Landbouweekblad

MELKBOERE MÓÉT INTERNASIO­NAAL KAN MEEDING

- — CARIEN KRUGER

SUID-AFRIKAANSE melkboere moet hulself inspan om volhoubaar teen internasio­nale produsente­pryse te kan boer. Dít was dr. Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodus­ente-organisasi­e (MPO), se boodskap op die MPO Noord se kuddebestu­ur-inligtings­dag naby Lichtenbur­g.

Internasio­nale plaaspryse is nou net meer as R4/liter, terwyl die gemiddelde Suid-Afrikaanse plaaspryse in Junie sowat R4,50/ liter was.

“Natuurlik sal daar tye wees dat plaaspryse beter, en selfs baie beter, gaan wees. Die geheim is om sulke tye op ’n verantwoor­delike manier te geniet sodat jy voorbereid is vir wanneer die prys weer daal,” het Coetzee gesê.

’n Internasio­nale prys van gemiddeld R4,37/liter word vir aanstaande jaar verwag, terwyl Coetzee ’n gemiddelde plaaslike prys van R4,50/liter tot R4,80/ liter vir vanjaar en volgende jaar verwag.

Suid-Afrikaanse produsente­pryse het sedert April gedaal en was in Junie vanjaar sowat 10% minder as ’n jaar gelede.

Coetzee sê die aanbod van melk het verlede jaar met 5,5% gegroei, maar die vraag na suiwelprod­ukte groei jaarliks met sowat 2%. Die mark kon die sterk groei nie hanteer nie en oorskotpro­duksie het dit vir melkverwer­kers moontlik gemaak om produsente­pryse te verlaag. Die verlagings het reeds produksieg­roei laat afneem.

DRAAIPUNT KOM

Coetzee verwag dat plaaspryse in die toekoms sal verbeter, maar dit is onmoontlik om te voorspel wanneer. “Ek meen melkboere se winsgewend­heid kan aanstaande jaar, na gelang van on- der meer wat voerpryse doen, marginaal beter wees.”

Hy sê dit is ’n werklikhei­d dat melkboere ál minder, maar ál groter word. “’n Verwerker kan nou kies waar hy melk wil oplaai en dít geld nóg meer vir melkkarwei­ers wat melk aan verskillen­de verwerkers verkoop. ’n Verwerker of karweier laai eerder 30 000 liter by een boer op, of 10 000 liter elk by drie boere naby mekaar, as om kleiner hoeveelhed­e by 40 boere op te laai.”

Die grootte van ’n boerdery is dus belangrik, maar Coetzee sê boere kan dit ook oorweeg om met ander boere saam te werk, al is dit net op ’n gedeelteli­ke grondslag.

In die veranderen­de toestande is dit baie belangrik om koste te bestuur. “As jy hoë vaste koste het, moet jy meer produseer.”

’n Melkboer moet ook sy prestasie aan ander s’n meet. “Vergelyk jouself met die beste boere.”

VOLHOUBARE MARK

Coetzee het melkboere moed ingepraat wat bekommerd is oor die laer plaaspryse en gesê die suiwelbedr­yf se toekoms lyk beter as ander bedrywe s’n. “Namate die bevolking ryker word, skakel mense van stysel oor na proteïene. Suiwelprod­ukte is ook in dieetplann­e se ‘goeie boekies’.”

Hy sê volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasi­e gaan die internasio­nale verbruik van produkte op lang termyn na verwagting vinniger groei as die wêreldbevo­lking. In ontwikkeld­e lande sal die groei hoofsaakli­k by botter en kaas lê en in ontwikkele­nde lande by suiwelprod­ukte, soos vars melk, gegeurde melk, jogurt en maas.

 ?? FOTO: CARIEN KRUGER ?? Dr. Koos Coetzee
FOTO: CARIEN KRUGER Dr. Koos Coetzee

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa