REDE TOT KALMTE?
’n Mens se eerste reaksie was om te vra hoe op dees aarde ons hierdie tragiese punt bereik het. Ek verwys na pres. Cyril Ramaphosa wat laatnag in sy hoedanigheid as leier van die regerende party (pleks van President van Suid-Afrika) op nasionale televisie aangekondig het dat die ANC besluit het om die wysiging van artikel 25 van die Grondwet te steun sodat onteiening sonder vergoeding makliker gedoen kan word. Was dit die oomblik toe ons grondwetlike standvastigheid by die venster uitgegooi is?
Dit is natuurlik die uiters swak en korrupte bestuur van die grondkwessie die afgelope 23 jaar wat die land tot hier gebring het. Ná miljarde rande se besteding kan ons kwalik een suksesverhaal wys. Dit sou lagwekkend gewees het as dit nie so ernstig was nie.
Buiten die feit dat dit net mooi niks gedoen het om Suid-Afrika se diep ongelykhede en armoede te takel nie, het dit die onverskillige en fassistiese EFF ’n stok gegee om die ANC mee te slaan. Die populistiese sentimente wat hy aangewakker het, het daartoe gelei dat die ANC Ramaphosa skuins voor ’n nasionale verkiesing moes dwing om hierdie paniekerige aankondiging te maak. Maar is dit die volle storie?
Ja, die aankondiging is gemaak weens politieke druk binne en buite die party, meen die meeste kommentators. As ’n mens egter mooi tussen die lyne van die versigtig bewoorde verklaring lees, is dit duidelik dat Ramaphosa ’n streep in die sand probeer trek. Die voorwaarde is steeds daar — die ekonomie mag nie seerkry nie.
Dit is natuurlik ’n moeilike siening om te sluk, want die blote debat skaad reeds die ekonomie, terwyl die verwagting dat almal skielik ’n lappie grond gaan kry, moeilik bestuur gaan word. Vir Johan Els, hoof van ekonomiese navorsing by Old Mutual, is die duidelikheid wat Ramaphosa wil gee oor die omstandighede waarbinne onteiening sonder vergoeding sal plaasvind, egter eintlik heel positief.
Dit is duidelikheid wat Paul Mashatile, ANC-tesourier, verlede week vir ons probeer gee het toe hy dit onomwonde gestel het dat produktiewe plase nie in die visier is nie. Inteendeel, die ongemaklikheid wat in die kommersiële landbou heers, is iets wat die ANC erg bekommer.
Dit is woonarbeiders op plase wat eerder groter toegang tot grond moet kry. Dit is die mense in informele nedersettings, dié wat in bouvallige huisvesting in stede bly, en mense in kommunale gebiede wat moet aandag kry.
Geen regdenkende mens kan politici vertrou nie, maar Mashatile was darem een van die min senior ANC-manne wat sterk en aanhoudend kapsie gemaak het teen oudpres. Jacob Zuma se vergrype. Ek hoop dus sy gerusstellings beteken iets.
Daar is ook die Grondwethof, en veral artikel 36 van die Grondwet, wat enige wilde wysigings behoort te beperk. Saam met Mashatile se verduidelikings behoort dit die bloeddruk darem ’n bietjie af te bring.
Wat egter ’n veel groter rede tot kommer bly, is die staat se onbeholpendheid. Dit gaan nie oornag verdwyn nie. Die sinvolle vestiging van swart boere en die breër transformasie van die platteland sal nooit gebeur sonder die hulp van die kommersiële landbou nie. Tot dan bly die deur oop vir die populiste.
Die goeie nuus is dat baie werk reeds gedoen is, soos die pogings van Nick Serfontein. Hy beweer die situasie kan binne drie jaar heeltemal omgedraai word. Onder meer sy suksesverhaal sal op 23-24 Augustus in Bela-Bela op ons grondberaad (bl. 28) bespreek word. En met Mashatile wat versoek het om die beraad by te woon, kan ons straks ’n meer sinvolle manier vind om die land vorentoe te neem as met laatnag-televisie-aankondigings.