KONTRAK BELANGRIK VIR DIÉ VLEIS
Vir ’n produsent van eendvleis om ’n klantebasis op te bou, is ’n jare lange en uiters moeilike taak, sê mnr. Nick van Zyl van The Duck Father SA.
“Ons het jare nodig gehad om vertroue in ons produk by ons klante op te bou.”
Sy onderneming in die Delmasomgewing in Gauteng is naby aan sy klante.
Suid-Afrika voer eendvleis in. Ingevoerde vleis se pryse is baie laag omdat dit in ander lande op groot skaal geproduseer word.
Plaaslike boere sukkel om mee te ding weens onder meer Suid-Afrika se voer-, brandstof- en arbeidskoste.
Die kopers van eendvleis is in ’n groot mate restaurante, maar ook die bedryf vir troeteldierkos, ’n paar supermarkte en Jan en alleman.
Van Zyl sê Suid-Afrikaners het in 2015 gemiddeld 36,4 kg hoendervleis per kop per jaar geëet, maar na raming slegs 0,004 gram eendvleis.
Omdat dit so ’n nisproduk is, sê hy ’n produsent moet verkieslik kontrakte verkry.
“Die meeste restaurante het spesifieke vereistes en as produsent moet jy daarvolgens kan voorsien.
“Dit kan behels ’n spesifieke gewig en ouderdom, geen pekelwater, perfekte lewensomstandighede, inligting oor voer se voedingswaarde en vet-tot-vleisverhouding.
“Dit is belangrik om jou produk van ander te kan onderskei en enige aansprake met feite te kan staaf.”