SÓ WERK ’N GRONDWETSWYSIGING
OM ’n grondwetlike wysiging te laat geskied, moet twee derdes van die Nasionale Vergadering ten gunste daarvan stem. Daarna moet altesaam ses van die nege provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies ten gunste daarvan stem. Daarna moet dit na die President gestuur word vir bekragtiging.
Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en gesoute kenner van die parlementêre reëls, het aan Landbouweekblad verduidelik dat die ANC óf ’n private ledevoorstel in dié verband kan bring óf kan besluit om met die huidige proses van die hersieningskomitee voort te gaan.
Die hersieningskomitee is tans besig met landwye verhore oor die vraag of dit nodig is om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding van grond moontlik te maak.
Artikel 36 van die Grondwet gelas dat enige perke wat op die Handves van Menseregte gestel word, “redelik en regverdigbaar moet wees in ’n oop en demokratiese samelewing”. Sulke perke, soos die perk op eiendomsreg wat onteiening sonder vergoeding sal meebring, kan dus nie sonder goeie rede toegepas word nie.
Die proses om die Grondwet te wysig, kan op grond van dié artikel – en omdat die Parlement nie by die voorgeskrewe prosedures hou nie – in die hof uitgedaag word. Dit kan egter eers gebeur as ’n wetsontwerp wat die beoogde grondwetveranderinge uiteensit, die parlementêre proses laat begin. Dit is nog nie duidelik presies hoe dié wetsontwerp gaan lyk of wanneer dit afgehandel sal word nie.