Hanteer beeste só en boer maklik
’n Brahmanteler van KwaZulu-Natal pas prestasietoetsing toe sedert hy met Brahmane begin boer het. Met sy deelname aan die vleisbeesgenomikaprojek wil die Brahmanstoetery Damview nou ook op ’n ekonomiese manier smaaklike vleis produseer.
Toe die eerste Brahman-kruisbeeste in Suid-Afrika beskikbaar geraak het, het sy oupa dadelik een gekoop, vertel mnr. Ting Braithwaite, ’n Brahmanteler van Bergville in KwaZulu-Natal.
“My pa het saam met my oupa begin boer en só ook ’n liefde vir die ras ontwikkel. Ek het met die ras grootgeword en is ook lief vir Brahmane.”
Sy pa het aanvanklik met Brahmane begin teel om sy eie kommersiële bulle te kry. Mettertyd het die mark, en ook hul stoetery, groter begin raak.
Die Damview-stoetery is in 1984 begin toe sy pa die eerste kalfies geregistreer het. Reg van die begin af word prestasietoetsing by die diere gedoen.
Na gelang van die aard van die seisoen, veral ná die droogte, het die stoetery 300-350 koeie. Twee derdes van die stoetkoeie is wit Brahmane en die oorblywende derde is rooi.
“Drie aspekte is belangrik wanneer ons selekteer, naamlik wat ons visueel kan sien, die dier se stamboom en prestasie,” sê Braithwaite.
Hy sê die Brahman is nie ’n moeilike ras om mee te werk nie en is ’n baie geharde bees. “Brahmane is deurgaans in aanvraag. Daarom sal ek aanhou om met hulle te boer.
“Boere wat met Brahmane wil boer, moet drie dinge in ag neem: Roetine, bestuur, en geriewe en infrastruktuur. Die beeste hou daarvan om altyd dieselfde gehanteer te word — dieselfde hekke en dieselfde geriewe. Hulle raak gewoond daaraan en verstaan dit.
“Jy moet goeie, werkende geriewe hê waaruit beeste nie kan breek nie, want as hulle eers weet dit is ’n moontlikheid, sal hulle aanhou probeer.
“Hoe jy met die bees werk, is ook belangrik. Hulle hou nie van geraas nie en ook nie om hardhandig mee gewerk te word nie.”
Braithwaite sê die Brahman is die maklikste ras om mee te boer as boere dié aspekte suksesvol kan toepas.
VELDBESTUUR
Op Damview is die veld taamlik gemeng. “Ons het doringbome, soetveld en vleie. Daar is nie ’n oorheersende tipe gras nie.”
Hulle volg nie ’n spesifieke veldbestuursprogram nie aangesien hulle ’n dam het tussen die twee plase waarop hulle boer. Op die een gedeelte van die plaas word al die produksiebestuur behartig.
“Die kalfies word hier gebore en gespeen. Sodra die kalwers klaar gespeen is, word hulle na die ander plaas geneem — sowat 40 km verder. Ons kan dus nie ’n driekampstelsel hier volg nie, maar die weidingskampe word gereeld gerus.”
VOERPROGRAM
Alle teelkoeie word slegs op die veld gevoer.
“Ons winters is baie koud en ons somers is baie warm. Daarom volg ons wel ’n voerprogram in die winter, wanneer die weiding onvoldoende is.”
Braithwaite sê egter die teelkoeie vaar beter op die veld.
“As ons hulle mielies voer en later van die mielies probeer afhaal, pas hulle nie weer goed op die veld aan nie. Ons hou die mielie- en soja-oesreste eerder vir die jonger diere, soos die speenkalwers. Nou en dan sal ons hawer en koring vir die speenkalwers plant om met hul groei te help. In die winter is dit veral nodig omdat ons beeste dan sukkel om te groei en eerder daartoe geneig is om hul gewig te handhaaf pleks van om aan te sit.”
Hulle gee ook vir hul teelkoeie ’n goeie mineralelek in die winter, want die veld is steeds goed genoeg dat die koeie hul gewig deur die winter kan handhaaf en nie swaarkry nie.
PRESTASIETOETSING
“Sedert die vleisbeesgenomikaprojek (VGP) in 2015 begin het, neem ons daaraan deel. Ons het gedink dit is goed omdat ons elke jaar 50-60 bulle bemark. Hoe meer inligting dus vir die koper beskikbaar is, hoe beter. Die projek is die ideale manier om daardie inligting beskikbaar te stel. Daarom neem ons deel.”
Hulle probeer om soveel moontlik van die weegwerk op die plaas te doen — van geboortegewig tot die 200 dae-, 400 dae- en 600 dae-gewig.
“Dit is ook belangrik om die skrotumomtrek te meet omdat ons spesifiek teelbulle teel. Die grootste kriteria wanneer dit by ’n teelbul kom, is ’n goeie skrotum. As die bul nie ’n ordentlike skrotum het nie, verloor hy sy waarde.”
Hulle doen ook skanderings vir oogspieroppervlakte, ribvetdikte en marmering.
“Omdat ons in die vleismark is met ons abattoir en slaghuis, kan ons die voordeel sien. Indien hierdie aspekte van die bees goed is, lei dit tot beter snitte wat meer vleis oplewer,” sê Braithwaite.
Die toetse word by Cedara naby Howick in KwaZulu-Natal gedoen omdat dit naby aan die plaas is.
“Ek gebruik die HerdMASTER-program en dien alle uitslae van toetse wat op die plaas gedoen word, by die Brahman-beestelersgenootskap in.”
WAARNEMINGS
Braithwaite sê genomika is nie ’n vinnige oplossing nie.
“Die program is ’n langtermynproses waartydens inligting ingesamel word. Oor sowat vyf tot tien jaar, wanneer al die inligting onder oë geneem is, sal die genootskap neigings kan waarneem wat in dié tydperk plaasgevind het. Dit is nou nog te vroeg om enige sulke waarnemings te maak.”
Deur aan die VGP deel te neem, hoop Braithwaite om goeie genetiese eienskappe en bulle met goeie teelwaarde-indekse te identifiseer.
“Ons moet hierdie inligting in ons besigheid benut. Ons bulkopers by voerkrale moet ook die inligting oor die dier se groei en prestasie kan gebruik. Ons wil gevolglik bulle met uitmuntende prestasie kan identifiseer.”
Braithwaite sê hulle wil tred hou met ander beesrasse wat ook aan genomikaprojekte deelneem.
“Ons doelwit is vleis op die verbruiker se bord. Ons wil vleis met ’n beter volume en tekstuur en wat sag en smaaklik is, op ’n kostedoeltreffende wyse produseer.”