Stap 4: Speenindeks: 286/250 x 100 (indien die gemiddelde 205 daegewig vir bulkalwers in die speengroep 250 kg was) = 114.
Dié bul het ’n groeitempo wat 14% beter as die gemiddelde van die groep is.
SPEENTOETSVERSLAG
Die speenindeks is ’n dier se prestasie uitgedruk as ’n persentasie van die groepgemiddelde (gelyk gestel aan 100%). Al die diere met ’n speenindeks van meer as 100 is bogemiddeld,
en minder as 100 is ondergemiddeld.
Die speentoetsverslag bevat die hele speengroep se speengewig, 205-daegewig en speenindeks sodat speenkalfgewig vergelykbaar binne die groep is. Só kan boere die kalwers met die beste groeivermoë identifiseer, byvoorbeeld verse as moontlike vervangingsverse in die koeikudde. Die kalf se speengewig is ’n aanduiding van sy eie genetiese vermoë vir groeitempo en ’n aanduiding van die ma se melkproduksie.
Die Afrikanerbeestelersgenootskap doen al 30 jaar lank prestasietoetsing en is daarop toegespits om dit voort te sit. Die voordele is enorm. Navorsing oor die ras sou nie moontlik gewees het sonder om te meet en te weeg nie.
FINANSIËLE VOORDELE
Dit is nie altyd so eenvoudig om in opeenvolgende jare doeltreffender te boer nie, want reënval wissel en omgewingstoestande is nie altyd in die boer se hande nie. Nogtans behoort seleksie vir genetiese verbetering altyd ’n teeldoelwit te wees.
Gestel die kudde bestaan uit honderd koeie met ’n kalfsyfer van 65% en ’n gemiddelde speengewig van 180 kg. Teen ’n speenkalfprys van R35/kg is die bruto inkomste R409 500. Deur die kalfpersentasie met gemiddeld 10 en die speengewig met gemiddeld 10 kg te verbeter, styg die inkomste met R89 250.
Mnr. Frans Jordaan en dr. Ben Greyling is verbonde aan die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Diereproduksie.