KOMMENTAAR
Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het in die gedenklesing ter herdenking van oudpres. Nelson Mandela se geboorte 100 jaar gelede die punt gemaak dat “vir byna alle lande gaan vooruitgang afhang van ’n inklusiewe markgerigte stelsel”.
Hy daag dan mense wat anders dink, uit om na die geskiedenis te kyk. Daar sal hulle vind dat enige staatsbeheerde stelsel sonder individuele vryhede eenvoudig nie werk nie.
Landboubesighede, waarby ek boerderye en sakeondernemings in die res van die voedselwaardeketting insluit, is tans midde-in die grondvraagstuk. As ek na van die uitsprake oor moontlike onteiening sonder vergoeding luister, word die huidige boere byna ’n soort historiese beskuldigde vir alles wat sedert 1652 verkeerd geloop het aan die suidpunt van Afrika.
Daar is genoeg voorbeelde dat ’n sektor, ’n ekonomie en ’n land eenvoudig ineenstort as private eiendomsreg misken word. Die klem van die landboudebat behoort te wees op “inklusiwiteit” en nie oor die beginsel van ’n “markgerigte stelsel” nie.
Ongelukkig druip Suid-Afrika die inklusiwiteitstoets met die ongelukkige gevolg dat dit die gaping ooplaat vir randeiers om die suksesse van die markgerigte stelsel onder verdenking te plaas.
In hierdie reeks gaan ons kyk na landboumaatskappye en probeer om lesers ’n bietjie meer agtergrond en inligting te gee oor die maatskappye wat suksesvol binne hierdie waardeketting sake doen. Die vertrekpunt is: Landbou-ondernemings is bates met beleggingswaarde, selfs in moeilike omstandighede. — THEO VORSTER