Só word Brahman ‘bees van die toekoms’
Genomika is die instrument waarmee die Brahman op pad is om die bees van die toekoms te word. Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brahman-beestelersgenootskap, wat reeds 42 jaar met dié voortreflike ras boer, gee sy indrukke van die nuutste tegnologie tot die beesbedryf se beskikking.
Die Brahman is sekerlik die mees geharde, aanpasbare beesras vir die wêreld se uiteenlopende toestande en ook om aardverwarming die hoof te bied, maar daar is altyd ruimte vir verbetering. Daarom word genomika met albei hande aangegryp om vinnige rasvordering te verseker.
Mnr. Sydney Hunt, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brahman-beestelersgenootskap, sy seun, Geoffrey, en Sydney se broer, Mark, boer saam in ’n vennootskap, Hunt Farming, naby Warrenton in die Noord-Kaap. Dit bestaan uit ’n wit Brahman- en ’n Charolais-stoetery, kommersiële BrahmanCharolais-kruisbeeste, die verbouing van lusern onder besproeiing vir voerproduksie en ’n beenmeelfabriek.
Hunt boer sedert 1967 op die familieplaas waar sy pa, wyle mnr. Reg Hunt, en voor hom sý pa, ook Sydney, geboer het. Die plaas is sedert 1877 in die Hunt-familie se besit.
Die Hunt Brahmanstoetery bestaan sedert 1959. Die Brahman is in Amerika geteel as teenvoeter vir die Britse rasse, wat nie goed daar aangepas was nie. Die idee was om ’n kleiner, maar geharde bees te ontwikkel.
Suid-Afrika het op daardie patroon voortgegaan, maar die Hunts het later groter, swaarder Brahmane in Amerika raakgeloop, wat hulle ingevoer het. Hulle het mettertyd van hul ander Brahmane ontslae geraak en dit was die begin van die beroemde Sugarland-lyn in Suid-Afrika.
MODERNE TEGNOLOGIE
Die Hunts het van die begin af die tegnologie se waarde in beesboerdery besef. Toe hulle nog ’n Fries-melkkudde gehad het, het ’n jong Hunt reeds saam met sy pa bulle se saad getap, in die yskas gesit en koeie kunsmatig geïnsemineer (KI). Later het hulle ook KI op die Brahmane begin doen en mettertyd embriospoeling en in vitrobevrugting toegepas.
Genomika is die nuutste tegnologie in die veebedryf. Hunt teel vir ’n bees met ’n effens groter raam met meer vleis, terwyl hy genomika se rol sien as ’n geleentheid om tekortkominge wat reeds in die ras geïdentifiseer is, te verbeter. “As ons dit kan regkry, gaan ons met ons nuwe slagspreuk eindig: ‘Die volledige beesras.’
“Ek wil in die proses ons eie stoetery verbeter, maar met behulp van die vleisbeesgenomikaprojek (VGP) ook die ras op nasionale basis verbeter. Aardverwarming is ’n werklikheid en die Brahman het die meeste eienskappe waarmee ons dié probleem kan takel, naamlik aanpassing en gehardheid. Geen ander beesras het soveel goeie hoedanighede wat dié gevaar die hoof kan bied en afweer nie,” sê hy.
WAARDEVOLLE HULPMIDDEL
In die praktyk neem die Hunts volledig deel van die VGP. Dit het by KI begin. Daarna het dit tot die prestasietoetsing van jong bulle by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Armoedsvlakte-toetsstasie uitgebrei, waar bulle se groei eers geëvalueer en hulle dan geslag word om vir gewenste vleiseienskappe, soos sagtheid, ribvetdikte, marmering en oogspieroppervlakte, geëvalueer te word.
Hulle gebruik ook koppelbulle, wat dus in ander kuddes in Suid-Afrika,
Namibië, Australië en Amerika vir teling aangewend word. Dit neem hul deelname aan die VGP ’n belangrike stap verder. Die ontledings om genomiese, beraamde teelwaardes te ontwikkel, word deur Breedplan gedoen.
Hunt sê die teelwaardes wat hulle van die Brahman-genootskap kry, is ’n waardevolle hulpmiddel vir seleksie om bulle uit te skakel wat nie aan gewenste eienskappe vir byvoorbeeld temperament voldoen nie. Gevolglik kan hy die regte bulle vir paring gebruik. Terselfdertyd kan hy die beste, vrugbare koeie vir teling selekteer.
Hunt sê die VGP gaan ’n omwenteling in Brahmanteling teweeg bring. Die hoender- en varkbedryf het baie vinniger genetiese vordering gemaak danksy hul kleiner generasiegaping vergeleke met beeste.
“Dis anders by beeste. Ek moet jare wag voor ek genoeg data het om ’n oordeel oor ’n spesifieke dier te vel. Met VGP sal dit baie vinniger gebeur; sommer binne weke ná ’n kalf se geboorte. Dan weet ek watter diere die potensiaal het om die nageslag te verbeter. Genomika sal sewe jaar se teling uit die boerdery sny. Só kan rasvordering vinniger plaasvind en boere op bepaalde eienskappe konsentreer wat vir hulle belangrik is,” sê Hunt.
MODERNE WETENSKAP
Vier lande is by die VGP betrokke – dus is daar koppeling tussen teelbulle wat die akkuraatheid van data verhoog. Koppelbulle word deur die raskenners geïdentifiseer.
Die evaluasie van ’n dier met die oog is nie langer die enigste antwoord vir rasvordering nie. Dis bloot ’n bydraende faktor, want ’n teler wil mos nie ’n lelike bees koop of verkoop nie. Die bouvorm móét reg wees. Daarmee saam moet ’n teler egter die moderne wetenskap gebruik om genetiese vordering te maak en dit is waar genomika inkom.
“Ons het nie ’n ander keuse nie as om ons ras met die wetenskap te verbeter. My leuse is immers: First is first,
second is nowhere.” Dus bevorder Hunt die genomikaprojek met oorgawe, want die Brahman se toekoms is daaraan verbind. Met genomika kan hulle leemtes vul en eienskappe verbeter.
Genomika is nie slegs vir stoetboere belangrik nie. In ’n opname deur die genootskap het kommersiële boere aangedui hulle soek ook na ’n verbetering in temperament, vrugbaarheid en melk. Eienaars van voerkale wil weer beter groei, ’n beter voeromsetting en ’n beter uitslagpersentasie hê. Die verbruikers het die behoefte aan vleis met ’n hoër gehalte beklemtoon.
Hunt sê die VGP kan in ál daardie uiteenlopende behoeftes voorsien deur bulle met die betrokke eienskappe te identifiseer en by telers aan te beveel wat tekortkominge sal aanvul.
“Die mark het vir ons gesê wat hy wil hê. Dus moet ons gehoor gee, maar in die proses die Brahman se uitsonderlike gehardheid, aanpasbaarheid en basterkrag behou. Dan kan ons die produk verskaf wat almal wil hê deur die volledige Brahman te teel,” sê hy.
DIE HUNT-STOETERY
Hunt boer op soetveld. Dit kry gemiddeld 340 mm reën per jaar. Die afgelope vyf jaar was weens droogtes egter “ongenadiglik moeilik”, vertel hy. Die winters is ook koud. Waar hy naby die Vaalrivier boer, word dit snags maklik -5 °C. In die somer styg die kwik dikwels tot bokant 40 °C.
Hulle selekteer dus vir beeste wat hierdie aanslae kan trotseer en puik produseer en voortplant. Dít is wat die Brahman bied.
Vaalbos vul die grasweiding goed aan wanneer die weiding skraps raak. Die blare het ’n hoë proteïeninhoud en die beeste vreet dit wanneer die veldweiding min raak. Gras groei ook onder die vaalbosse en bly selfs ná ryp groen. Dit help ’n boer baie om sy beeste regdeur die winter in ’n redelik goeie kondisie te hou.
Die stoetery is gemik op die teel en verkoop van bulle. Wanneer hy ’n oorskot vroulike diere het, verkoop hy ook koeie of verse. Die sowat 43% bulkalwers, wat nie vir stoetteling gekies word nie, gaan voerkraal toe.