BOTTELNEKKE BY HAWENS RAAK ’N ÁL GROTER PROBLEEM
DIE enorme groei in veral die sitrusen avokadobedryf plaas ongekende druk op hawe- en padinfrastruktuur wat nie voorbereid is op die toename in produkte nie.
Die bedryf ervaar vanjaar veral in Durban groot struikelblokke, sê mnr. Mitchell Brooke, logistieke ontwikkelingsbestuurder van die Sitruskwekersvereniging.
Hy sê die bedryf sal na verwagting vanjaar sowat 133 miljoen kartonhouers vrugte verpak – sowat 10 miljoen meer as verlede jaar. Veral die produksie van sagtesitrus (satsumas, clementines en mandaryne) het in die noordelike produksiegebied, die Oos-Kaap en veral die Wes-Kaap toegeneem.
“Die meeste van die aanplantings is mandaryne – spesifiek die kultivar Nadorcott – wat laat in die produksiejaar gepluk word.”
ONVOLDOENDE
Mnr. Josef Malan, hoofbestuurder van die Naranja-pakhuis naby Burgersfort, tans die land se grootste sagtesitruspakhuis, meen die infrastruktuur was nie gereed vir die groei nie en is nie ontwerp vir hierdie tipe volumes nie.
“Ons pak sowat 800 palette per dag. Dit vereis ongeveer 40 vragmotors op pad na die hawe en net soveel op pad terug.”
Hy sê dit kom neer op nagenoeg 120 vragmotors in sirkulasie vir slegs een pakhuis. Omdat die avokado-oestyd met dié van sitrus saamval, is daar eenvoudig nie genoeg koelvervoer beskikbaar nie.
Me. Lucille Strecker, Naranja se bestuurder van stelsels en inligting, sê hawens sukkel om die vragmotors vinnig genoeg af te laai en daar is te min inpropplek vir koelgeriewe.
“Daar is nie eens genoeg parkering in die hawens nie; die vragmotorbestuurders weet al hulle gaan parkeerboetes kry. Daar is groot risiko’s aan verbonde as die vrugte op die skeepswerf moet wag om afgelaai te word.”
Volgens Brooke was die omdraaityd in die Durban-hawe verlede jaar gemiddeld 600 minute. Dis vanjaar ietwat beter, maar dit was in sommige weke baie stadig.
Malan sê die Kaapse hawe is beter ingerig om die koelketting te handhaaf as ander hawens, maar volumes raak ’n probleem en dis vir Naranja heelwat duurder om vragmotors Kaapstad toe te stuur.
Brooke sê die noordelike produksiestreek sal in sy spitsoestyd (week 28 en 29) tot 9 000 vragmotorritte benodig om die verhoogde produksie baas te raak.
“Dit is ’n totaal van 49 000 ritte tydens die oestyd om die vrugte na die Durban-hawe te vervoer. Die vraag na vervoer sal waarskynlik die aanbod oorskry.”
Terselfdertyd sal die groter volumes baie druk op die hawe se koelopbergingsvermoë plaas.
“Daar sal waarskynlik nie genoeg vermoëns wees nie. Dit het verlede jaar ook gebeur dat daar net te veel voorraad na Durban gegaan het in verhouding tot die hawe se vermoë. Dit het opeenhopings veroorsaak.”
SPOORVERVOER?
Brooke verwag ’n bykomende 10 000 vragmotorritte gaan in die Oos-Kaap nodig wees en 5 000 in die Wes-Kaap. Hulle ondersoek die moontlikheid om meer spoorvervoer te gebruik.
“Die teiken is om teen 2022 altesaam 8 000 vragmotorritte met spoorvervoer te vervang.”
Namate vraghouerskepe veld wen, verwag Brooke boonop dat nog 96 300 vraghouers nodig sal wees in die volgende drie jaar. Hy sê dit is onseker of die hawens ’n toename van 25% in vraghouerverkeer sal kan hanteer.
“Ons werk saam met Transnet om seker te maak die infrastruktuur is opgewasse.”
Me. Lorraine da Fonseca van TPT (Transnet se haweterminale) erken daar was verlede jaar probleme met onder meer opeenhopings, beskadigde kragpunte en platforms, swak beligting op die skeepswerwe, verlore kabels en temperatuurverstellings wat nie deurgegee is nie. Vraghouers is selfs gelig terwyl dit nog ingeprop was. Sy sê verskeie planne is beraam om “dinge anders te doen”.