Slenkdalkoors: Ramp dreig oor boere nie ent
DIT lyk of veeboere nie gehoor gee aan waarskuwings om hul diere teen slenkdalkoors in te ent nie, ondanks bewusmakingsveldtogte deur etlike lewendehawe-bedryfsorganisasies.
Volgens dr. Jacob Modumo, direkteur vir sake-ontwikkeling by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), stem die hoeveelheid entstof wat tot dusver bestel is, nie ooreen met die erns van beroepe op boere om hul diere teen die siekte te ent nie. Die beroepe is gedoen nadat ’n geval in April in Jacobsdal aangemeld is.
“Al is dit wintertyd en is die vektore, soos muskiete, wat die siekte oordra, nie nou aktief nie, is dit noodsaaklik om nou jou diere in te ent,” sê hy. Hy sê die OBP kry wél bestellings vir die entstowwe, maar dit is nie voldoende nie.
Modumo sê die entstowwe word op aanvraag vervaardig. Indien daar ’n uitbreking is en boere dán dringend entstof begin aanvra, gaan die maatskappy nie genoeg voorraad hê om in ’n skielike styging in vraag te voorsien nie.
ERNSTIGE BEDREIGING
Dr. George de Kock is die voorsitter van Cape Wools Suid- Afrika, ’n lid van dié organisasie se slenkdalkoorswerkgroep en ook ’n opgeleide veearts.
Hy waarsku dat die uitbreking in Jacobsdal vroeër vanjaar ’n voorloper kan wees van verdere uitbrekings in die komende somer.
De Kock sê navorsing toon dat voorkomende inenting ál doelparty
treffende voorsorgmaatreël is.
Volgens studies oor vorige uitbrekings van slenkdalkoors is daar sekere dele van Suid-Afrika waar die kanse op uitbrekings aansienlik hoër is. Dit sluit die Vrystaat, die noordwestelike dele van die Oos-Kaap en die sentrale dele van die NoordKaap in.
Navorsing is aan die Universiteit van Nairobi in Kenia gedoen nadat dié siekte in 2006 na mense versprei het. Tot 150 sterftes is aangemeld en 700 mense is gehospitaliseer. Die navorsing het bevind die kans dat die siekte in ’n bepaalde gebied kan uitbreek, is vyf keer groter in streke waar dit al een keer vantevore uitgebreek het. Dít het ernstige implikasies vir Suid-Afrikaanse veeboere, gegewe hoe wyd vorige uitbrekings voorgekom het (sien die KAART hiernaas).
Met ernstige uitbrekings is die kanse ook daar dat die siekte vir ’n paar jaar ná die epidemie steeds kan voorkom.
KUDDE NIE IMMUUN
In April vanjaar se uitbreking in Jacobsdal het altesaam 250 skape uit ’n trop van 600 skape gevrek.
“Die hoë sterftesyfer dui daarop dat die trop in geheel vatbaar was, wat op sigself ’n aanduiding is dat die diere nie teen slenkdalkoors ingeënt is nie,” sê De Kock.
Navorsing wa taan die Universiteit van Pretoriase departement produksie dier studies gedoen is, toon dat ’n versuim by boere om hul diere teen die siekte te bly inent die risiko van groot uitbrekings verhoog as gunstige toestande weer ontstaan. Daar is ook bevind dat boere wat in 2010 reeds hul diere voorkomend teen die siekte ingeënt het, se verliese 80% minder was.
“Inenting tydens die uitbreking was van minder waarde. Dit was moontlik omdat boere in die opname gesê het dat hulle nie een naald per dier gebruik het om hul diere in te ent nie. Sommige van hulle het nooit hul naalde vervang tensy die naald gebreek het nie.”
Daar was sedert 1950 drie groot uitbrekings van slenkdalkoors in Suid-Afrika – 1950 tot 1951, 1974 tot 1976 en 2010 tot 2011. Skape is die meeste daardeur aangetas, maar bokke, beeste, wild en ook mense het siek geword.
Die uitbreking van 2010’11 was die eerste wat ook in Suid-Afrika se winterreëngebied e toegeslaan het.
–