Geharde Afrikaner het blink toekoms
Die Steelpoortvallei lê naby Stofberg op die grens tussen Limpopo en Mpumalanga. Dit is hier waar me. Susan Scheepers se Sanmaroux Afrikaners diep spore trap. Hier is haar en die stoetery se verhaal.
Sanmaroux Afrikaners se beginjare strek byna 30 jaar terug. “In die laat 1980’s het my pa ’n paar Afrikanerstoetkoeie en ’n stoetbul by mnr. Homo Dykema gekoop. Hy het ’n klompie van sy eie rasegte koeie bygesit sodat die bul darem ’n klompie koeie kon hê,” sê me. Susan Scheepers, die eienaar.
“Sy idee met dié beeste was om sy eie bulle te probeer teel wat dan beter aangepas sou wees by ons bergagtige omgewing met sy las van hartwater, galsiekte en rooiwater. As student het ek verlief geraak op hierdie troppie beeste.
“Ek het my pa oorreed om hierdie diere te laat keur en dit was die begin van Sanmaroux Afrikaners,” sê Scheepers.
Dykema se diere het besonder goed by die kudde aangepas en in die volgende paar jaar het hulle nog van dié diere gekoop.
“Ons het ook diere by mnr. Louis Claassen gekoop en dit was ’n goeie toevoeging. Ons eie hulpstamboek se koeie het nie teruggestaan vir hierdie gekoopte koeie nie.
“Aan die begin was ek en my pa onkundig. Ons enigste kriteria was dat die koei elke jaar moes kalf en ’n swaar kalf moes speen. As ek na die besonderse koei-tot-kalf-verhouding kyk wat ons diere nou het, was dit eintlik ’n goeie begin.”
PRESTASIE EN KONDISIE
Deur die jare is die natuur as die belangrikste hulpmiddel vir seleksie ingespan.
“Al wat ek moes doen, was om die diere uit te skot wat nie kon produseer en reproduseer soos die res nie. Mettertyd het die koeie meer kompak en korter op die been geword.
“Sonder om infusie te gebruik en op die belangrike ekonomiese eienskappe klem te lê, het ons vandag koeie met ’n baie goeie bouvorm, goeie bespiering, baie melk en min funksionele foute. Hulle is uitstekend aangepas by ons ekstensiewe toestande waar hulle oor groot afstande en moeilike terrein moet kan loop.”
Om in sulke ekstensiewe toestande met ’n stoetkudde te boer, het beperkings. Een daarvan is om die diere gereeld te meet en weeg. Dit is ook nie altyd prakties moontlik om baie byvoeding te gee nie, want baie van die diere loop ver van die huis af op moeilik bereikbare plekke.
“Dit bly vir ons ’n uitdaging om ons verse op ’n jong ouderdom te laat kalf en die daaropvolgende jaar weer te laat kalf sonder ekstra versorging. Die feit dat ’n Afrikanerkoei eers in die fleur van haar lewe is as ander rasse se koeie al amper uitgeskot moet word, is vir ons ’n groot pluspunt.”
Sy sê die afgelope paar jaar was moeilik weens die weer en algemene klimaatstoestande en die kudde moes groot uiterstes trotseer.
“Dit raak moeilik vir sommige rasse om daarby aan te pas. Ons Afrikanerkoeie is desondanks die hitte en droogte van die afgelope seisoene in ’n goeie kondisie en presteer baie goed.”
KRUISTELING
Sanmaroux Afrikaners het ook met ’n Afrisim-projek begin danksy ’n groot vraag na die vroulike diere van die ras.
“Sowat drie jaar gelede het ons ook Boranbulle by die Afrikanerkoeie gesit. As ons sien hoe goed die twee rasse mekaar aanvul, glo ons dit gaan die boerbees van die toekoms word. Rasegte Afrikanerkoeie gaan egter nodig wees om hierdie koeie te kan teel.
“As ’n mens bereken wat dit kos om met Afrikanerkoeie te boer teenoor die kilogram vleis wat per hektaar gelewer word, kan ons nie anders as om met ons Afrikanermoederlyn te bly boer nie,” sê Scheepers.
“My ideaal was nog altyd om ons ras te verbeter deur te teel en te selekteer met rasegte beeste. Ons is baie trots op wat ons met Sanmaroux Afrikaners doen.” NAVRAE: Me. Susan Scheepers, e-pos: skip.j.@vodamail.co.za; sel 082 805 3228; tel./faks 013 272 7032.