Landbouweekblad

HOF POOTJIE POLISIE SE INSAMEL-PLANNE

- — JEANNE VAN DER MERWE

’N DRINGENDE aansoek deur die drukgroep Vuurwapene­ienaars Suid-Afrika (Gosa) het die polisie se landwye insameling van vuurwapens waarvan die lisensies verval het, tydelik gekeer.

Regter Bill Prinsloo het in die Noord-Gautengse hooggeregs­hof op 27 Junie ’n tussentyds­e interdik toegestaan wat die polisie verbied om sulke vuurwapens te aanvaar, in te samel of aan te dring daarop dat die eienaars van sulke wapens dit aan die polisie oorhandig.

In ’n omsendbrie­f wat op 30 Julie uitgestuur is, beveel genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekom­missaris, aan dat provinsial­e kommissari­sse dadelik hul opdragte dat sulke vuurwapens ingesamel word, ophef.

Hy sê mense wat reeds hul vuurwapens aan die polisie oorhandig het, se vuurwapens moet aan hulle teruggegee word indien hulle dit verlang.

Die Grondwetho­f het op 7 Junie beslis dat vuurwapens waarvan die lisensies verval het, nou onwettig in die besit van hul wapens is en dat dié wapens aan die staat verbeurd verklaar en vernietig moet word. Die hof het ook beslis dat vuurwapene­ienaars wat hulle in dié situasie bevind, nie vervolg moet word nie.

APPÈL KOM

Sithole sê egter ook in sy omsendbrie­f dat die polisie sal appèl aanteken teen dié nuutste hofbevel en “verdere instruksie­s (sal) tydig volg”. “Slegs opdragte en/of instruksie­s wat uit hierdie kantoor uitgereik is, moet nagekom word,” lui die omsendbrie­f.

In die weke ná die Grondwetho­f-uitspraak was daar groot verwarring oor hoe die insameling­sprosedure sal verloop. Dit was omdat Sithole aan provinsial­e kommissari­sse opdrag gegee het om die insameling­sproses op provinsial­e vlak te inisieer.

Dit het daartoe gelei dat verskillen­de provinsial­e opdragte mekaar weerspreek. Sommige vuurwapene­ienaars het ook gemeen dat hulle die provinsial­e opdragte kon ignoreer omdat daar nog nie ’n landwye opdrag uit Sithole se kantoor uitgereik was nie.

Sommige vuurwapene­ienaars meen ook dat vuurwapenl­isensies wat ingevolge die ou Wet op Wapens en Ammunisie (Wet 75 van 1969) gelisensie­er is, steeds

geldig is, selfs in gevalle waar dié lisensies later omgeskakel is na die nuwe lisensies (Wet 40 van 2000) en dié lisensies verval het. Daar is egter nie eenstemmig­heid daaroor nie.

AMNESTIE

Intussen het die Parlement se portefeulj­ekomitee oor polisie aangekondi­g hy gaan ’n versoek om ’n vuurwapena­mnestie van genl. Bheki Cele, Minister van Polisie, oorweeg. Die datums wat oorweeg word, is vanaf 1 September vanjaar tot 28 Februarie volgende jaar.

Die komiteevoo­rsitter, mnr. Francois Beukman, sê in ’n verklaring die hoofdoel van dié amnestie is om die aantal onwettige vuurwapens in sirkulasie te verminder. Dit is glo ook om te keer dat wettige vuurwapens gesteel word en “verlore raak in die poel van onwettige vuurwapens”.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa