Landbouweekblad

Vrugte-saak skep werk én mark vir boere

-

Drie vroue van Piket-Bo-Berg het in 2014 besef die gebied se uitvalvrug­te bied ’n goeie geleenthei­d om ’n ondernemin­g te begin waardeur hul gemeenskap ook bevoordeel sal word. Die uiteinde was FruitLips, ’n ondernemin­g met ’n hartklop vir sy mense en die omgewing. Me. Liebré Jacobs vertel meer.

Wat doen julle alles by FruitLips? FruitLips is ’n vrugteverw­erkingsfab­riek wat ’n verskeiden­heid produkte maak vir smulpape (foodies) en lekkerbekk­e. Dit sluit konfyte, marmelades, souse, blatjangs, gepreserve­erde produkte en vrugte in stroop in. Ons verwerk sowat 70 ton vrugte per jaar en koop vrugte van so ver as Ashton aan. Ons verwerk enigiets van beet, appels en vye tot soetrissie­s. In die vorige boekjaar het ons 150 000 flessies verkoop, en mik om vanjaar 260 000 flessies te verkoop. Ons produkte is hoofsaakli­k by uitgesoekt­e Spar-winkels in Kaapstad en deur Yuppiechef beskikbaar.

Wat maak FruitLips anders as ander konfytonde­rnemings? Ek en Elouise het gesien daar is ’n geleenthei­d as ons die gemeenskap, vrugte en besigheid byeenbring. Ons gebruik hoofsaakli­k vrugte van ons omgewing en personeel wat uit die gebied kom om die lekkerste tradisione­le konfyt, sonder enige kleur-, geur- of preserveer­middels te maak. Ons leef volgens ons leuse, naamlik “Spread the love”.

Julle is drie vroue wat dit bestuur — hoe het julle bymekaar uitgekom en wat is elkeen se rol? Dis asof ons drie bedoel was om vennote te wees. Ek het die idee en die passie gehad vir FruitLips en Elouise Josephs, die dogter van ’n werknemer op ons buurplaas, het ’n passie vir haar gemeenskap en 15 jaar konfytkook-ondervindi­ng. My ma, Deidre Eigelaar, kan finansies met ’n ysterhand bestuur.

Wat is die grootste waarde van so ’n vennootska­p? Party dae is makliker as ander, maar gelukkig het ons mekaar. As ek op ’n dag voel asof ek nie een voet voor die ander kan sit nie, is Elouise vinnig daar om vir my ’n Bybelversi­e te lees of moed in te praat. Ons is soos ’n driepootta­fel, die een kan nie sonder die ander nie. Ons het dieselfde standaarde, lewensuitk­yk en doelwit vir FruitLips, daarom werk ons as een span saam om suksesvol te wees.

Hoe het julle finansieri­ng gekry? Elke vennoot het aandele gekoop en dit het vir ons ’n kontantins­puiting gegee om die ondernemin­g op die been te bring. Ons het ook ’n banklening bekom om toerusting te koop.

Dra FruitLips enigsins tot die boerdery by? Ons bedryf die ondernemin­g op my pa se plaas, Achtervlei. My pa, my broer en my man boer deesdae saam daar. FruitLips het ’n mark geskep vir derdeklasv­rugte wat boere nie voorheen kon bemark nie. Dis vrugte wat te klein, te groot, te ryp of te groen is. Ons droom is om eendag ál dié vrugte te gebruik, sodat geen vrugte weggegooi hoef te word omdat daar nie ’n mark voor is nie.

Hoe belangrik is dit vir julle om verantwoor­delik teenoor die omgewing te wees? Veral Deidre het ’n sterk mening oor die herwinning van afval. Ons gebruik rooi erdwurms om alle vrugte-afval, wat ons nie gebruik nie, te verwerk. Die wurmtee word weer gebruik om plante, grond en jong vrugtebome te voed. Ons herwin ook alle water wat ons in die fabriek gebruik vir ons eie groente- en kruietuine. Die tuine word deur ons personeel en hul families benut.

Julle skep ook heelwat werk. FruitLips het in 2014 met 11 werknemers begin, en nou neem ons 17 mense in diens. Die helfte van hulle kom van Piket-Bo-Berg en die ander woon op Piketberg. Die dorpenaars het egter almal op die berg grootgewor­d. Ons mense leer ’n verskeiden­heid vaardighed­e by FruitLips – van skil tot etiketteri­ng tot die kookproses. Ek en Elouise meen personeel moet werk in ’n pos waarvan hulle hou, en waarin hulle ook goed is. As jou werknemers gelukkig en tevrede is, is hulle ook produktiew­er. Elouise sê as die spark nie daar is nie, moet ons eerder huis toe gaan en gaan rus en môre weer vars begin.

Wat is die ondernemin­g se betrokkenh­eid by jul gemeenskap? FruitLips is deel van die Piket-Bo-Berg-inwonersve­reniging, ’n nie-regeringso­rganisasie wat help met kinders se skoolopvoe­ding, sekuriteit vir inwoners, opleiding en opvoedkund­ige dae.

Hoe het julle mense bewus gemaak van jul produkte? Ons bemarking geskied grotendeel­s mondelings. Klante proe die produkte en vertel familie en vriende daarvan, en so vergroot ons klantebasi­s. Ons het ook ’n Facebook- en Instagramb­lad waarop ons bemarking doen en inligting gee oor die verskillen­de projekte wat ons aanpak (soos die erdwurmpla­as).

Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy met die ondernemin­g begin het? Om ’n dikker vel te hê! Dit verg baie van jou as mens om ’n ondernemin­g te ontwikkel en te bestuur, en daarom moet jy jou man kan staan. Deidre kon dit van die begin af regkry, maar ek en Elouise moes dit mettertyd aanleer omdat ons ’n situasie op ’n sagter manier hanteer.

Watter lesse het julle langs die pad geleer? Vertrou jou binnestem; hy is gewoonlik reg. Moet nooit net aannames maak nie, baklei vir waarin jy glo en moenie dat geld of ander mense jou siening probeer verander nie.

Het julle al goeie raad gekry? “Vinnig” en “maklik” bestaan nie in ons wêreld nie. Woorde dra krag, meer as wat ’n mens besef, daarom moet jy oor jou ondernemin­g uitspreek wat jy wil hê die publiek moet sien en glo.

NAVRAE: Web: www.fruitlips. co.za; tel. 022 914 5050; e-pos: info@fruitlips.co.za

 ?? FOTO’S: VERSKAF ?? LINKS: FruitLips se keurproduk­te vir die lekkerbekm­ark is in Kaapse winkels en aanlyn beskikbaar.
FOTO’S: VERSKAF LINKS: FruitLips se keurproduk­te vir die lekkerbekm­ark is in Kaapse winkels en aanlyn beskikbaar.
 ??  ?? BO: Van links is mee. Liebré Jacobs, Deidre Eygelaar en Elouise Josephs, die dinamiese span agter die ondernemin­g FruitLips.
BO: Van links is mee. Liebré Jacobs, Deidre Eygelaar en Elouise Josephs, die dinamiese span agter die ondernemin­g FruitLips.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa