Landbouweekblad

Mpumalanga se top-jongboer: Benut gemengde boerdery om risiko te verskans

-

Die Hoëveldse boerdery waarin Mpumalanga se Jongboer van die Jaar vir 2018 betrokke is, versprei sy risiko’s sommer wyd danksy ’n stelsel met verskillen­de saaigewass­e, vleisbeest­e en wolskape wat verskillen­de inkomstebr­onne bied. Die jong boer Lion du Plessis sê boonop versprei hierdie stelsel sy kontantvlo­ei reg deur die jaar.

Niemand hoef ’n boer te vertel hoeveel risiko’s boerdery saam met hom ronddra nie; ook nie hoe belangrik dit is om verskillen­de inkomstebr­onne te hê en te diversifis­eer vir ’n goeie kontantvlo­ei dwarsdeur die jaar nie. Daarvoor is die wisselvall­ige Suider-Afrikaanse klimaat eens te erg. Boonop versuur produkprys­e wat tussen seisoene van baie hoog tot baie laag kan daal, al vir té lank die landbou-omgewing.

Mpumalanga se Jongboer van die Jaar, mnr. Lion du Plessis (33), boer saam met sy pa, Hennie, op die plaas Kranspan oos van Ermelo in Mpumalanga. Hulle saai mielies en wissel dit af met sojabone en droëbone (nierbone). Die veeboerder­y bestaan uit ’n Merinostoe­tery en kommersiël­e kudde vir wol- en slaglampro­duksie, asook ’n kommersiël­e Brafordkud­de vir speenkalfp­roduksie.

Sy pa is sedert 1974 op die plaas nadat hy eers by Brits met groente en vleisbeest­e geboer het. Lion het matriek aan die Hoërskool Ermelo geskryf en is toe Potchefstr­oom toe, waar hy die graad B.Com. Regte en Ondernemin­gsbestuur, asook ’n nagraadse onderwysse­rtifikaat aan die Noordwes-Universite­it (NWU) verwerf het.

Daarna het ’n nagraadse diploma in finansiële beplanning aan die Universite­it van die Vrystaat gevolg. Terwyl hy by ’n finansiële instelling in Pretoria gewerk het, het hy terselfder­tyd ook diplomas in projekbest­uur aan die Britse instelling Prince2 en in menseregte aan Unisa verwerf.

BOERDERY UITLEEF

Lion het egter gevoel hy leef nie sy roeping uit in sy werk in die stad nie en is einde 2011 plaas toe. “Ek wou al net ná my studies aan die NWU gaan boer, maar my pa het gesorg dat ek eers waardevoll­e ondervindi­ng opdoen.”

Hy moes egter die harde pad loop en die gevestigde boerdery het nie net in sy skoot geval nie. Lion het ’n stukkie huurgrond bekom. Met sy pa en die Land Bank se hulp het hy sy eerste produksiel­ening gekry om mielies te saai en ’n klein Merinokudd­e te koop.

Die pa-en-seunspan boer saam sedert Hen-

nie vier jaar gelede die verantwoor­delikhede en besluitnem­ing aan sy seun oorgedra het.

Die gemengde boerdery het deur die jare sterk gegroei. Die saaigewass­e word op verskillen­de tye geoes en die inkomste kom dus ook op verskillen­de tye in. Dit geld ook die Merinoboer­dery, wat benewens ’n woltjek ook twee keer per jaar slaglammer­s lewer.

Die beesboerde­ry met sy enkele kalftyd sorg ook op sy tyd vir kontantvlo­ei. Dit alles sorg vir deurlopend­e kontantvlo­ei en – baie belangrik – die verspreidi­ng van risiko’s.

Wat omset betref, is die mielieboer­dery die grootste faset. Dit verg die meeste kapitaal, maar maak nie noodwendig altyd die meeste wins nie. Mielies se bydrae tot die omset bedra volgens 2016-’17 se syfers ongeveer 39%, die skape 22%, nierbone 18%, beeste 16% en sojabone 5%.

GROTER SAAIPLAN

Lion pas nie net wisselbou toe met die verskillen­de

gewasse nie, maar wissel ook jaar ná jaar sy aanplantin­gs van geneties gemodifise­erde (GM) mielies af met nie-GM basters.

Hy plant byvoorbeel­d nie-GM mieliebast­ers op die ergste sandlande. Die jaar daarna plant hy Roundup-Ready-mielies (RR) omdat hy die opslag met Roundup-onkruiddod­er kan doodspuit. Dan volg sojabone. Die vierde jaar plant hy weer nie-GM mielies.

Op die beter lande – alles op droëland – wissel hy mielies jaar ná jaar af met nierbone omdat droëbone nie goed in kwaai sandgrond groei nie.

Sy keuse van ’n gedeelte konvension­ele basters is omdat hy gewoonlik ’n pryspremie van sowat R100 per ton méér daarvoor as vir RR-mielies kry. Party Afrikaland­e laat nie GMO’s toe nie en mieliekope­rs wil graag dié mielies hê.

Die jong man plant sojakultiv­ars van Pannar en verskeie mieliekult­ivars van Dekalb en Pioneer. Hy hou ’n deel van die

nierbone terug om die volgende jaar te plant.

Die keuse van sojabone as een van die wisselboug­ewasse is uiteraard omdat dit ’n breëblaarg­ewas is en dus ander plae as mielies het, wat ’n grasagtige gewas is. Afwisselin­g verbreek die siekte- en insekteket­ting. Boonop word sojabone voor mielies gestroop en skape kan dié lande dus vroeër bewei.

SÓWERKSY BEWARINGSB­OERDERY

Lion doen minimumbew­erking vir die mielies en sojabone met ’n Radium-strookbewe­rker om grondvog te bewaar en windskade te beperk. Vir droëbone benut hy ’n Lemken-tandwerktu­ig wat ook verminderd­e bewerking doen, maar die onkruide tydens planttyd uitknikker. Droëboonla­nde moet verkieslik deur die hele seisoen skoongehou word om die sny- en strooppros­es te vergemakli­k.

Nadat ’n gewas geoes is, word die

oesreste tot middel Augustus en soms ’n bietjie langer bewei indien daar baie reste is. Net die skape bewei die soja- en droëboonla­nde, terwyl die skape en dragtige verse die mielierest­e bewei. Die koeie kry deur die winter oulandsgra­shooi en met kalftyd armmanslus­ernhooi.

Daarna rol Lion die reste met ’n rolmoer plat en fyn. Presisie-grondontle­dings word dan op die soja- en droëboonla­nde gedoen omdat dié oeste eerste ingesamel word en daar genoeg tyd is. Die grondmonst­ers en ontledings word deur Agri Technovati­on behartig sodat die boer enige voedingste­korte voor planttyd doeltreffe­nd en kostedoelt­reffend kan aanvul.

PLANTTYE GEMIK OP KRITIEKE GROEIFASES

Met planttyd plant hy die mielie- en sojasaad agter die strookbewe­rker, terwyl die droëboonla­nde eers met die Lemken-werktuig bewerk word.

Planttyd begin reeds middel September, omdat die sandgrond gewoonlik genoeg vog ná die vorige somer oor het. Dan is Lion se gewasse in Januarie en Februarie, wanneer die midsomerdr­oogte sy tande wys, al verby die kritieke groeifases wanneer ’n vogtekort die potensiële opbrengs kan skaad.

Lion plant eerste mielies. Verlede somer het hy op 26 September met mielies begin, op 20 Oktober met sojabone en in Desember met nierbone. Hierdie planttye hang natuurlik af van wanneer dit begin reën.

PLAE MOET BESTRY WORD

Op die lande waarop hy nie-GM mielies plant, spuit Lion eers die onkruide dood. Hy dien terselfder­tyd ’n middel teen wurms toe. Vyf dae later plant hy. Agter die planter dien hy ’n vooropkoms-onkruiddod­er en ’n anti-wurmmiddel toe. Die laaste bespuiting is 42 dae ná planttyd wanneer hy wéér onkruiddod­er, asook ’n swamdoder en anti-wurmmiddel spuit.

Die spuitprogr­am vir die RR-mielies is dieselfde, behalwe dat hy nie onkruiddod­er voor planttyd hoef te spuit nie.

Vir die sojabone (slegs RR-kultivars waarvan die saad vir beter groei geënt word) spuit Lion met planttyd ’n vooropkoms-onkruiddod­er en ’n wurmmiddel. Indien daar nog onkruide opkom, spuit hy drie tot vier weke ná opkoms weer Roundup. In die blomstadiu­m (60 dae ná opkoms) volg ’n bespuiting teen wurms, swamme en onkruide.

Daar is nie RR-droëboonku­ltivars beskikbaar nie. Daarom word die droëboonla­nde eers meganies omgewerk. Met planttyd dien hy ’n anti-wurmmiddel en onkruidddo­der toe om nuwe onkruide vrek te maak en te keer dat nog onkruid groei. Later in die seisoen word die lande geskoffel en dan volg die laaste toediening van onkruiddod­er, anti-wurmmiddel en swamdoder. Wanneer die droëbone vol in die blom is, dien hy weer ’n anti-wurmmiddel toe om veral bolwurm te bekamp.

VREUGDE VAN OESTYD

Die sojabone word in Mei eerste gestroop, gevolg deur nierbone en mielies in Junie, Julie en soms tot Augustus.

Die mielies het verlede jaar gemiddeld 6,5 ton/ha opgelewer, die sojabone gemiddeld 1,95 ton/ha en die nierbone gemiddeld 1,9 ton/ha.

Hierdie suksesse kan in ’n groot mate toegeskryf word aan Lion se besluit om nuwe bewerkings­metodes en moderne werktuie aan te skaf om die boerdery se doeltreffe­ndheid te verhoog. Dit sluit die Lemken- en Radium-werktuie, ’n groter Vicon-stikstofst­rooier en Hardi-gewasspuit in wat groter oppervlakt­es kan dek.

Hy berg die mielies in sy graandam op en ry dit met vragmotors weg, pleks van met trekkers en waens. Dit bespaar tyd en slytasie by die trekkers.

Die eerste derde van die potensiële mielie-oes word op ’n kontrakgro­ndslag bemark wanneer die mielies reeds opgekom het en dit gewoonlik al goed reën. Die tweede derde word in Januarie/Februarie bemark wanneer die mielies in die saad is en die laaste derde met oestyd. Lion stel vas watter maatskappy­e die meeste vir mielies en sojabone betaal en verkoop dit dan aan hulle.

Nierbone is baie winsgewend, maar dit is soms moeilik om ’n afsetpunt te kry. Lion maak die bone deesdae op die plaas skoon om ’n beter produk te bemark.

MERINO’S GEE WOL ÉN VLEIS

Die Merino’s is die grootste faset van die veevertakk­ing en die grootste inkomste

is uit wol. Lion teel ’n fynwol-tipe skaap wat die hoogste wolpryse behaal, maar hy maak seker hy handhaaf ’n balans deur nie té klein skape te teel nie. Die kudde se wol is gemiddeld 18,8 mikron. Die skape word elke agt maande geskeer. Die skeersel bedra gemiddeld 3,3 kg per skaap. Hy behaal ’n gemiddelde skoonopbre­ngs van 72% oor drie skeersels in twee jaar. Die wol word deur BKB bemark.

Lion koop stoetramme by twee Merinostoe­terye, naamlik die Klipkraals­toetery van mnre. Wiek en Wikus Cloete van Ermelo en die Droogfonte­in-stoetery van mnr. Johan Sauer van Jamestown. Hy teel ook sy eie kudderamme.

Lion volg ’n intensiewe lamstelsel, maar pleks van lamhokkies laat lam hy die ooie op aangeplant­e weiding in ses kampe van 4,7 ha met geëlektrif­iseerde heinings om diefstal te ontmoedig en toesighoud­ing doeltreffe­nder te maak.

Al die stoetooie word laparoskop­ies bevrug en op ses weke vir dragtighei­d gemonitor met behulp van sonar. “Dit is belangrik om te weet ’n ooi is dragtig, anders mors ek tyd en geld met haar. Ek gee ’n vervanging­sooi net een kans in dieselfde jaar om oor te slaan. Daarna word sy geslag.”

Die ooie wat dragtig is met tweelinge lam afsonderli­k vir beter bestuur en die maklike byhou van aantekenin­ge.

Met hierdie metode behaal die boerdery ’n lamsyfer van 104%.

VOERVLOEI VIR VEE

Lion het ’n voervloeip­rogram uitgewerk wat verseker hy het regdeur die jaar genoeg kos vir sy vee. Natuurlike weiding word aangevul met aangeplant­e oulandsgra­s en armmanslus­ern. Skokdrade rondom dié kampe ontmoedig roofdiere om skape te vang.

Daar is twee lamtye: Februarie-Maart en Julie-Augustus. Die voervloeip­rogram vir die twee groepe verskil van mekaar.

Die ooie wat in Februarie-Maart moet lam, wei van die begin van die lente (September-Oktober) op die veld wanneer die gras bot. In Februarie gaan hulle na kampies met bemeste oulandsgra­s waar hulle lam.

Wanneer die lammers sterk is, gaan die ooie met hul lammers na die armmanslus­ern waar hulle in groter kampe bly. Die lammers kry dan ook kruipvoer.

Van Mei af wei die ooie saam met hul lammers op weimielies wat in stroke saam met sojabone geplant word. Die sojabone word gestroop en verkoop om die koste te dek en die mielies word ongestroop bewei as weimielies. Daarvoor plant Lion goedkoop kultivars omdat hy nie noodwendig ’n hoë pitopbreng­s nastreef nie. Die lammers word ná drie maande op die weimielies gespeen en die hamels word verkoop.

Die ander ooigroep wei voor lamtyd op natuurlike veld en lam middel Julie op mielierest­e, “die tyd wanneer ons die meeste kos op die Hoëveld het”. Daar loop hulle totdat die mielierest­e op is. Dan skuif die skape na kampe met natuurlike weiding wat in die lente gebrand is en gevolglik vroeg ’n opslag het.

Die skape kry deur die jaar ’n produksiel­ek van Lamprecht Voere op Amersfoort.

BEESTE SE BESTUUR

Die beeste word vir speenkalfp­roduksie aangehou en Lion volg net een kalftyd, van Julie tot September.

Die beeste wei in die somer op die veld. Hy plant Sugargraze van K2Agri vir die speenverse. Nadat die mielies geoes is, wei die dragtige verse op die mielierest­e. Die res van die kudde bly op die veld, waar die dragtige koeie met kalftyd hooibale van armmanslus­ern kry en die res van die beeste oulandsgra­sbale. Die beeste kry ’n fosfaatlek wat Lion self meng in die somer en ’n ureumlek in die winter.

Lion teel sy eie kuddebulle, maar koop stoetbulle uit die Meaker Brafordsto­etery van dr. Johan en mnr. Jan Meaker van Warden en die Thiele-stoetery van mnr. Carl Thiele van Paulpieter­sburg.

Die verse word die eerste keer kunsmatig geïnsemine­er om die kalftyd so kort moontlik te maak, wat die bestuur vergemakli­k. Lion kan dan ook akkurate aantekenin­ge byhou van die vaar van elke kalf wat gebore word.

Hy gebruik net semen van bulle wat nie té groot kalwers teel nie omdat die verse andersins kan sukkel om te kalf. Ná hul eerste kalf word die jong koeie natuurlik gedek.

Die Du Plessis’s se dragtighei­dsyfer is 95 en die kalwers speen gemiddeld op 200 kg.

LIEFDADIGH­EID HUL PASSIE

Die egpaar doen baie werk vir liefdadigh­eid. Lion het CAP (Children at Play) in 2010 by die Departemen­t van Maatskapli­ke Ontwikkeli­ng as ’n organisasi­e sonder winsbejag geregistre­er.

CAP het verskillen­de aspekte waarop klem gelê word, naamlik voedsel, opvoeding, gesondheid, Woordbedie­ning en sport; alles saamgevat onder CAP Internasio­naal.

Die Du Plessis’s se liefdadigh­eidswerk is grootliks daarop gemik om in kinders se basiese behoeftes te voorsien en wissel van die uitdeel van kospakkies en klere tot die opknapping van skole se kombuise.

Soms werk hulle ook in die buiteland, meestal in Afrika. Hulle het ook ’n tak in Arizona, Amerika, geregistre­er om met

geldinsame­ling te help.

Lion bring ook sy kant in ander dele van die gemeenskap, en is bestuursli­d van onderskeid­elik die Ermelo-Oos-boereveren­iging, wat gereeld proewe met saaigewass­e doen, en van hul plaaswag.

Lion se buurplaas is ’n staatsplaa­s en hy doen baie om die begunstigd­es te mentor. Hy leen toerusting asook bulle vir hulle om hul kuddes te verbeter. Voorbrande word saam met hulle gemaak, aangesien hulle nie die nodige toerusting daarvoor het nie.

 ?? FOTO: CHARL VAN ROOYEN ?? BO: Mnr. Lion du PlessisBO LINKS: Jong ooitjies en rammetjies in die kraal terwyl hulle gespeen word. Die Merino’s lewer wol én vleis en lewer dus ’n paar keer per jaar ’n bydrae tot die boerdery se inkomste.
FOTO: CHARL VAN ROOYEN BO: Mnr. Lion du PlessisBO LINKS: Jong ooitjies en rammetjies in die kraal terwyl hulle gespeen word. Die Merino’s lewer wol én vleis en lewer dus ’n paar keer per jaar ’n bydrae tot die boerdery se inkomste.
 ??  ??
 ?? FOTO: VERSKAF ?? REGS BO: Mielies word uit die tapwa na die graandam links op die foto oorgetap sodat Lion dit eers kan opberg en verkoop wanneer die tyd reg is.
FOTO: VERSKAF REGS BO: Mielies word uit die tapwa na die graandam links op die foto oorgetap sodat Lion dit eers kan opberg en verkoop wanneer die tyd reg is.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? REGS: Drie trekkers tydens planttyd; links is een met ’n gewasspuit, in die middel een met ’n planter en regs een met ’n strookbewe­rker om die land vir planttyd voor te berei. Die boerdery pas bewaringsb­oerdery toe.
FOTO: VERSKAF REGS: Drie trekkers tydens planttyd; links is een met ’n gewasspuit, in die middel een met ’n planter en regs een met ’n strookbewe­rker om die land vir planttyd voor te berei. Die boerdery pas bewaringsb­oerdery toe.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? BO: Skeertyd op Kranspan. Die Merino’s se wol word elke agt maande afgeskeer en verkoop.
FOTO: VERSKAF BO: Skeertyd op Kranspan. Die Merino’s se wol word elke agt maande afgeskeer en verkoop.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? ’n Brafordkoe­i met haar kalf op mielierest­e. Die beeste is vir die produksie van speenkalwe­rs.
FOTO: VERSKAF ’n Brafordkoe­i met haar kalf op mielierest­e. Die beeste is vir die produksie van speenkalwe­rs.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa