Wol die nuwe witgoud?
Die vraag en aanbod van wol vir die toekoms lyk redelik gesond en stabiel. Verbruikers kan egter afgeskrik word deur die hoë pryse van wol en skaapvleis.
Gedurende verlede jaar het Suid-Afrikaanse wolboere sowat 46 miljoen kg wol teen nuwe rekordpryse op wolveilings verkoop. Met die afsluiting van die wolveilingseisoen in Junie vanjaar was die Merino-prysaanwyser R211,99/kg vergeleke met R152,18/kg in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, luidens ’n markverslag van Cape Wools. Dit is ’n styging van 39%. Skaap- en lamsvleispryse het ook stewig gebly en het rondom R70/kg gewissel. Dit het ook goeie stygings die afgelope twee tot drie jaar getoon.
Die inkomste uit wol- en vleisskape het die afgelope paar jaar aansienlik verbeter danksy die sterk vraag en die feit dat produksie nie veel toegeneem het nie weens die diefstal- en roofdierprobleme. Nietemin is daar toenemende belangstelling in wolskaapboerdery. Boere in die saaigebiede belê ook toenemend in intensiewe produksiestelsels. Dit verg goeie bestuur, maar is een van die min bedrywe wat redelik lonend is.
Die vooruitsigte bly belowend, maar ’n mens sal moet aanvaar dat die pryse nie aanhoudend so skerp sal bly styg nie en dat wolskaapboere daarteen sal moet waak om oor te kapitaliseer en hul produksiekoste onnodig te verhoog. Landbouprodukmarkte, soos baie ander markte, bly op mediumtermyn siklies en ’n mens moet dit deeglik in ag neem in jou besluite oor kapitaalbeleggings. Wolskaapboerdery bly egter ’n goeie bedryf met intensiewe bestuursinsette vir bo-normale produksie in jou kudde.
VOLHOUBARE VRAAG
Die ontleding deur Australiese landbouekonome (Australian Commodities, Junie 2018) van langertermyn-markvooruitsigte bly gunstig. Die vraag na wol as ’n nismark- produk bly groei en dit het ’n markaandeel van net 1% op die wêreldtekstielmark. Die verwerkingsvraag na veral fynwol word aangewakker deur die vraag na goeie tekstiel en klere, veral pakke. Die groei in verbruikersinkomste in die lande wat ’n sterk vraag na die produkte toon, gaan na ver- wagting voortduur. Veral die mark vir goeie tekstielklere in China, Amerika en Europa bly groei.
Daar word ook baie aandag geskenk aan die bemarking van wolprodukte as ’n gesogte nismarkproduk. Dit wil dus voorkom asof die huidige sterk groei in vraag nie ’n modegier is nie, maar eerder die resultaat van ’n hoë inkomste en ’n volhoubaarder vraag na ’n goeie nismarkproduk.
Hulle verwag dan ook dat die vraag na fyn- en superfynwol sterk gaan bly op kort tot mediumtermyn. Dit word weerspieël in pryse vir fynwol (17 mikron), wat die afgelope drie jaar in Australië en Suid-Afrika meer as verdubbel het met laer prysstygings en ’n swakker vraag na growwer wol. Hulle waarsku egter in hul ontledings dat die prys van superfynwol betreklik hoog raak om mededingend te bly en ’n mens kan seker verwag dat dié soort prysstygings nie elke jaar herhaal gaan word nie. Dit is egter ’n feit dat die huidige wolprysvlakke heel lonend is.
Die produksie van wol in Australië het die afgelope paar jaar baie stadig gestyg. Duur arbeidskoste plaas ’n perk op wolskaapboerdery en dan is daar ook die droogte van die afgelope dekade. Nietemin word verwag dat sy wolproduksie aanstaande jaar in normale weidingstoestande met sowat 2% gaan toeneem. Australië bly die grootste produsent ter wêreld met ’n geraamde 350 000 ton wol vanjaar, dit is sewe keer groter as Suid-Afrika se wolskeersel en die Australiese wolboere skeer sowat 77 miljoen skape per jaar, teenoor die geraamde sowat 12 tot 14 miljoen wolskape plaaslik.
Markpryse in Suid-Afrika volg ook sterk die Australiese pryse en die relatiewe wisselkoersverskille is belangrik. Die rand het egter die afgelope twee jaar nie veel teenoor die Australiese dollar verswak nie. Die wisselkoers raak belangrik vir die inkomste in rand as ’n mens na die Europese en Chinese kopers kyk. Die stygings in pryse was egter nie net as gevolg van die verswakking van die wisselkoers nie, maar vanweë ’n fundamentele vraag-en-aanbod-verloop en dat wolprodukte as ’n gesogte nismarkproduk daargestel word.
Konsortium-Merino in Suid-Afrika is sekerlik een van die voorlopers in die land met die vestiging van ’n handelsmerk vir ’n unieke
produk, wat voldoen aan die eienskappe van ’n nismark.
In GRAFIEK 1 word die verloop van die wêreldproduksie van wol oor die afgelope aantal jare getoon, ook dat dit baie stabiel is. Insinkings, soos in 2012, het te doen met die Australiese droogte, maar dié land se wolskaapgetalle het ná die droogte verbeter en neem stadig toe. Wol wat gelewer word, word verbruik en daar is ’n klein oordragvoorraad van jaar tot jaar wat beperk is tot ’n voorraad van rondom 35 ton per jaar.
Die Australiese skaapvleisuitvoer is ook belangrik. Boere daar slag sowat 23,5 miljoen lammers per jaar en sowat 8 miljoen skape, waarvan die vleis meestal uitgevoer word. Die binnelandse produsentepryse van skaap- en lamsvleis is effe goedkoper as dié in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse invoertarief op lams- en skaapvleis maak dit egter onaantreklik om na Suid-Afrika uit te voer.
Suid-Afrikaanse boere slag 4 miljoen tot 5 miljoen skape, en hoofsaaklik lammers per jaar, wat alles binnelands verbruik word, terwyl Australië vir die vleisuitvoermark lewer en jaarliks sowat 1,9 miljoen lewende skape na hoofsaaklik die Arabiese lande vir slagdoeleindes uitvoer.
Die Australiese wol gaan hoofsaaklik na China, wat ook vir Suid-Afrika die grootste koper van wol is. Die meeste wolverwerkingseenhede in China word egter deur Europese eienaars besit.
BESLIS LONEND
In GRAFIEK 2 word die uitvoerbestemmings van Suid-Afrikaanse wol vir Julie verlede jaar tot Maart vanjaar getoon. Dit is grootliks na China en heelwat minder na Italië en die Tsjeggiese Republiek en kleiner hoeveelhede na sewe ander bestemmings. China koop sowat 71,5% van die plaaslike wol. Dit het op ’n waardebasis die afgelope jaar bly toeneem, volgens Cape Wools.
Die Suid-Afrikaanse wolbedryf is, soos sy neutebedryf, afhanklik van die Chinese mark en dié bedrywe behoort voordeel te kan trek uit enige handelsooreenkomste wat tussen China en Suid-Afrika binne die Brics-groepering beding word. Indië is ’n klein koper van Suid-Afrikaanse wol, net sowat 1,5%.
In GRAFIEK 3 word die verloop van wolpryse op Suid-Afrikaanse veilings aan die hand van Cape Wools se Merinomarkaanwyser getoon. Sedert begin verlede jaar het wolpryse met bykans 40% gestyg en dié van lamsvleis met 18%. Indien ’n mens in ag neem dat jy sowat 4 kg tot 5 kg wol van ’n Merino kan skeer en dan nog die lam vir vleisbemarking op die koop toe kry, is dit ’n goeie inkomste. Die afgelope jaar of wat het goeie teelooie se pryse ook aansienlik verbeter en indien die droogte sy greep op die skaapweidingstreke laat los, is dit beslis ’n lonende bedryf; ook in die ekstensiewe gedeeltes, mits jy roofdiere doeltreffend bekamp en ’n goeie speenpersentasie kan handhaaf.
TEN SLOTTE
’n Mens moet waak teen ooroptimisme, maar die vraag-en-aanbod-faktore van skaapvleis en wol is tans redelik gesond en lyk stabiel vir die volgende paar jaar. Dit is toenemend nismarkprodukte wat ’n premie verdien op die tekstiel- en rooivleismark, waar die grootste risiko is dat die betrokke gehalte nie die hoë pryse regverdig nie en verbruikers afskrik. Die ander voordeel is dat ’n mens plaaslik vleis verkoop en wol kan uitvoer, wat ’n verskansing gee teen die verswakking van die rand. Die verhouding in produksiemiddele is ook gunstiger as byvoorbeeld by saaiboerdery, waar die winste skraal is vergeleke met die risiko’s wat geloop word.