Inheemse rasse: Klop klimaat met kruisteling
Die gebruik van die unieke eienskappe van die Suider-Afrikaanse inheemse beesrasse in kruisteling en die ontwikkeling van alternatiewe produksiestelsels moet baie meer aandag geniet om die huidige produksievlak van rooivleis te handhaaf of selfs uit te brei, ondanks die dreigende klimaatsveranderings.
Die wêreldbevolking groei by die dag teen ’n duiselingwekkende tempo. Boonop kortwiek die ongunstige gevolge van klimaatsverandering, wat onder meer langer tydperke van lae reënval en dus swakker produksietoestande vir boere teweegbring, ook die landbou. Om alles te kroon vreet verstedeliking en die mynbou aan die beskikbare landbougrond.
Kortom, boere word gedwing om ál doeltreffender te boer met minder middele en grond tot hul beskikking.
Gelukkig het hulle die snelle ontwikkeling van tegnologie en die wetenskap aan hul kant. En in die geval van vleisbeesboere is kruisteling met sy gepaardgaande basterkrag tot hul voordeel.
Wetenskaplikes besing die deugde van die Suider-Afrikaanse inheemse beesrasse – die Tuli, Afrikaner, Drakensberger en Nguni – ál harder namate méér mense besef hierdie aangepaste diere is die antwoord op klimaatsverandering. Dit plaas die klem ook op die voordelige aspekte van kruisteling met dié beesrasse.
KRUISTELING MOET BIOLOGIESE DOELTREFFENDHEID VERHOOG
Prof. Michiel Scholtz, spesialis-wetenskaplike van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Diereproduksie-instituut op Irene, sê kruisteling gaan in belangrikheid toeneem omdat klimaatsverandering Afrika méér as ander vastelande gaan benadeel. Gespesialiseerde vader- en moederlyne in terminale kruisingstelsels moet help om biologiese doeltreffendheid te verhoog. Eienskappe wat daarvoor noodsaaklik is, is: Betreklik lae, volwasse koeigewig. Hoë doeltreffendheid en lae onderhoudsbehoeftes. Betreklik hoë melkproduksie. Lang, produktiewe lewe. Lae vrektesyfer. Gehardheid en aanpasbaarheid. Die sinvolste manier om vleisproduksie te verhoog, is deur die bestaande produksievlakke te verhoog. Weens aardverwarming en die gepaardgaande, stygende temperature gaan die plantegroei drasties verander en die veld se weivermoë kan met tot 30% daal, wat bykomende druk op produksie sal plaas.
TULI SE KRUISTEELDEUGDE
Mnr. Charl van Rooyen, raadgewer van die Tulibeestelersgenootskap, sê kruisteling is seker een van die mees bespreekte onderwerpe onder boere. “Dit kan in die praktyk egter voor- sowel as nadele hê, stel groter vereistes aan die boer se bestuursprogram en is nie die antwoord vir ’n skip wat reeds besig is om te sink nie.”
Daar is ’n groot vraag na rooivleis in Suider-Afrika, asook ’n behoefte aan rasse en teelmateriaal wat spesifiek bevorderlik vir kruisteling is. Die Tuli se voordele in ’n kruisteelprogram lê veral in lae geboortegewig, geboortegemak, die poenskopfaktor en veelsydigheid. “Gevolglik kan Tulibulle by enige ander ras gebruik word sonder om oor geboortegemak bekommerd te wees. Tulibulle word reeds wyd gebruik om jong verse oop te maak. Dit is reeds jare lank algemene gebruik by melkrasverse in groot dele van die land,” sê Van Rooyen.