Swartlandse rooivleisbedryf lyk rooskleuriger
Veeboere in die Swartland kan nou die vrugte begin pluk van weivelde wat weer groen is en genoeg water wat vir die diere beskikbaar is. Maar hulle moet ook lesse uit die droogte leer en betyds begin beplan vir die komende seisoene.
Die rooivleisbedryf in die Swartland vaar oor die algemeen beter as ’n jaar gelede. Maar boere is hard getref deur die droogte en moenie te gerus raak nie, waarsku mnr. John Dürr, bestuurslid van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en voorsitter van Agri Malmesbury.
Dit is belangrik om genoeg voerreserwes, veral oesreste, as droogtehulpbronne op te berg, is daaruit geleer.
Dürr meen veeboere in die Swartland en Weskusgebiede is veel beter af danksy die wydverspreide goeie winterreën wat tot dusver geval het. Talle plaasdamme het selfs begin oorloop en die res is vinnig besig om vol te raak, terwyl die stand van weidings en ander graangewasse goed lyk. Wat veral saak maak, is die optimisme wat daaruit voortvloei, “en almal sien weer met groot geloof kans vir die jaar wat voorlê, ondanks die ietwat ongunstige politieke klimaat”.
SKAAPBOERE
Tans is nog nie veel ramveilings in die Weskus en Swartland gehou nie. Selfs in dié vroeë stadium lyk dit egter of stoetboere weer goeie pryse behoort te behaal, veral van die telers wat nou hul kuddes herbou ná die droogte van drie jaar erge letsels op hul kuddes gelaat het. Boonop kry hulle ook oor die algemeen goeie vleis- en wolpryse.
Skaapboere wat die afgelope droë jaar deurlopend hul diere voer gegee het – veral in die vier weke voor- en ná lamtyd – pluk nou die vrugte daarvan in die vorm van hoë lampersentasies.
“Wol- en vleispryse is tans ook goed en die boere wat hul lammers vroeg gaan bemark, kan steeds hierdie hoë slagpryse benut,” sê Dürr.
“Die neiging behoort te wees om lammers swaarder te bemark omdat surplusweiding waarskynlik vanjaar langer beskikbaar sal wees – veral as opvolgreën redelik aanhou.”
Nóg iets waaroor baie boere bly is, is dat diegene wat hul jong ooie die vorige jaar op dieselfde wyse as hul ouer ooie goed versorg het, nou ook die vrugte daarvan pluk.
“Sommige kommersiële boere het lampersentasies van tot 120 by van hul jongooikuddes gekry.”
Die goeie versorging van hul jongooitroppe is uiters belangrik om te verseker dat dié ooie nie van hul lammers – veral dié met meerlinge – weggooi nie.
“Intensiewe lamstelsels in verskillende formate kom al hoe meer voor, en is sekerlik, net soos minimumbewerking en presisieboerdery by graangewasse, veel eerder die norm as die uitsondering waarop in die toekoms met skape geboer gaan word,” meen Dürr.
BEESVLEISPRYSE
“Vleisbeesboere wat speenkalwers vir die voerkraalmark lewer, kan steeds bogemiddelde pryse verwag ondanks die feit dat pryse teenoor die vorige jaar gedaal het,” sê Dürr.
Opkomende boere behoort veral vanjaar die kans te kry om met goeie leiding die gehalte van hul kuddes te verbeter, voerreserwes op te bou en weg te bêre, en voorsiening te maak vir die jaarlikse droë tydperk in die komende somer.
“Goeie mentorskap van medeboere, asook die leiding van die departementele voorligtingsbeamptes en ander belanghebbendes is hier belangrik omdat die verskoning van ‘droogte’ nie vanjaar weer die skuld sal kan kry vir kapitaal en ander tekorte nie,” waarsku Dürr.
Die beesbedryf, waaronder melkbeeste wat geslag gaan word, in die WesKaap en Swartland – eintlik in die hele SuidAfrika – ervaar tans die grootste daling in die prys van huide (beesvelle) die afgelope dekade.
“Gevolglik kry boere op ’n slagbasis tot R1,50/kg minder vir hul karkasse as ’n jaar gelede. Die kans op enige noemenswaardige prysstyging binnekort lyk nie baie goed nie.”
’n Groot aantal diere word geslag, veral in Amerika, SuidAmerika en Australië. Dít vererger ’n ooraanbod van veral leer vir die motorvervaardigingsbedryf op die wêreldmark – veral in China.
Tydens stoetveeveilings wat reeds in die Weskusgebied gehou is, was die ondersteuning vanaf kommersiële boere nie baie goed nie.
“Dit is weens die feit dat heelwat van hulle hul vleisbeeskuddes tydens die langdurige, uitmergelende droogte totaal tot niet gemaak het, en hulle het nie nou genoeg kapitaal om weer hul kuddes te begin bou nie.”
VOERGEWASSE
’n Goeie graanoesjaar kan daartoe bydra dat voerreserwes – veral koringstrooi, hooi en topkuilvoer – vanjaar opgeberg sal kan word.
“Daarom is boere oor die algemeen optimisties en selfs opgewonde oor die moontlikhede wat voorlê. Ons sal in die toekoms moet kyk hoe ons die oesreste van graanboerdery kan vervang met ander materiale, soos gekerfde hout en skaafsels. Tans word oesreste teen verdamping gebruik as grondbedekking op vrugte, groente en wingerdplase, asook op boupersele teen winderosie en by pluimveehokke as vloerbedekking.
“Ons het met die afgelope droogte gesien hoe belangrik dit is om genoeg voerreserwes, veral oesreste, as droogtehulpbronne op te berg. Die staat sal hier moet begin help, veral wat opberging en versekering teen brandskade betref,” sê Dürr.