WETGEWING GAAN NIE SA SE GRONDKWESSIE OPLOS NIE
DIE debat oor grond se doel is misplaas omdat dit op die reg klem lê en nie op die grond – wat mense éintlik wil hê – self nie.
Dit was die mening van adv. Tembeka Ngcukaitobi, grondaktivis, tydens ’n onlangse bespreking by die Universiteit van Kaapstad.
Hy sê die huidige debat hou die eiendomskousule in die Grondwet, artikel 25, voor as ’n struikelblok vir versnelde en doeltreffende grondhervorming, al is daar nog nie getoets of onteiening sonder vergoeding wel binne dié artikel gedoen kan word nie. Eintlik is die aandag op ’n baie klein afdeling in die Grondwet, naamlik artikel 25 (2)(b), terwyl dit oor grond self behoort te gaan.
Hy wil egter weet wat gaan gebeur ná die huidige grondwethersiening voltooi is.
“Ons gaan ’n wetgewende wysiging kry, maar ons gaan nie grond kry nie. Die punt is ons moet die struikelblok met betrekking tot die grondkwessie uit die weg ruim.”
Sy eie ervaring as grondaktivis het hom geleer die probleem lê by korrupsie, burokrasie en uitermatig hoë grondpryse.
“Wanneer hierdie drie in ag geneem word, sal jy besef die antwoorde het niks te doen met die reg nie.”
BURGERSKAP
Ngcukaitobi meen dat grond gesien moet word met betrekking tot die handhawing van burgerskap. Só sal daar nie so groot klem op restitusie gelê hoef te word nie.
“Iemand het al in ’n studie ge- wys dat as alle eise afgehandel is, in net 7% van die nasionale behoefte voorsien sal word.”
Restitusie sal dus nie werklik help om die grondkwessie op te los nie.
“Dit kan ons dalk simbolies help in die sin dat ‘my oupa’ se grond teruggegee moet word. Maar as ek van myself kan praat, is ek grondloos. Ek is van grond ontneem, maar ek het geen bewys daarvan nie. Die enigste bewys wat ek het, is dat ek swart is en dat ek wil grond hê. Maar ek wil nie grond in die Oos-Kaap (waar my pa vandaan kom) hê nie, maar in Johannesburg.”
Daarom redeneer hy die soeklig moet val op plekke waar mense woon. “As dit gaan oor burgerskap, waarom kan ek nie grond kry waar ek woon en werk nie? Restitusie verwar soms die grondkwessie – die kwessie is burgerskap.”
Hy sê die feit dat een mens 200 hektaar grond kan besit, is immoreel en moet reggestel word. Hy is ook uiters skepties oor die huidige herverdelingsprogram.
“Met die herverdeling van grond word een plaas met een eienaar geneem en aan 400 swart mense gegee. Daar word dan van dié mense verwag om dieselfde wins as die enkel-eienaar te toon.”
‘As alle eise afgehandel is, (sal) in net 7% van die nasionale behoefte voorsien word.’