Regsgeleerdes kan die publiek só help
’n Mens weet nooit wanneer jy dalk ’n prokureur gaan nodig kry nie. Maak dus seker jy weet watter prokureursfirma om te bel. Die prokureur moet in die veld spesialiseer waarin jy die dienste nodig het — en hy moet jou uit die selle kan kry!
Suid-Afrika het hoër howe, laer howe en spesiale howe. Die hoër howe is die hoogste hof, naamlik die Grondwethof, die Appèlhof en die Hooggeregshowe. Die laer howe is die streek- en distrikshowe (landdroshowe). Spesiale howe is vir gespesialiseerde litigasie (hofsake), waaronder die Arbeidshof, Grondeisehof, Kinderhof, Onderhoudshof, Gesinshof en die Inkomstebelastinghof vir appèlle.
Straf- en siviele sake word in alle howe verhoor, buiten streekshowe, wat slegs strafsake aanhoor. In die hoër howe is regters die voorsittende beamptes en in die laer howe is dit landdroste. Die volgende mense en instansies speel ’n rol in siviele en strafsake: ’n Klaer (byvoorbeeld ’n winkeleienaar wat diefstal of ’n inbraak aanmeld). ’n Eiser (by ’n aksieprosedure, soos ’n winkeleienaar wat ’n dief of inbreker dagvaar vir skade wat gely is). ’n Verweerder (by ’n aksieprosedure). Applikante en respondente (by ’n aansoekprosedure, soos ’n inderdik). ’n Beskuldigde (word deur die ondersoekbeampte gesoek en aangekla). ’n Ondersoekbeampte (die speurder wat die saak ondersoek en die beskuldigde soek). ’n Staatsaanklaer (die hofbeampte by die laer howe wat die dossier lees en besluit om aan te kla of nie). ’n Staatsadvokaat (die hofbeampte by die hoër howe wat die dossier lees en besluit om aan te kla of nie). Die Nasionale Vervolgingsgesag. Vredesbeamptes (wetstoepassingsbeamptes, soos ’n polisieman, verkeerskonstabel, bewaarder en die balju en sy assistente). Prokureurs, advokate, landdroste en regters. Die Regshulpraad. Die Rooimiere (wat die staat help om ongewenste bewoners te verskuif). Die Valke (die afdeling van die polisie wat beslag lê op dokumente en bates van beskuldigdes wat dien as bewyse van ’n misdaad). Neem kennis dat “klaer” teenoor “beskuldigde” staan in ’n strafsaak, “eiser” teenoor “verweerder” in ’n siviele aksieprosedure, en “applikant” teenoor “respondent” in ’n aansoekprosedure (soos by ’n interdik).
REGSGELEERDES
Prokureur. Prokureurs doen algemene regswerk en is gewoonlik die eerste mens wat iemand gaan sien oor ’n regsprobleem. Die prokureur verwys die kliënt na ’n advokaat vir gespesialiseerde litigasie (hofwerk). Prokureurs mag ook in die hoër howe optree.
Die prokureur wat ook ’n notaris is, mag dokumente notarieel opstel, soos huweliksvoorwaardekontrakte. Hy mag dan daardie geskrif in sy protokol opskryf en daarvan rekord hou. Prokureurs wat transportbesorgers is, kan eiendomsoordragte doen.
Dit is raadsaam om verskillende prokureurs te besoek en ’n verhouding te bou, al is ’n mens nie in die moeilikheid nie, sodat jy iemand ken om te bel wanneer dit dalk nodig is.
Prokureurs is nie op alle terreine van die reg bedrewe nie. Hulle spesialiseer byvoorbeeld in skuldinvordering, egskeidings, derdepartyeise, mediese nalatigheid, eiendomsoordragte, arbeidswetgewing, hofwerk (litigasie), sakekontrakte en uitsettingsbevele. Soms het ’n mens twee of meer prokureurs in ’n maatskappy nodig om in jou behoeftes te voorsien.
Kry ’n prokureur wat bevoeg is om jou op borgtog uit die selle te kry omdat dit deesdae maklik kan gebeur dat jy toegesluit word. Advokaat. Advokate tree voor landdroste en regters op en doen slegs hofwerk. Hulle doen baie voorbereiding, soos opleeswerk, en kry hul opdragte van prokureurs. Staatsadvokate en –aanklaers. Staatsadvokate en -aanklaers tree namens die staat op in strafsake en kla burgers aan van ’n misdaad. Hulle moet bo redelike twyfel bewys die persoon is skuldig. Staatsadvokate en -aanklaers werk dus hoofsaaklik in die publiekreg-omgewing, waar dit gaan oor die verhouding tussen die staat en die burger (onderdaan).
Die burger (of beskuldigde) word aangekla wanneer daar ’n beweerde oortreding was. Die staat moet bo redelike twyfel bewys die beskuldigde is skuldig. Die bewyslas is dus op die staat. Die burger is onskuldig totdat hy of sy as skuldig bewys is. As iemand gesteel het, word hy of sy aangekla van diefstal en as hy of sy skuldig bevind word, lê die regter of landdros ’n boete of tronkstraf op.