VERSKANS JOU EIENDOM DEUR BUITELANDSE BESIT
DEUR die struktuur van hul ondernemings te verander, is dit moontlik vir boere en ander grondeienaars om hulle te verskans teen die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding.
Verskeie regspraktisyns, ouditeure, makelaars en versekeraars het saam ’n model daarvoor ontwikkel, sê mnr. Jacques Classen van Jacques Classen Prokureurs, wat die groep verteenwoordig.
Die model behels dat die eienaarskap van bates – in dié geval van boerderye, onroerende eiendom of grond – na ’n maatskappy met buitelandse aandeelhouding oorgedra word, met ’n versekeraar wat die nodige korporatiewe strukture daarvoor opstel.
Classen sê sulke houermaatskappye met buitelandse aandeelhouers word reeds suksesvol deur boere en ander sakelui vir boedelbeplanning gebruik.
Die waarde van buitelandse aandeelhouding is dat sulke beleggings kragtens Suid-Afrika se handelsverdrae met ander lande beskerm moet word, sê Classen.
Handelsverdrae bepaal onder meer dat buitelanders vergoed moet word wanneer onteiening plaasvind.
Classen sê die nuwe struktuur word só opgestel dat dit voldoen aan die Wet op die Beskerming van Buitelandse Belegging (Wet 22 van 2015).
Terwyl bates of beleggings dan in die maatskappy met buitelandse aandeelhouding gehou word, word die boerderybedrywighede in ’n afsonderlike Suid-Afrikaanse maatskappy bedryf.
As deel van die opstel van die nuwe struktuur word ’n boerdery gehelp sodat laasgenoemde maatskappy aan die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) voldoen.
Die getransformeerde maatskappy hou dan ’n 99 jaar-huurpag op die grond.
HOFSAKE
Die nuwe struktuur word, deur middel van finansiering, teen enige pogings van die staat om eiendom sonder vergoeding te onteien, beskerm.
Classen sê die koste van ’n hofsaak teen onteiening sonder vergoeding kan etlike miljoene rand beloop omdat dit uiteindelik tot in die Grondwethof gevoer sal moet word.
Aangesien individuele boere en landbou-organisasies dit nie op hul eie kan bekostig nie, is dit nodig dat geld saamgegooi sal moet word.
Die model wat nou ontwikkel is, sluit regskostepolisse in, wat per versekerde gesamentlik tot die beskerming van die struktuur in die howe sal bydra.
Classen sê dit maak hierdie model uniek.
Hy sê ook dat indien die staat die betrokke eiendom sonder vergoeding sou wou onteien, kan dié stap op onder meer twee gronde in die howe beveg word.
Eerstens, as transformasie reeds plaasgevind het, is dit nie billik of regverdig om eiendom sonder vergoeding te onteien nie. Tweedens, as die staat sou besluit om, strydig met handelsverdrae, eiendom te onteien sonder vergoeding, is dit nie in die openbare belang nie.
Die model maak ook voorsie- ning vir bykomende versekering om enige aksies van die staat in howe te kan beveg.
RAND EN SENT
Die koste om ’n boerdery se ondernemingstruktuur volgens dié nuwe model te verander, sal volgens Classen van boerdery tot boerdery wissel, onder meer omdat sommige boere meer as een plaas besit.
Moontlike koste sluit in die oordrag van die titelakte, die opstel van die betrokke entiteite en die herregistrasie van ’n moontlike verband.
Classen voorsien nie dat banke ’n beswaar sal hê indien boere met verbande op hul plase hul ondernemingstruktuur volgens dié model verander nie.
Die waarde van die grond waarteen die verband uitgeneem is, word volgens hom juis daardeur beskerm.
“Deur jou boerderystruktuur volgens die model te verander, verhoog jy die kommersiële waarde daarvan,” sê hy.
Classen sê die navrae oor die model het tot dusver hoofsaaklik van baie groot boerderye gekom, maar die model kan, met aanpassings, ook vir kleiner boere finansieel sin maak.
Jacques Classen Prokureurs help boere om hul ondernemingstruktuur op dié manier te verander, terwyl die Efficient-groep die betrokke beleggings in die struktuur bestuur.
Vir navrae, besoek die webwerf www.cfgsolutions.co.za
‘Die waarde van buitelandse aandeelhouding is dat sulke beleggings kragtens Suid-Afrika se handelsverdrae met ander lande beskerm moet word.’